
Tem jou inner-draak
Ek skrik my in ‘n ander bloedgroep in toe die foon in donker nag nog lui. Ek probeer my uiterste bes om wakker te klink, maar weet nie wie ek probeer flous nie, want wie is nou regtig wakker so skuins voor 5 in die oggend? Dis my seuntjie se saamry geleentheid – hul voertuig het gebreek en wil weet of ek hul asseblief vandag sal kan gaan optel vir skool. Ja, natuurlik! Ek sal 6 uur daar wees. Ek wriemel my uit die kloue van my 3 jarige wat dwars tussen my en my man lê, vlieg op met die spoed van wit lig en breek boonop nog amper my nek oor die 7 pare skoene en 4 poppe wat om my bed gestrooi lê. Urgh, al my semi-behoorlike dorp-toe-gaan-klere is óf vuil óf nog nie gestryk nie. Dalk kan ek ‘n hemp uit die was aantrek, wie gaan weet? Ek pluk gister se hemp oor my kop en terwyl ek my boskaas probeer tem besef ek dat die hemp van my heeltemal te na aan my man se skaapkraal kouse in die wasgoedmandjie gelê het. Ek sal moet stryk, maar eers moet ek die kinders wakker kry en dis nie ‘n grap nie!
Daar is nie tyd om die berg speelgoed op te skuif en langs hom te gaan sit met ‘n sagte “Dries, my skattebol, jy moet wakker word” nie. Hy moet maar sy weg oop veg terwyl ek eers ‘n skoon skoolhemp ook stryk. Wie het nou ingelkgeval besluit dat wit ‘n goeie kleur is vir skoolhempde? Ek gaan my nog dood was aan die goed! Hoekom het ek nie gisteraand al die hoop klere begin stryk nie? O ja, want nadat ek die stryd teen die speelgoed gewonne gegee het, het ek saam met die kinders aan die slaap geraak! Ag, ek voel so deurmekaar wanneer dit gebeur! En skielik tref dit my – die kosblikke is nog nie gepak nie!
Ek strompel oor alles wat orals in die pad lê terwyl ek eintlik nogal veilig voel. Ek meen, geen inbreker sal dit hier waag nie – dit is doodeenvoudig net té deurmekaar! Daar is nou regtig nie tyd om iets ouliks te probeer uitdink nie, die kinders eet dit inelkgeval nie. Marmite broodjies sal dit vandag wees. Nou moet ek net ‘n skoon kosblik iewers kry. As ek net nie heeldag moes soebat en smeek dat die kinders moet help om hul speelgoed op te ruim nie, sal ek ook kans kry om ‘n slag die oneindige hoop skottelgoed te was…

Dit voel net vir my of ek nie wen nie. Nooit nie. Die plek is altyd deurmekaar en wanneer ek vra dat die kinders moet help opruim is dit ‘n gekerm & gekla en wanneer ek hoor “maar ek weet nie hoe nie” of “dit was nie ek wat dit daar gegooi het nie” dan wil ek blouaap-stuipe kry! Die nuutste vanuit my dogtertjie se mond toe sy gister oor iets struikel was “Sien jy Mamma, dis hoekom dit nie hier op die vloer hoort nie!” Ek was lus en draai haar nek kort duskant haar stuitjie om, want ek het baie beslis nie al wat ‘n speelding, skoen of kledingstuk is die vlak vol gegooi nie! En ek het regtig ook nie elke liewe skoon glas in die huis vol pienkmelk gegooi en halfvol iewers laat staan nie! Dis genoeg om my tot waansin te dryf! Hoekom kan ‘n kind nie net help opruim nie? Ek meen, 90% van alles wat rondlê hoort tog in hul kamers! Daar is selfs kratte wat gemerk is met watter speelgoed waar hoort om sodoende die opruim proses vir hulle maklik en lekker te maak. Gebasseer op die hoeveelheid speelgoed en vuil klere in die huis het ek al begin wonder of daar die dalk kinders in die huishouding is waarvan ek nie bewus is nie? Waar kom alles vandaan?!
Ek het al bevind dat dit help as ek instruksies gee bv. “Gooi al die Lego blokkies in hierdie bak” of “pak al die puzzles in daardie laai.” Maar regtig? Moet ek nou heeldag agter hulle staan? So asof ek nie werk het nie? Soos byvoorbeeld daardie strykwerk en skottelgoed… Ek verander natuurlik kort voor lank in ‘n draak, die kinders raak paniekerig en begin huil en dan verloor ek dit net nog ‘n bietjie verder. Voor jy weet het die hele spul so handuit geruk dat selfs die welsyn dit nie eens naby ons wil waag om die situasie te beredde nie. Dit kan doodeenvoudig net nie so aangaan nie…
In my soeke na ‘n manier om die daaglikse nare ervaring in saamwerk sessies te probeer verander lees ek dat ‘n visuele warboel die een of ander stress hormoon genaamd cortisol vrystel. Met ander woorde, ek is toe nie van lootjie getik toe ek gedink het dat die deurmekaar huis my angstig en humeurig maak nie. En die kinders was toe al die pad nie net stout toe hulle gesê het dat hulle nie weet hoe om te help regpak nie – hulle weet regtig nie waar om te begin nie! Dit is net té veel. Nou hoe nou gemaak?
‘n Vriendin het my al vertel dat sy haar dogtertjie se speelgoed roteer het – dit herinner my, daar is ‘n boks vol speelgoed wat ek ‘n geruime tydjie terug bo in die kas weggesteek het. Ek het al vergeet dat ek die rotasie ding eens gedoen het. Die idee is dat net sommige speelgoed beskikbaar is om mee te speel en sommiges weggebêre word. Na ‘n tydperk, kom ons sê ses maande, word die speelgoed geroteer. Dit sal beteken dat die kind deurgaans “nuwe” speelgoed het en nie verveeld raak met wat in sy kamer is nie. Dit gee die kind ook geleentheid om werklik met ‘n ding te speel, eerder as hier-vat-en-daar-los tipe spel. Dit beteken ook dat die opruim proses veel makliker en gevolglik vinniger is. Rotasie van speelgoed werk baie goed, ek moet die boks speelgoed net wegsteek terwyl die kinders nie tuis is nie. Anders onthou hul van iets daarin en gaan haal dit uit wat net van voor af tot ‘n deurmekaarspul lei.

Verder het sy ook haar dogtertjie van kleins af geleer om uit te deel. Wanneer sy te oud geraak het vir ‘n spesifieke speelding het sy haar geleer om dit aan behoeftige kinders te gee. Hulle het jaarliks ‘n pakkie gemaak met speelgoed wat dan weggegee is – hetsy aan vriende met kleinder kindertjies, of behoeftiges in die gemeenskap. Dit is vir my so mooi en ek probeer om my kinders ook so te leer. My 6 jarige begin dit verstaan, maar op hierdie stadium moet ek nog my 3 jarige se ongebruikte speelgoed uit die huis uit smokkel. Dit is sulke tye wat ek myself voorneem om alle toekomstige verjaarsdae te kanselleer sodat daar nooit ooit weer ‘n nuwe speelding in ons huis sal voorkom nie!
Ek probeer regtig hierdie tegnieke toepas. Soms werk dit en sommige tye kom die draak in my steeds uit – gewoonlik hier teen ‘n Donderdag, wanneer die einde van die week in sig is en ek nie meer soveel dissipline het soos op ‘n Maandag nie. Ek wonder of ander huise ook soms ‘n visuele warboel is en of ander ma’s ook hul hare uit hul koppe wil trek…
‘n Mamma wat altyd lyk of sy haar dinge bymekaar het, het vir my haar soetkoekie resep aangestuur. Dit lyk of sy en haar 3 jarige, Lisa, die grootste pret het terwyl hul in die kombuis werk. Dalk moet ek my draak op hok hou en bietjie van Lisa se soetkoekies bak:
Bestanddele:
875 ml suiker
500 g botter
4 eiers
8x 250ml meel
30ml bakpoeier
5ml sout
Metode:
Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
Room suiker en botter
Voeg eiers een vir een by en meng goed.
Sif die droë bestanddele en meng met bogenoemde.
Rol uit, druk af en bak tot strooikleurig.
One thought on “Tem jou inner-draak”
Ek kan net dink hoe dit voel met twee kinders wat omkrap, my net een mensie kan erge verwoesting saai!! As ek vir ‘n slag tyd en lus kry om als mooi reg te pak en op hul plekke te sit, voel ek sommer lekker! Net om ‘n dag later met my moed in my skoene te sak as dit net weer so deurmekaar is soos voorheen!! Ek voel jou pyn…my geduld is ook soms te min!! Ek weet darem jy is nie ‘n regte draak nie😉 dankie vir jou eerlike gevoelens, beteken die wêreld vir ons ander mammas!!