Oor Regtig

Oor Regtig

Soms voel ‘n mens oorweldig; jy wonder of dit die moeite werd sal wees om jou kind te verkoop. Ek meen, dan kry jy ten minste iets vir jou moeite? En terwyl jy nog die prys so in jou kop sit en uitwerk gryp ‘n klein stel armpies jou hier om die knieg vas en sê “Lief jou Mamma!” en jou hart smelt onmiddelik! Maar dit bly oorweldigend…

 

Almal het raad en almal het opinies, doen dit, doen dat, doen dit sus en doen dit so. Jy sien op sosiale media hoe reenboog spaghetti en “fluffy slime” gemaak word en dink by jouself “Regtig???”. Want al wat jy wil doen is om kop bo water te hou;  tussendeur die kos maak wil boetie help en jy moet net keer dat jou klein Masterchef nie sy vingers met jou vlymskerp mes afsny nie. Intussen het sussie besluit die kat moet kom help om die melk wat sy op die tafel gemors het op te lek. En aandete verander in ‘n oogwink in ‘n ramp! Jy soek net na iets wat realisties is en werk!

 

As jy so ‘n ma soos ek is, is Regtig! die plek vir jou!! Ek wil jul wys hoe om effektief in die kombuis te funksioneer saam met jou kinders op ‘n manier wat werk . Regtig werk, want ek het dit beproef.  En glo my, as ek dit kan doen, KAN jy! Soms raak ek die pad byster, maar ek bid voordurend vir moed en geduld. En op ‘n wonderbaarlike manier lyk dit of ek dit regkry. Regtig!

 

Stap die pad saam met my en doen en leer dinge wat regtig werk, want om kos saam met jou kinders te maak is eintlik regtig lekker!