Al wat ek vir moedersdag wil hê…

Al wat ek vir moedersdag wil hê…

My kop is só seer, ek is seker dat hy op enige oomblik kan bars. Met moeite en baie konsentrasie kry ek dit reg om die bakkie op die pad te hou nadat ek die kinders by die skool opgetel het. “Mamma ek wil bestuur?” Ag, net nie vandag nie. Hoekom het ek die lat vir myself gepluk om my kind op my skoot te laat sit en bestuur wanneer ons op die grondpad draai? Die wit grondpad laat my oë sommer brand. Ek is seker ek slaan kolle uit – maak oop die vensters. Nee wag, die wind is koud, more is almal weer siek. Maak maar weer toe. Ek is nie ‘n migrane lyer nie, maar ek dink dis hoe een voel. Ai, ek is beslis ‘n wintermens, maar waardeer nou regtig nie die verkoues wat daarmee gepaard gaan nie!

 

“Mamma, ons maak ‘n verrassing vir julle by die skool!” Urg, nou moet ek geïnteresseerd klink. “Ja, want weet Mamma wat? Juffrou sê dis Sondag Moedersdag! Maar ons mag nie sê wat ons maak nie en……    want Mamma weet mos …… en ….. dis amper soos …… en dan ……. en ek gaan …… né Mamma?” Waaroor babbel die kind? O ja, Moedersdag. Shame, hy wil so graag vertel wat hul by die skool maak, maar durf nie uiter wat dit is nie. Dis nou kamma-kamma ‘n geheim. Intussentyd lê die oulike projekkies van hulle oop en bloot by die skool soos daar aan dit gewerk word. Hulle maak elke jaar baie oulike moedersdag geskenkies. Ek hou my maar dom. Wat einlik heerlik sou wees is ‘n dag by ‘n spa, maar die naaste wat ek daaraan kom is wanneer die stoom van die skottelgoedwasser my in die gesig slaan nadat ek hom oopgemaak het! ‘n Skoon huis en ‘n nag se ononderbroke slaap sal ook ‘n goeie geskenk wees, maar waar in die lewe sal dit nou gebeur? Ek was nou die dag in die winkel en duidelik dink die mense daar ook dat ‘n skoon huis die ideale Moedersdag geskenk sal wees. Ek is nog nie seker hoe ek oor hierdie promosie voel nie…

Skoonmaak premosie

By die huis gekom hol ek vir die spaarkamer. “Mamma mag ons maar…..” Ja, ja ja. Doen net wat julle lus kry. Gee my net ‘n halfuur om oor hierdie gevoel te kom asseblief tog!? Ek gaan dit seker nog berou, maar my kop is nou te seer om aan die nagevolge van my antwoord te dink! Ek kies die spaarkamer wat ons die minste gebruik (ons het 2) sodat die kinders my nie sal kry nie. Om agterdog te vermy trek ek ook nie eens die deur toe nie. Eintlik behoort ek nog onder die bed of in die kas ook te gaan lê. Net ingeval. In ons huis is “gee my net ‘n oomblik” mos kode woord vir “Moet haar nie vir een oomblik uit jou kloue loslaat nie!”

 

Dis ook nie 100 jaar nie. “Mamma?… Maaaam-maaaaaa! Wat doen jy hier?” Ai, as ek die dag vermis raak kan jy maar gerus wees. Laat net my kinders los, hul sal my kry waar ek ookal wegkruip. “my neus loop” Regtig? REGTIG!! VEE HOM AF!! Maar dis mos iets wat ‘n kind nie self kan doen nie. Ek lig my kop met moeite op en soek na ‘n tissue in my sak, kyk op en sowaar. Daar staan altwee sonder skoene, sonder baadjies met kortbroeke en kortmou hemde – verfstreep oor die gesig en nat kolle op die klere. Ek kon dit geraai het. Met elke geleentheid wat hul kry wil hul mos verf. Nou moet ek maar opstaan en gaan kyk.

 

Hulle het sowaar op die koue teëls gaan sit en verf! Ek dink ek moet bly wees; hulle kon die mat gekies het… Maar dis nie die verwery wat my onstel nie – Crazy Store se waterverf was darem maklik af – dis die kaal voete en koue lyfies! Alhoewel ek ‘n koue huis het probeer ek bedags my vensters oopmaak ter wille van ventilasie. Ek weet nie hoeveel waarheid daar in is nie, maar dit voel vir my as ek die vensters toe los dan versprei winter-kieme makliker, ek glo dat vars lug ons gesond hou. Maar juis ook omdat ek dit doen is ek baie streng op langmoue en skoene – al is dit net plakkies! En moes hulle nou op die koue teëls loop sit? Daar is ‘n tafel en stoele wat niks maker nie!

 

Ai, dis ‘n alewige stryd om hulle gesond te hou. Wat meer kan ek doen? Daar is juis ‘n paar siekerige kinders by die skool ook en ek probeer my bes om die immuunstelseltjies sterk te hou ten spyte van hulle konstante pogings om dit so gou as moontlik af te breek. Ek gee elke oggend hulle Jungle Vites en wurg Sportron se Infaguard in hul kele af. Die goed is ongelooflik sleg, maar ek glo vas daarin! Ek het al van Colban ook gehoor, maar het dit nog nooit self gebruik nie – dit is blykbaar by apteke beskikbaar. Volgens ‘n promosionele artikel in die Baba & Kleuter is Colban klinies beproef om die oorsaak, duur, simptome en hewigheid van virale infeksies te verminder.

Maar hul dieet speel ook tog ‘n rol. Eerstens water water water. Niks wat jou kind drink kan gesonder as water wees nie. My kinders was nog net 3 maande oud toe stop my ma al ‘n bottel water vir hulle in. Op daardie stadium was ek boos! Maar vandag is ek bly daaroor – beide my kinders is lief vir water. Hul sal steeds vir koeldrank vra, maar weet ook dat vir elke glas koeldrank wat hul wil hê hul eers ‘n glas water moet drink. Gesonde kosse verhoog ook die immuunstelsel. Stapelvoedsels waarop ons behoort te konsentreer is groen, oranje en geel groentesoorte soos broccoli, wortels en botterskorsie. Dis nou goed en wel om hierdie dinge te skryf, maar hoe op deesaarde kry ek dit in my kinders se lywe? Daar is nie ‘n regte antwoord nie. Aanhouer sal seker eventueel wen. Daar word gesê dat as jy jou baba van ‘n vroeë ouderdom af aan ‘n verskeidenheid kosse blootstel hul minder fiemies sal hê. Ek kan in alle eerlikheid sê dat dit onwaar is. Ek het nooit vir my oudste as baba lekkers gegee nie. Hy het gesmul aan wortels, komkommers, sampioene, tamaties. Jy noem dit. Deesdae trek hy sy neus vir alles behalwe ‘n Bovril toebroodjie op.  Soos ek al voorheen geskryf het werk ek graag fyngekapte kool, spinasie, murgpampoentjies of wortels in my maalvleis geregte in sodat hy darem nie besef hy eet dit nie. Maar ‘n mens kan ook nou nie elke dag maalvleis eet nie, of hoe?

 

Ek het deur my hope en hope Baba & Kleuters gaan grou opsoek na hulp en op ‘n hele paar oulike resepte afgekom. Oor die volgende paar weke sal ek dit alles toets en dan oplaai soos wat ek kan. Want wat ek regtig egtig vir Moedersdag, en sommer die hele winter deur, wil hê is ‘n gesonde gesin!

 

Ek skop af met Hoender en Broccoli met Kaas. Dit is heerlik en sal sommer ook werk vir daardie spesiale Moedersdag ete wat jy in elkgeval self moet voorberei. Die resep lewer slegs 1 – 2 porsies en is dus maklik om vooraf voor te berei en te vries vir opkomende kosblikke. Vermeerder dit gerus vir die hele gesin.

Hoender en Broccoli met Kaas

Bestanddele

  • 140ml hoë energie kaassous
  • 50g vars broccoli-florette – siestog, my kinders was nie opgetrek met my growwe stukk nie. Sny dit maar redelik klein.
  • 50g gaar hoender

 

Hoë energie kaassous

  • 250ml Infacare Gold 3 (dit bevat Omega 3, Nukleotiede, vitamiene en minerale)
  • 25g margarine
  • 25g mielieblom
  • 50g harde kaas, gerasper

 

Hoe om die kaassous te maak.

As jy nie Infacare Gold 3 in die huis het nie werk ‘n gewone witsous net so goed. Moet nou nie jou kop breek nie; ‘n resep is immers net ‘n riglyn. Hierdie is ter wille van die immuunstelsel wat versterk moet word.

  • Smelt die margarine in ‘n pan en voeg daarna die mielieblom by.
  • Verwyder van die hitte en roer die Infacare Gold 3 stadig by met ‘n houtlepel. (Of die eerste skoon lepel wat jy raakgevat kry in my geval)
  • Sit weer op die stoof teen ‘n medium hitte en klits die hele tyd totdat die mengsel verdit.
  • Roer die gerasperde kaas by.

 

Metode

  • Kook of stoom die broccoli vir 5 minute lank tot gaar. Dreineer.
  • Sny die hoerder en broccoli in stukke
  • Roer die kaassous by en bedien.

 

Geniet Moedersdag!

One thought on “Al wat ek vir moedersdag wil hê…

  1. Jy moet Mannabears kry.. die goed is fantasties vir immuniteit en nog ander goed en dis basically gummybears. SWEETS!! 😀
    Google biki, ekt nou nie al die info nie.
    PS: Love jou blog!!!! ♡♡♡

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui