Wanneer jou koeëls op raak

Wanneer jou koeëls op raak

Terwyl ons gedurende die week sit & huiswerk doen kerm en kla my Gr. 1 kind vreeslik oor die moeilike huiswerk. Hy moet die “s” klankie uitskryf en dit is nou vir hom ‘n vreeslike groot straf. Ek wil vir hom sê dat hy nodig het om dit uit te skryf, want behalwe vir die feit dat hy soos ‘n krap skryf is die goed nog driekwart van die bladsy in spieëlbeeld geskryf ook! Dus het hy regtig die oefening nodig. Maar ek kan nou seker nie so krities wees nie. Nou probeer ek maar my geduldigste gesig opsit en hom motiveer. “As jy slim wil word moet jy oefen jong!” en ek weet nie wat nog alles nie. Elke keer vertel hy net van voor af hoe moeilik dit is – let wel verlede jaar het hy dit sonder moeite gedoen, maar nou dat dit verpligtend is, is dit skielik ‘n probleem! Einde ten laaste kom die woorde wat my ma altyd gesê het op: “Kom nou, jy sal dit nog regkry! Aanhou probeer is die beste geweer!” Ha! Wat sê die klein snip toe vir my met ‘n pruil mond? “Hierdie geweer se koeëls is nou op!”

Ek weet nie of ek moet lag of moet huil nie? Hoeveel keer was mý koeëls nie al op nie? Elke keer wat ek moet soebat en smeek en raas en baklei; oor huiswerk, oor badtyd, oor vuil voete op my pas gemopte vloer. Elke keer wat die wasgoedmandjie (ALWEER) oorloop of die asblik (ALWEER) nie uitgegooi is nie. Elke keer wat ek die kombuis binnekom en nóg ‘n berg skottelgoed sien en elke keer wat ek ‘n onaangeraakte kosblik uit ‘n tas haal. Elke keer wat ek wag dat aandete bedien moet word en dan met teleurstelling besef dat ék die swaap is wat dit moet maak – net sodat ten minste een lid van die gesin (gewoonlik my wysneus seuntjie) sy neus daarvoor optrek. So weet jy wat, mý koeëls is ook nou op!

Dis sulke dae wat ek lus kry om weg te loop. Weg te loop na ‘n plek waar ek net ‘n oomblik lank genoeg stilte kan kry om te wonder hoe swaar my hond is vir daardie medisyne wat ek behoort te koop. ‘n Plek waar ek alleen kan piepie en waar ek nie hoef te ontdek hoe ‘n hele pak papier gebruik is om die verkeerde kant van ‘n boek af te rol nie.

‘n Plek waar ek na mý musiek kan luister terwyl ek bestuur en nie “ek sien met my kleine ogies” speel nie. Ek wil die radio kan sagter stel om te sien waar ek wil parkeer sonder om myself te verduidelik of sonder dat daar ‘n gegil is omdat Jakkals en Wolf of Dapper Muis onderbreek is. (Dat ek nog nooit in ‘n ongeluk betrokke was daaroor nie is ‘n absolute wonderwerk!) Gepraat van my bakkie; ek is moeg daarvoor om “nixnax” onder my sitplek te kry en vandat my seuntjie leer bestuur het is hy ‘n regte backseat driver! As ons laat is vir skool sál ek oor die oranje lig ry en ek sal níe aan ‘n 6-jarige om verskoning vra daarvoor nie! En as ek aan die dak klop wanneer ek oor die oranje lig ry is dit mý saak, nie syne nie.  

Ek wil nie noodgedwonge notas met ‘n vetkryt of inkleurpotlood maak omdat my pen alweer voete gekry het nie. Ek is moeg vir vingermerke op die TV en die onverklaarbare items onder die bank.

Ek smag ook na ‘n warm koppie koffie en enige ander boek as “Ouma eend se klein helpertjies.”

Klei in die matte, verf op my vloere en flitskaarte van sigwoorde wat die vlaktes vol lê dra ook daartoe by dat my magasyn leeg loop…

Die volgende paar dae is ek sommer nukkerig. Gelukkig is daar dinge wat ‘n mens laat herlaai ook. Ongelukkig sal dit nou nooit ‘n naweek by ‘n spa wees nie – ek moet maar gelukkig wees met die skottelgoedwasser se stoom. Dis die naaste wat ek ooit aan ‘n spa sal kom!

Vroegoggend (maar verkieslik láter in die oggend) soentjies en drukkies.

Die dag wanneer my dogtertjie vra ek moet strikkies in haar haartjies sit – gewoonlik mag ek dit nie eers kam nie!

‘n Geskenkie met ‘n briefie – al kom die geskenk uit jou spens uit!

‘n Valentynsdag geskenkie wat met sy snoepie geld gekoop is.

Wanneer sy juffrou vir jou sê dat hy baie pligsgetrou in die klas is (ek wonder of sy besef watter een mý kind is?)

Wanneer jy ‘n leë bord na ‘n baie eenvoudige maaltyd afdek en jou kind vir jou sê “Baie baie dankie, die kos was BAIE lekker en meer spesiaal as ENIGE ander kos wat Mamma al óóit gemaak het!”

Soms is eenvoud werklik die antwoord. Ek hoop jy kry iets wat jou herlaai wanneer jou koeëls opraak.

One thought on “Wanneer jou koeëls op raak

  1. Daardie drukkies en soentjies is die beste! Dit laat my sommer skuldig voel, omdat ek soms so kwaai is!!
    Ek het gelees dat kinders stouter is by hulle ma, as by ander, so moenie verras wees as hy eintlik baie voorbeeldig by die skool is nie. Dit getuig van sy goeie opvoeding tuis!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui