Wen die warm weer… of nie?

Wen die warm weer… of nie?

Ek kry warm! En ek hou nie van warm kry nie. Die kinders vra met entoesiasme of ek saam met hulle wil gaan swem, maar ‘n plaasdam waarin ek so vreeslik graag as kind geswem het is net nie meer so aanloklik nie. Sien, eers moet ek teen die damwal uit sukkel. Wanneer ek bo-op hom staan besef ek dat ek nie eintlik daarvan hou om so ver van die grond af te wees nie. Ek weet nie of dit is omdat ek nou as volwassene besef presies hoe hard ek kan val of omdat ek weet dat ek soos ‘n walrus op ‘n muur lyk nie. Wanneer ek dan nou in die dam is en die slyk tussen my tone voel is dit aansienlik meer grillerig as wat ek onthou. Dan is daar die waterhondjies wat so seer byt. Die ervaring is net nie meer so aangenaam nie en skielik besef ek hoekom my ma nooit saam met ons wou swem nie…

Ek hou ook nie van kamp nie, maar met temperature wat tot 40 ˚C gestyg het die afgelope tyd het ek ingestem om in ‘n tent te slaap. Voor my agterdeur natuurlik. Dit was nou salig! In die vroeë oggend-ure was dit selfs koel genoeg om onder die duvet te lê.

Sien, ek hou van koue weer en kan aan minstens tien redes dink hoekom winter beter as somer is; daar is geen vlieë nie, geen slange nie, geen goggas of muskiete nie. Ek sweet nie soos ‘n dier nie en kan jasse & serpe dra waaroor ek gaande is. Snags kan ek snoesig onder ‘n kombers inkruip en styf teen my man lê. In die winter loop ek nie kaalvoet nie en kry dus nie sulke aaklige skurwe haakskene nie en ek hoef nie elke aand te stoei met dorings in die kinders se voete nie. Ek is werklik net meer produktief in die winter en tel die slapies af totdat die winter weer aanbreek.

‘n Mens kan seker ook nou nie so negatief deur die somer gaan nie en ek het die kinders gevra van watter seisoen hulle meer hou. Weens my negatiewe instelling teenoor somer het hul seker geforseer gevoel om te sê dat hulle nie van somer hou nie. Ons het gaan sit en ‘n lysie gemaak van wat vir hulle lekker is van somer:

  • In die somer kan ons in ‘n tent slaap (soos ek genoem het is ek nie ‘n kampeerder nie en voel dat dit nie nodig sou wees om in ‘n tent te slaap as dit nie so uiters warm was nie, maar die kinders het gedink dat hulle in die hemel is na ‘n week se kamp in die agterplaas. Kinders wat wíl slaap = gelukkige mamma)
  • In die somer kan ons buite speel (Ook maar net totdat hulle besef dat Paw Patrol moontlik al op TV kan wees)
  • Ons kan in die somer braai (Ons almal verjaar in die winter en braai elke jaar tydens ons verjaarsdae…)
  • Om koek te bak! (Ek verstaan nie die een nie. Soos genoem verjaar ons almal in die winter)
  • Om moerbeie te pluk! (Ek moet toegee, dis ‘n geldige punt)
  • Om te swaai en boom te klim! (Die swaai en bome staan steeds in die winter)
  • Om die bakkie te was (Ook maar net omdat hulle nog nie besef dat dit werk is nie)
  • Om vis te vang! (Dis snaaks, want ons is nie regtig groot visvangers nie)
  • Om te swem (Ek het reeds my gevoel hieroor bespreek)
  • Om macaroni te maak! (Uhm, ek verstaan nie mooi nie, maar hul het daarop aangedring)

Nou ja, dit is my kinders se 10 punte waarom somer lekker is. Ek het nou nie my negatiewe kommentaar vir hulle gegee nie – hulle was so kinderlik opgewonde oor hul lysie! Natuurlik het ek ook vir myself ‘n lat gepluk deur die oefening met hul te doen, want nou kom sit my 3 jarige kort-kort voor my met ‘n kryt & ‘n stuk papier om neer te skryf hoekom somer vir Mamma lekker is. Ek probeer hard, maar geniet werklik die koue meer as die hitte.

Slaai is darem een van die lekker dinge van somer (alhoewel slaai in die winter ook beskikbaar is!) Siende dat die kinders reken dat macaroni maak een van die lekker dinge van somer is het ek hierdie week met ‘n noedelslaai gegaan. Ek was verbaas dat die kinders so baie hiervan geëet het!

Noedelslaai


Bestanddele:
500 g skulp- of skroefnoedels
1 ui, (baie) fyn gekap
1 groen soetrissie (omdat ek weet die kinders sal hul neuse optrek het ek dit uitgelos)
125 ml asyn
125 ml sonneblomolie
250 ml tamatiesous
200 ml suiker
25 ml Kerrie

Metode:
Kook die noedels gaar, dreineer & laat afkoel.
Ontpit die rissie & kerf in fyn repies.
Meng die ui, rissie & noedels.
Meng die res van die bestanddele saam & meng liggies met noedelmegsel.
Verkoel voor bediening.

3 thoughts on “Wen die warm weer… of nie?

  1. Ek hou nie van koud kry nie, so eintlik moet ons twee plekke ruil! Jy sal mal wees oor die weer hier, dis amper nooit bloedig warm nie. Isabel dra amper die hele somer ‘n vessie en ek slaap onder ‘n kombers!
    So wanneer kom julle kuier??
    Ons is mal oor die slaai, gebruik net baie minder kerrie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui