En toe verloor ek dit…

En toe verloor ek dit…

Ek het die laaste paar weke baie bekommerd geraak oor my 5-jarige. Ek praat met hom, maar hy reageer glad nie. Dis asof hy my nie hoor nie. Ek het aanvanklik voor hom gaan staan & hom in die oë gekyk voordat ek begin praat, want miskien hoor die kind werklik nie. Dit het ook geleidelik erger geraak. Eers was dit een of twee keer elke af en toe, maar dit het erger en erger geraak. “Dries” niks nie. “Dries…” steeds niks nie. Praat ek dan onduidelik? Nog ‘n keer, die keer duidelik en effe harder “DRIES” steeds niks nie. Ek gil dat die huis se dak oplig en ek voel of ek ‘n aar bars en ewe skielik hop hy en kyk vir my. “Ja Mamma?” asof niks in die wêreld hom kan steur nie terwyl ek op en af spring soos ‘n draak.

Shoes

Nou, die storie is besig om onmin in ons huis te veroorsaak, want ek dink nie altyd daaraan dat die kind my dalk nie hoor nie. As sussie wil piepie wil sy NOU piepie, dan het ek nie nog kans om te wag dat Dries moet reageer nie. Ek sal dan in die gang af hol en hier oor my skouer roep dat hy solank sy skoene moet aantrek. As ek terugkom is sy skoene tot my verbasing nog steeds nie aan sy voete nie. Regtig? Dis met moeite dat ek op my lip byt en myself herhaal, ek meen, Dries is ‘n maklike kind. Daar moet fout wees.

 

Hy sal my tog nie ignoreer nie. Of sal hy…?

 

Oor die volgende paar weke het die ding nogal aan my geknaag. “Dries, maak jou bed op.” “Dries, haal asseblief vir Mamma die messe en vurke uit.” “Dries, onthou asseblief om jou glas by die wasbak te sit.” “Dries, ek het al 3 keer gevra jy moet asseblief jou rugsak uit die bakkie gaan haal, ek wil jou kosblik inpak… jy gaan nie vandag kos in kry skool toe as jy nie jou rugsak gaan haal nie…… waar is jou rugsak?…. Jou rugsak gaan homself nie haal nie….. DRIES!”  Hoekom moet ek vuur spoeg voordat hy my hoor?

Ek sien al hoe die Oor-neus-en-keel spesialis vir my ‘n preek afsteek omdat ek nie vroeër my kind se gehoor probleem opgetel het nie. Hul gaan natuurlik niks meer vir hom kan doen nie. Ek is so ‘n slegte ma, hier sit die kind werklik met ‘n probleem en ek raas nog al die pad met hom. Hoe gaan ek dit verduidelik? Ek moet meer oplet na my kinders! Tot eendag…

 

Terwyl ek oor die naweek besig is om my dogtertjie se nes van ‘n klerekas uit te sorteer hoor ek hoe my man vir Dries vra om ‘n bietjie sy kamer op te ruim – ‘n mens kan nie eens meer die mat onder alles sien wat daar rondgestrooi lê nie! My dogtertjie spring ewe bereidwillig op om te gaan help – sy was vir ‘n verandering in ‘n besonderse goeie bui. Nou luister ek die spulletjie af en dis hoe dit afgespeel het:

Alta: “Kom Dries, kom ons tel jou goedjies op.”

STILTE

Alta: “Kom nou Dries.”

STILTE

Alta: “Dries hoekom lê jy jou bed? Voel jy nie lekker nie?”

Dries: “Ek makeer niks nie.”

Alta: “Kom ek help jou.”

Dries: “Nee.”

Alta: “Hoekom?”

Dries: “Want ek wil nie.”

Alta: “Pappa gaan jou goedjies weggooi Dries!”

(Ons dreig altyd om dit wat op die grond agterbly weg te gooi. Dit het eens op ‘n tyd gewerk.)

Dries: “Ag hy sal nie. Ek wil nie nou opruim nie.”

 

Regtig? REGTIG?? Net daar toe kry ek my lightbulb moment  en ek verloor dit! Hy ignoreer ons sowaar nog al die pad! Hoe het ek dit gemis? Ek het dit totaal en al verloor en hom die swaarste denkbare straf gegee: hy mag nie TV kyk voordat sy kamer nie volgens my standaarde opgeruim is nie. Toe kon hy ewe skielik baie mooi hoor!

 

As tweejarige het hy ‘n kyk gehad wat boekdele gespreek het. Ek moes dit seker net gewoond geraak het, want nou dat ek daaraan dink is dít die kyk wat hy kry as hy my kammakastig nie hoor nie. Die klein stront! En hier voel ek al vir weke skuldig omdat hy moontlik werklik ‘n probleem het! Dit wys jou net! Jou arme goed gemanierde bloedjie weet presies hoe om jou te manipuleer!

Dries se look

Gelukkig is hy nie die enigste een wat iemand om die bos kan lei nie. Alhoewel hy as klein seuntjie (hy is eintlik nog steeds klein…) nie regtig fiemies gehad het nie, het hy onlangs in ‘n redelike kieskeurige eter verander. Daarom moes ek aan innoverende maniere dink om voedsame, gesonde kos in sy lyf te kry. Dit het daartoe bygedra dat voedselkleursel en ‘n spuitsak twee van my gunsteling items in die kombuis geword het.

 

Wanneer ek kapokaartappels maak werk ek blomkool daarby in. ‘n Mens kom dit nie eens agter nie. Ander kere werk ek broccoli in, maar dan moet ek bietjie meer kreatief wees. Voedselkleursel kom dan baie handig te pas! Kleur die kapokaartappels groen, plaas dit in ‘n spuitsak en teken ‘n prentjie. Ek het ‘n boom gemaak – die broccoli / aartappel gedoente was die blare en ‘n stukkie boerewors die stam. Ek het sommer wortels en beet ook by die prentjie ingewerk.

Boom

Nog iets wat goed werk is om fyngekapte kool, spinasie of selfs murgpampoentjies by maalvleis in te werk. Terwyl hul aan die kos smul kan jy gerus wees dat dit darem ‘n bietjie ekstra vitamiene bevat.

 

Ek verloor dit nogsteeds op ‘n gereelde basis, maar ten minste weet ek dat dit normaal is!

3 thoughts on “En toe verloor ek dit…

  1. Hehehe…Dries is slimmer as julle dink😄
    Hoop maar die kieskeurige etery word nie hier ‘n ding nie! Broccoli, spinasie…alles word geeët in hul natuurlike vorm! Jys ‘n wonderlike mamma, om soveel moeite te doen, WOW, ek haal my hoed vir jou af!!

  2. Ek is verlig om te hoor dat dit nie net in my huis is waar die 5-jarige nie meer hoor nie! By ons is dit nog ‘n dromer ook, so die kere wat sy wel luister, word die aandag nog so maklik langs die pad gesteel ook… maar so maak ons kinders ook van ons beter mense, nê? Geduld, o geduld!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui