
Onthou om te onthou
Die skool begin hierdie week en daar heers groot opgewondenheid in ons huis, want my oudste gaan Graad 1 toe. Ek ervaar gemengde gevoelens hieroor – ek wens dat ek ‘n klip om my kosbare klein seuntjie met sy pittige sêgoed se kop kan sit. Ek wil hom vir ewig klein hê! Maar ek sien uit na alles wat hy kan vermag met daardie kop vol planne van hom! Ek vra hom verlede week om die motorhuis uit te vee en ewe ernstig antwoord hy my: “Ek is nou nie juis ‘n uitvee mens nie, ek is meer ‘n plan-maak mens.” Dit was moeilik om nie net daar van die lag uit te bars nie! Ek weet sommer daar groot dinge vir hom voorlê.
Elke ouer weet, dink, hoop dat daar groot dinge vir sy kind voorlê. ‘n Beter lewe as wat ek het en daarom is ek vasberade om hom daartoe te dryf – ek sal alles in my mag doen om hom daardie hupstoot te gee om verder te kom. Ek is alewig op die uitkyk vir goed soos ekstra werkskaarte en huiswerkhulp, enige iets om my kind beter voor te berei vir sy skoolloopbaan.


Verlede week sien ek egter ‘n stukkie geskryf deur Johanné Brand op Facebook raak:
Ek is werklik bekommerd oor die aantal versoeke wat ek kry vir werkskaarte vir peuters en kleuters. Asseblief, juffrouens, moenie ouers probeer beïndruk met hope (A4 boonop) papierwerk en in die proses die kinders in die steek laat nie.
En asseblief, ouers, die skool met die baie papiere (window dressing noem ek dit sommer) dra nié jou kind se beste belange op die hart nie, hulle probeer jóú as ouer beïndruk.
Soek die skool waar jou kind nog kan speel, waar hulle verf en plak en klei speel, waar daar liedjies gesing word en stories vertel en gelees word. Waar hulle soos paddatjies spring en soos eendjies loop, waar hulle kan klim en klouter en mors in die sand/modder. Waar daar messy play is en waar vanoggend se klere vuil is teen huis-toe-gaan-tyd.
Peuters en kleuters het nódig om konkreet te werk en met hulle lyfies te leer. Perseptuele- en motoriese vaardighede is die boustene vir die 12 jaar van formele leer wat nog vir hulle voorlê.
Met ‘n skok besef ek dat ek daardie mamma is. Die een wat so angstig is vir haar kind om volgens sy vermoëns te presteer dat ek vergeet dat hy maar net ses jaar oud is en eintlik nog kind moet wees! Sy reaksies is soms so volwasse dat ek vergeet dat hy nog in die modder behoort te speel. Ek moet myself voortdurend daarvan herinner dat sy handjies is nog klein, ek kan nie volmaaktheid verwag wanneer hy leer skryf, prentjies teken of skoenveters leer vasmaak nie.


Sy beentjies is nog kort, ek kan nie verwag dat hy die atletiek moet wen nie. Hy moet dit geniet ongeag van sy posisie in die naelloop.

Ek moet hom toelaat om nuwe dinge raak te sien en van naderby te beskou en ondersoek. Ons moet stop en vir daardie miskruier of skoenlapper kyk. Huiswerk het sy plek, maar ons moet ook die wonderlike dinge van die wêreld aan hom verduidelik wat hy nie verstaan nie.



Hul frustreer ons soms, want ons lewe is ‘n gejaag, maar om op hul te skree en te neul oor dinge wat hul verkeerd doen breek hul net af. Ek glo vas dat ‘n pakslae op sy tyd soos brood en konfyt is, maar ons moet hul ook leer en opbou. Dis belangrik om ‘n balans te vind en hul met liefde die lewenslesse te leer, want ‘n kind is ‘n spesiale geskenk van Bo.
Geniet die skooljaar saam met jou kind en onthou dat hy of sy groot dinge sál bereik, maar groot dinge is nie noodwendig finansiële sukses of die hoogste geleerdheid nie. Groot dinge lê soms in iets kleins, ons moet net leer om dit raak te sien.

Selfstandigheid is ‘n baie belangrike vaardigheid wat jou kind sy lewe lank sal help om groot dinge te bereik. Leer hul ook selfstandigheid in die kombuis deur vir hulself klei te maak. Ek persoonlik verpes klei, omdat dit alewig in my matte beland! Maar die maak sowel as die speel verskaf ure se pret en plesier plus dit ontwikkel my kind op soveel vlakke. Ek beperk hul speelplek maar tot die kombuis of enige vertrek sonder matte. Ek gee drie resepte, my gunsteling is die een wat gekook word – sy tekstuur is baie lekker en is maklik hanteerbaar.
Ongekookte klei
Bestanddele
1 kop meel
¼ kop sout
1 eetl kookolie
Paar druppels voedselkleursel
½ kop water
Metode
Meng die meel en sout saam.
Voeg die olie by.
Voeg die voedsel kleursel by die water.
Voeg die water bietjie vir bietjie by die meelmengsel.
Knie die mengsel tot glad.
Gekookte Klei
Bestandddele
1 kop meel
½ kop sout
2 eetl kremetart
1 eetl olie
1 kop water
Voedselkleursel
Metode
Meng al die bestanddele (behalwe voedsel kleursel) goed in pot.
Kook op medium hitte en hou aan roer vir 3-5 minute.
Die deeg sal styf word en ‘n bal vorm.
Haal van die stoof af ek koel 5 minute lank af.
Knie vir ‘n paar minute en gooi voedselkleursel by.
Klei wat gebak kan word
Bestanddele
2 kop meel
1 kop sout
1 eetl olie
175ml water
Metode
Meng alles saam
Laat kinders met klei speel en iets vorm.
Bak teen 180 ˚ C tot hard. Alternatiewelik los in die son vir 2 dae.
Dit kan ook na die tyd geverf word.
2 thoughts on “Onthou om te onthou”
Ek is nou al bekommerd oor skole… hier het ek nie eers ‘n keuse nie,en ek het gehoor die arme kinders werk hulle moeg aan huiswerk… niks speeltyd nie!
Sterkte met Graad 1, ek weet sommer hy gaan dit geniet!!
Dankie vir die kleiresepte, ek het nog nie die gekookte een gemaak nie en gaan defnitief probeer!
Ek wag altyd in spanning vir jou volgende blog, geniet dit terdeë!!
Raai wat! Ons maak juis vandag klei! Die gekookte klei met kremetart is ook mý gunsteling.