Gevreesde Geluide …
Dit is vakansie en terwyl onderwysers oral ‘n welverdiende blaaskans kry byt ma’s oral oor op hul lippe en tel telkemale per dag tot tien. Dis asof kinders dink “Aaaaaah vakansie! My roetine is verbreek en daarom het ek vrypas om die mure af te breek en my ma tot waansin te dryf!” En om hul ‘n week by oupa & ouma te laat kuier help nie regtig nie, want dis asof alle maniere daar vergete bly wanneer hul terugkom en ek hulle van voor af moet opvoed. Nog net 17 slapies. Ai, dan tel ons weer die slapies af tot die volgende vakansie. Is ‘n mens ooit tevrede?
Terwyl ek die karnallies se geite en gure geniet, maar ook terselfde tyd verwens, het ek gedurende hierdie afgelope paar weke ‘n paar geluide begin vrees en ek is seker dat elke ma met my sal saamstem:
5. Die slag. Ja, daardie DOEMF geluid wat jou met geen twyfel laat dat jy ongevalle toe sal moet jaag nie. In my geval raas ek ook al die pad na die hospitaal, want “ek het julle mos al 100 keer gesê om nie daar op te klim / af te spring nie! Van lekker lag kom lekker huil en kyk nou net!”
4. Die geluid van ‘n houer Lego blokkies wat op die vloer uitgegooi word. Hoef ek nog iets hieroor te sê?
3. Daardie misterieuse geskree net sodra jy in die stort is. Jy waag dit om die kinders vir 10 minute in jou man se sorg te los. Of nog erger; jy dink hulle speel rustig en jy kan gou waag om jou hare vir ‘n slag in vrede te was…
2. Stilte. Daar word gesê dat stilte goud werd is, behalwe as jy ‘n kleuter het. Dit is waar! Stilte beteken dat onheil iewers broei…
1. “Liefie, die koffie is klaar!” Soos julle weet is ek glad nie een vir die somer se hitte nie. Maar saans, nadat die kinders uiteindelik tot rus gekom het, het ek my koppie koffie nodig. Daardie 10 minute wat ek en my man ons koffie in stilte kan drink is salig en noodsaaklik! Die kombinasie van stilte, die heerlike smaak en aroma en natuurlik die teenwoordigheid van my gunsteling persoon in die wêreld; my man!
Ek het al geleer om ‘n geheime voorraad koffie te he. Van die goeie soort! En so elke af en toe maak ek vir my ‘n koffie-mousse:
Bestanddele:
2 blokkies sjokolade
3 teel kitskoffie
7 teel suiker
120 ml water
Metode:
Smelt die sjokolade. Doop ‘n ballon daarin – nie ‘n waterballon nie. Dit sorg slegs vir 2 dinge: ‘n gemors en vermaak vir die kinders as jou gesig vol sjokolade is nadat die waterballon onverwags gebars het.

Klits die kitskoffie, suiker en water saam totdat ‘n mousse vorm. Dit neem ‘n tydjie, so wees maar geduldig.
Skep die mousse in die sjokolade-doppie en geniet.
Eet dit verkieslik onmiddelik, anders vorm dit ‘n koffie treksel onder die mousse.


Volg die volgende skakel om cookist se video van die resep te sien: