Graad 1

Graad 1

Die skool het verlede week begin en ons was so ongelooflik opgewonde vir Graad 1! Die aand voor die tyd is die skoolklere reggesit, kosblik gepak en tas is gepak. Ons het gebad, hare gewas en het sukkel-sukkel vroeg in die bed geklim, want die opgewondenheid was net te groot. Die volgende oggend was ons vroeg op en kon net nie vinnig genoeg by die deur uit nie! Oppad skool toe besef ek dat daar ‘n ongemaklike groot knop in my keel sit wat ek net nie weggesluk kry nie. My klein vreugdevolle seuntjie gaan al Gr. 1 toe. By die skool sien ek dat hy ook onseker begin raak – daar is soveel vreemde gesiggies. Dit is nie meer sy bekende kleuterskool waarin hy vir die afgelop 4 jaar was nie, nee, hierdie is nou groot skool. Sy hemp sal moet ingesteek wees en hulle sal in rye moet staan…

Ons ontmoet die nuwe juffrou en skaam beweeg hy na die aantreeblok toe die klok lui. Ons stap na die saal vir opening en ek kan net nie meer my trane keer nie. Hoekom het ek nie tissues in my handsak nie?! Ek kan nie glo ek is in die eerste plek so stupid om hier te sit en tjank nie en in die tweede plek dat ek nie eens een enkele tissue by my het nie! Maar ek het hom belowe dat ek daar sal wees tydens saal, nou kan ek ook nie eers uitloop nie, want hy gaan my soek!

Toe die Gr. 1 klassie op die verhoog geroep word staan hy daar en glimlag, maar ‘n ma kan mos die onsekerheid in haar kind se oë sien terwyl hy na haar soek. Hy gewaar my en ek kan onmiddelik sien hoe hy ontspan. Ek durf nie vir hom wys hoe seer my hart nou is nie! Dis maar ‘n klein klassie, twee seuntjies en drie dogtertjies. Ek hoop my kind gaan okay wees. Na saal opening het ek my so vinnig as moontlik uit die voete gemaak sodat niemand my mascara bevlekte wange moet sien nie. Blykbaar was ek nie die enigste een nie hoor ek later eers.  

Ai, het jy al soms na jou kind gesit en saggies gebid? Gebid sonder woorde, want jy weet nie wat om te sê nie. Hoe laat jy jou kind die wêreld in sonder om in die Here te glo? Sonder om te weet dat jou kind opgepas sal word. Hoe hanteer jy daardie brandende gevoel in jou borskas as jy nie vir jou kind kan bid nie? Soveel kere vra ek “Asseblief Here” en verder het ek nie woorde nie; ek herhaal dit net, want Hy weet.

Ek weet dat Gr. 1 vir ‘n kind vreesaanjaend is, ek is tog self daardeur en onthou presies hoe bang en skaam ek was. My man sê hy onthou niks nie en beweer dat hy maar ‘n swak geheue het, ek glo vas dis omdat dit hom so vreeslik getraumatiseer het. Wie sal weet. Niemand het egter vir my vertel hoe erg dit vir ‘n ouer is om ‘n eerste kind na Gr. 1 toe te stuur nie. Dit was vreeslik! Ek het al van mammas gehoor wat die hele eerste skooldag in die kar voor die skool se hek sit en wag. Ek het gedink dis belaglik, want regtig? Kom oor dit! Raai wat mammas? Ek was toe nou ook daardie mamma.

Teen die tyd wat die skool uitgekom het was my seuntjie vreeslik opgewonde om alles vir my te vertel. Hy kyk egter na my gesig en vra “Hoekom lyk jy so?” Ai, as jy maar net geweet het hoe erg die oggend vir my was, my kind! Maar ek weet dadelik dat die hele oggend se woordelose gebede gewerk het. Die Here het my kind vandag opgepas en hy sal hom ook elke dag hierna oppas. Al sit hy soms alleen gedurende pouse en al voel hy bang en skaam. Hy was nie alleen nie en kon ten spyte van dit alles ‘n lekker dag ervaar. ‘n Onverwagde vriendin het my vertel van ‘n pragtige gebed was sy elke dag vir haar kinders – wat nou al volwassenes is – bid. Hulle het sulke pragtige mense geword en alhoewel ek gewoonlik te tranerig is om die woorde te onthou vir my eie kinders probeer ek dit ook gereeld lees sodat daar iets daarvan vassteek wanneer ek vra “Asseblief Here…”

“Ek seën jou (my kind) met die wete dat God ‘n toekoms vir jou het. Jy behoort aan Jesus. Ek seën jou met helderheid van verstand wanneer jy dit nodig het. Ek seën jou met die geloof dat God weet wat jy nodig het, dat Hy sal voorsien. Ek seën jou met die Gees se leiding om te onderskei tussen goed en kwaad. Ek seën jou met ‘n rustige hart en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek seën jou met die vreugde wat kom van gehoorsaam wees aan God. Wees geseënd my kind, dis waarvoor God jou geskep het… om ‘n verskil te maak.”

Ek besef nou eers die belangrigheid van ‘n spesiale kosblik. Dit hoef nie fancy te wees met allerhande vormpies en snaakse goedjies soos wat ek (soms) vir my kleuters gemaak het nie. Ek het op die eerste dag ‘n ontbytpap halsnoer ingepak en dit was nou glad nie vir my kind so oulik soos verlede jaar hierdie tyd nie. Sy gunsteling broodjie (kaas in my geval) met ‘n pakkie grondboontjiebotter en 3 marshmallows het die volgende dag vir hom soveel meer beteken.

Hier is ‘n paar kosblik idees, net sodat daardie kaastoebroodjie nie te eentonig word nie:

Roomkaas & ham toebroodjie rolletjies:

Smeer ‘n snytjie brood met roomkaas en plaas ‘n snytjie ham daarop. Sny die korsies af (‘n pizza mes werk perfek hiervoor) en rol ‘n kleefplasitiek op om ‘n stywe “worsie” te vorm. Plaas oornag in die yskas.  Jy kan dit dan as ‘n broodrolletjie inpak of selfs in wielietjies opsny. As jou kind van sweet chilli sous hou kan jy selfs ‘n lagie daarvan tussen die ham en roomkaas smeer.

Jaffles – want dit werk net.

Grondboontjiebotter pakkies – dis min genoeg om nie te veel te wees nie. ‘n Lekker peuselhappie en propvol energie!

Toebroodjie sosaties bly prêt! Sny ook gerus ‘n eenvoudige toebroodjie met koekievorms – hartjies, handjies, mannetjies. ‘n Mens kry selfs deesdae brooddrukkerjies in die vorm van ‘n puzzle sodat daar minder vermorsing is en ons mammas nie al die oorskiet stukke toebroodjies hoef te eet nie.

Mini pizzas of selfs pizza rolletjies.

Cream crackers & kaas. Iets so eenvoudigs het my kind laat dink dat hy in die hemel was!

Marmite skonsies

Bestanddele:

1 k meel

2 teel bakpoeier

1 gerasperde cheddar kaas

Sout & peper na smaak

¾ k melk

½ k margarine

2 teel Marmite

Metode:

Verhit die oond na 190˚ C. Meng alles behalwe die margarine & Marmite saam. Skep teelepels vol in klein kolvyntjiepannetjies en bak vir 10 minute. Smelt intussen die margarine & Marmite stadit en gooi oor die warm skonsies wanneer dit uit die oond kom.

Lewer ongeveer 24 skonsies.

‘n Briefie of grappie in die kosblik beteken ook vir ons kinders (of dalk vir onsself) soveel meer as wat ons besef. Maak ‘n klompie vooruit en wanneer jy die kosblik voorberei sit jy net enetjie in of plak selfs op die kosblik se deksel.

Laastens, met temperature wat 40˚ C bereik is dit maar die moeite werd om ‘n koue fles te koop. Quench se bottels hou koue water tot en met 24 uur koud. Gooi ‘n ysie of twee in en dis nog beter! Dit het ook ‘n 3 jaar waarborg! Sou die bottel nie meer sy hitte / koue hou nie ruil hul hom om. As jy nie weet waar om van hierdie bottels in die hande te kry nie, kontak gerus vir Marizaan Steyn by 072 786 8708

Gaan loer gerus ook  na die kosblik afdeling op Regtig se pinterest blad – daar is honderde idees. Baie van hulle oulik en practise en ander net sodat jy kan lag en dink “Regtig??”

One thought on “Graad 1

  1. Daar huil ek sommer ook nou! Ek is baie dankbaar dat ek my dogtertjie by my kan hou, ek dink nie my hart sou dit gehou het, as ek haar kleuterskool/dagsorg toe moes stuur nie!!
    Dankie dat jy dit met ons gedeel het, ek is seker dit help elke Mamma om nie so alleen en skuldig te voel nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui