Seuns en hul speelgoed

Seuns en hul speelgoed

Seuntjies is uniek – in my opinie veel makliker as dogtertjies. My dogtertjie is uhm… Ek is nie seker nie. Soms is sy my fraai klein dogtertjie met strikkies in die hare, maar ek durf nie vir haar sê my groot kind nie; “NEE!” sal die antwoord kom. O, dan is sy seker my ou baba dogtertjie “NEEEEEE!” sal die antwoord weer kom. Nou wat op dees aarde is sy dan sal ek gefrustreerd probeer uitvind. Haar antwoord? “Ek is ‘n DINOSAUR!!” Goed, so sy is my dwarrelwind-kind vol nukke & grille, kant, krale & krulle. Ek is seker teen vanaand is daar ‘n nuwe gier wat ek gemis het – let daarop dat sy nou eers drie jaar oud is!

Dan het ek natuurlik twee seuns in die huis – die een is ses jaar oud en die ander ses-en-dertig. Want seuns word mos nie groot nie. Kort na ons troue ontdek ek ‘n boks vol ou horlosies, horlosiebandjies, gesiggies, batterytjies, partjies en sowat 5 yo-yo’s in sy kas. Nie die tipe goed waarin ‘n versamelaar sal belangstel nie, nee. Die tipe goed waarmee ‘n 10-jarige homself vir ure kan besig hou. Natuurlik wou ek daarvan ontslae raak, maar is baie vinnig gekeer. My man wil dit hou, want eendag kan hy en sy seuntjie nog daarmee speel. Regtig?


Drie jaar later word ons seuntjie gebore en voordat ek my oë kon uitvee kom my man ewe breëbors met ‘n boksie onder die arm die huis binne. Dis sy ou radar karretjie waarmee hy as kind gespeel het. G’n mens sal weet of die ding nog werk nie, maar ons sal eendag sien. Dit word bo in die kas langs die boks vol horlosieparte gebêre. Vandag mag niemand aan die ding raak nie, want net-nou breek hy.


Ons het onlangs by vriende gaan kuier. Hul seuntjie het verjaar en ‘n skylectric gekry – die twee mans was meer opgewonde as die kinders oor die speelding. Ek dink dit was ‘n wenner, want die mans het ure saam met die kinders deurgebring.


Net soveel soos wat mans die seuns se speelgoed geniet, word hul eie speelgoed natuurlik ook net grootter soos hul ouer word. Elke nou en dan trek my man sy “vla wa” uit die motorhuis en dan gaan ons op ‘n Sondag-middag uitstappie. Wie geniet dit die meeste? Natuurlik my twee seuns!


Hulle is alewig besig met die een of ander projek – draadkar bou, ou gekrokte motorfiets (probeer) regmaak, horlosieparte bymekaarmaak. Goed wat vir my sinneloos en simpel lyk. Maar eintlik het hulle die kosbaarste ding – ‘n verhouding. Deur al die dinge wat hulle saam doen vorm hulle ‘n band wat vir altyd sal hou. Mense wonder altyd watse speelgoed om vir kinders te kry vir Kersfees. Ek het onlangs ‘n artikel gelees waarin gesê is dat jou tyd die beste geskenk is. Hier is ‘n paar idees:

 

● In plaas daarvan om vir jou seuntjie daardie duur radarkar te koop, gee vir hom ‘n “werkswinkel coupon” waartydens julle saam ‘n draadkar bou. (Koop maar in elk geval een en steek in die kas weg vir wanneer jul poging flop. Dis nie ‘n maklike taak nie!)

● In plaas van ‘n duur wetenskap stelletjie, gee vir jou seuntjie ‘n glashouer met ‘n “paddavissie” coupon. Sit ‘n uur opsy waartydens julle dan gaan paddavissies vang. Verduideilk hoe metamorfose werk ek kyk elke dag hoe die vissies in paddas verander.


● Dieretuin kaarjies – wat meer kan ek sê? Spandeer ‘n heerlike dag saam met die kinders!

● Uno kaarte – my kinders maak my mal met Uno kaarte! Maar veral tydens beurtkrag is dit ‘n lekker tydsverdryf en die kinders geniet dit gate uit!

● ‘n Piekniek voucher – Ek het dit eenkeer gedoen en my kinders kan nie ophou vra wanneer ons dit weer doen nie! Draai ‘n mandjie toe en gee vir jou kind op Kersdag met ‘n notaboekie en potlood. Kies dan saam ‘n datum vir jul piekniek en maak ‘n lysie van alles wat in die mandjie moet kom. Wanneer die dag aanbreek waarop jul ooreengekom het, pak die mandjie saam in en geniet die piekniek. Al is dit net onder die boom voor die huis.

● In plaas van ‘n lekkergoed pakkie, gee ‘n bokskoek. Snowflake het ‘n baie oulike Barney tema bokskoek. Bak en versier die koek of kolwyntjies dan saam.


● Vir dogtertjies – ‘n manikuur sessie waartydens mamma & sussie mekaar se naels verf.


● ‘n Aktiwiteitsboek – nie net help jy jou kind ontwikkel nie, maar jy spandeer tyd saam met hom. Maak ‘n afspraak met jou kind, al is dit 10 minute per dag, waartydens jul ‘n aktiwiteit in die boek saam kan doen.

● Laastens, nooit ooit ‘n inkopiesessie nie. Want jy kan gesonde bloeddruk hê of jy kan jou kinders vir ‘n inkopiesessie neem. Jy kan nie beide hê nie.

Iets lekkers vir die kinders om te maak en wat ook ‘n spesiale geskenk kan wees is koekie mengsels. Gebruik herwinbare materiale soos ou koffie bottels en versier met ‘n spatsel verf en ‘n lint. Heg instruksies aan en siedaar!

My kinders se gunsteling is die reënboog koekie mengsel:

Bestanddele:

1 ⅓ koppie koekmeel
1 teel bakpoeier
1 teel koeksoda
¼ teel sout
1 kop oats
½ kop smarties
¾ kop chocolate chips
½ kop bruinsuiker
½ kop witsuiker

Pak die bestanddele laag-vir-laag in ‘n een liter houer. ‘n Nescafe koffie bottel is net-net te klein. Verminder in hierdie geval die smarties of chocolate chips. Maak seker jy stamp die bestanddele goed vas, anders gaan alles nie inpas nie. Draai die prop op, versier en heg die volgende instruksies aan:

Voorverhit die oond tot 180˚C
Gooi die droë bestanddele in ‘n bak uit & meng die volgende by:

½ kop sagte botter
1 eier, effens geklits
1 teel vanilla geursel
Rol in 3cm balletjies.
Bak vir 8 – 10 minute

Indien jy ‘n mooi drukbare weergawe van hierdie instruksies wil hê, laat gerus jou e-pos adres in die kommentaar en ons stuur dit vir jou.

2 thoughts on “Seuns en hul speelgoed

  1. Ek lag nou lekker oor jou 36 jarige seuntjie… ek het ook so ene! Dankie vir die oulike idees, dit is baie oorspronklik en sulke dinge wat mens ook onthou van toe ons kinders was!!
    Ek kan nooit wag vir die volgende blog nie, ek geniet dit vreeslik!

  2. Hi,

    stuur asseblief vir my ‘n drukbare weergawe van die resep, die ‘link’ is net die een kant, die droë bestandele is nie daar op nie.

    Dankie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui