Die terreur van n tweejarige

Die terreur van n tweejarige

Kinders, veral tweejariges, is geneig om die slegste in ‘n mens uit te bring… Hulle toets jou. ELKE. LIEWE. DAG. Nie net jou grense nie, maar ook jou geduld, jou geestelike welstand, jou huwelik, jou fisiese krag, jou woordeskat, jou vermoë om koue koffie af te wurg, het ek nodig om aan te gaan? Hulle toets elke liewe ding in en om jou lewe wat getoets kán word en dan vat hulle dit so ‘n entjie verder en toets die res ook! Dus kan  geen ouer van ‘n tweejarige verantwoordelik gehou word vir hul aksies nie!

Toddelr definition

Dit het my vandag 45 flippen minute geneem om ‘n paspoort foto van my tweejarige te neem. Nie 45 gewone minute nie., maar 45 uitmergelende, aaklige, uitdagende flippen minute! ‘n Mens probeer jou koel hou, maar dis asof sy dink ek wil die kamera vir haar voer! Sy hoef nie eens te glimlag nie; die enigste vereiste is dat sy nie op my skouer moet lê nie en om in die kamera se rigting te kyk. Gewoonlik is dit nie ‘n probleem nie, maar o nee! Nie vandag nie! Sy het so ‘n bohaai opgeskop dat die een helfte van die apteek se personeel omtrent ontplof het en die ander helfte probeer help het. Van die wal af in die sloot. Sien, my kind reageer oor die algemeen soos ‘n tipiese tweejarige. En verder is sy nie te ontvanklik teenoor vreemdelinge nie, dus het sy net harder gegil elke keer wat iemand aan haar been kom vat en vra “Wat is fout jong?” of “Soek die meisie ‘n suigstokkie?” Ek weet hulle probeer help, maar op ‘n stadium wou ek skree “NEE! Sy soek NIE ‘n suigstokkie NIE! Loop nou!” Maar dan het die apteek twee tweejariges gehad in plaas van een. Ek was sommer uitgeput.

Text

Dis asof ‘n tweejarige se hele bestaan rondom een enkele vraag roteer. “Het ek self hierdie besluit geneem?” Indien die antwoord ja is  gaan hul voort sonder om ‘n geluid te uiter. Byvoorbeeld: “Het ek self besluit dat die tamaties in Mamma se tuin die ideale bestandeel vir modderkoekies is?” Ja! Daarom gaan sy in stilte voort en pluk elke laaste tamatie, ryp of nie, en bak vir ‘n hele halfuur in stilte modderkoekies. Nou hoeveel skade kon sy in ‘n halfuur aanrig sal jy vra, maar onthou dat ‘n kleuter sonder toesig meer in 10 minute kan uitrig as wat die meeste mense in ‘n dag kan doen!

Modder koekies

 

Maar as die antwoord nee is. Wel, dan neem dit 45 minute om ‘n paspoortfoto te neem. Let asseblief op hoe die rooi kolle op haar gesig uitgeslaan het – dit lyk of sy gemartel is. Ek twyfel sterk of die foto aanvaarbaar is…

Alta id

En as sy besluit sy is Mamma se baba dan is dit hoe dit is. Een baie laat aand, nadat sy UITEINDELIK haar nagklere aan het klou sy aan my soos ‘n nagapie. Ek wil asseblief net die badkamer gebruik. 1  minuut is al wat ek vra? Haar pa skil haar van my af en ek hol vir die badkamer. Sy het so ‘n vreeslike bohaai opgeskop dat ek uit pure frustrasie – voordat ek kon dink – vir haar roep “Ja Alta, ek kom! Hou net jou panty aan!!” En onmiddelik het ek dit berou. Sy het verskrik stilgebly, ‘n oomblik daaroor nagedink en geantwoord: “Maar ek het nie ‘n panty aan nie.” Natuurlik wou my 5 jarige ook weet hoekom ek nou so sou sê. Kon ek nie maar net stilgebly het nie?

 

Daar word gesê dat die manier waarop jy met jou kind praat hul “inner voice” word. Ek hoop van harte dat dit eers begin wanneer kinders oor hierdie stadium is. Ek weet regtig nie meer nie. Mooi praat werk doodeenvoudig net nie. Maar om te raas, gil, saam te huil, ignoreer of te voeter ook nie. Niks werk nie! Ek wil my hare uit my kop uit trek! Is dit regtig net ‘n fase of is my kind maar net ‘n ongeskikte klein brokkie?

 

Maar dan kyk ek na my 5 jarige en besef dat hy ook so was. ‘n Mens onthou dit nie, want die slegte tye raak vergete en die goeie tye bly behoue. Hulle toets jou grense, omdat hulle nie weet wat aanvaarbaar is en wat nie en dit is ons plig as ouers om daardie  grense duidelik te stel en ferm daarby te staan. Dis nou nadat jy en manlief ‘n hewige argument gehad het oor presies waar daardie grense is. Hulle sal wel agterkom dat die grense nie verskuif sal word nie en leer om binne daardie perke op te tree.

 

Ek hoef seker nie aanmekaar vir haar te vertel hoe stout sy is nie – alhoewel ek voor my heilige siel weet dat dit sommer pleinweg stout is! As ek aanhou om dit vir haar te vertel gaan sy dit as die norm aanvaar en stout bly. So moeilik soos dit ook mag wees behoort ek te reageer met “Nee, jy kan nie self tee maak nie, want die ketel gaan jou brand en dan gaan jy seerkry.” In plaas van “Moet jy so stout wees? Ek het mos gesê jy kan nie self tee maak nie! Want ek sê so!” En as ons elke aand aan tafel eet besef sy wel dat dit is hoe dit gedoen word en gaan naderhand so ver as om tafel te help dek. Wonderwerke bestaan tog.

 

Maar om hulle sover te kry om die maaltyd te eet is ‘n grens op sy eie wat verskuif moet word. Die geheim is dat jy jou kind soos jou man moet hanteer. Laat hom dink dat dit sy idee was! Spaghetti nessies werk soos ‘n bom! Dis eenvoudige frikkadelle op ‘n hopie spaghetti. Die geheim is egter dat daar meer spaghetti as vleis moet wees en net-net min genoeg sous om genoeg te wees. Te veel sous laat die hele kombuis in chaos. Dus moet jy hier baie initiatief gebruik. Wanneer ek frikkadelle maak gooi ek by wat ek eerste in die hande kry en wat die kinders op daardie stadium geniet. Laat hulle help met die voorbereiding, om een of ander onverklaarbare rede geniet beide my kinders daardie grillerige gevoel van pap maalvleis deur hul vingers…

 

Hier is ‘n basiese resep wat ek uit my gunsteling resepteboek “Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur2” gekry het, maar voel vry om gekapte kool of spinasie, oats, tamatiesous of net waarvoor jy lus kry ook in te werk:

Spaghetti nessies 1

Spaghetti nessies:

Bestandele:

1kg beesmaalvleis

1 ui, skelmpies baie baie fyn gekap

½ t sout

peper na smaak

1t braaivleisspeserye

1 ½ t asyn

1 ½ t Worcestershiresous

knypie gemaalde kruienaeltjies (koljander werk ook)

½ k blatjang

3 snye vars brood, sonder korsies

1 eier

 

Metode:

Stel die oond op 180°C.

Meng alles behalwe brood en eier.

Week brood in bietjie water. Druk water met hand uit en voeg by maalvleis.

Voeg eier by en meng deeglik.

Vorm balletjies. Plaas in gesmeerde oondbak en bak vir 35 minute of braai tot bruin in bietjie olie.

 

Vir die voëltjies se bekkies het ek stukkies wortel gebruik en vir hul ogies stukkies feta kaas.

Spaghetti nessies

Sterkte en hou moed. Nadat jy die terreur van jou tweejarige oorleef het kom die volgende fase met sy eie uitdagings en vreugdes!

3 thoughts on “Die terreur van n tweejarige

  1. Net gistraand dink ek dat ek nie n baie goeie ouer is nie en dat ek iets moet verkeer gedoen dat my dogtertjie wat oor twee weke 2 word so vreeslik tantrum en skree oor als. Sy maak eenvoudig of ons nie bestaan nie, so goed ek praat met die dak.

    Ek het nou so lekker gelag omdat my kind presies dieselfde is en optree.

    Baie dankie, voel nou baie beter om te weet dat almal so optree…..

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui