Daardie tyd van die jaar …

Daardie tyd van die jaar …

Dis daardie tyd van die jaar – almal wat nog die hele jaar dreig om ‘n fondsinsameling of funksie of konsert te hou het skielik besef dat die jaar na ‘n einde se kant toe staan en dat hulle sal moet wikkel om dit ingewerk te kry.  Skielik is ek meegesleur by die kerk, die skool, die sondagskool, die buurvrou se teepartytjie en wie weet waar nog? Ek word oorweldig deur konserte, afsluitings & prysuitdelings.

 

Ek dink nie ek gaan ooit grond vat nie. Boonop is dit warm en winderig en om doodeerlik te wees is my logge lyf nie gebou vir mooi aantrek vir funksies in hierdie warm geweste van ons nie. Het ek maar soos tien jaar gelede gelyk, het ek met graagte vir ‘n nuwe uitrusting gaan soek vir die tyd van die jaar. Nou voel ek net soos ‘n opgestopte wors in alles wat vir my mooi is – dis genoeg om van naar en depressief te raak…

 

Nou moet ek daar by die funksie sit met ‘n mooi glimlag en ongemaklike skoene aan my voete in ‘n oorvol saal op ‘n harde ou stoeltjie. In die winter kon ek ten minste ‘n mooi serpie aangesit het wat pas. Eintlik wil ek net graag kaalvoet in die lug met my huis-klere sit (jy weet, daardie stukkende t-hemp wat ek al lankal moes weggooi, maar die ding dra so lekker dat ek dit net nie oor my hart kan kry nie) en daardie oomblik waardeer wanneer my kinders uiteindelik aan die slaap raak. Maar nee, betrokke wil ek mos wees. Nou moet ek by vergaderings sit gedurende die week waar beplan word hoe die saal opgemaak moet word en watse kos by die snoepie verkoop sal word.

 

Naweke moet daardie planne mos uitgevoer word ook en dis net die gewone simpel sewe wat opdaag om die werk te doen – nie dat ek verras is nie. Die res van die mense doen wat ek eintlik lus het om te doen – NIKS. En terwyl my werk by die huis stilstaan, werk ons handjie vol mense ons vingers stomp om ‘n sukses van die funksie te maak. Verder moet ek  soebat en smeek dat my kinders hul mooi klere aantrek en skoon hou. Ironies genoeg wil my seuntjie graag sy mooi klere aantrek en verlaat nie die huis sonder sy skoene nie. Maar my rabbedoe dogtertjie is ‘n perd van ‘n ander kleur. Hare mag nie gekam word nie, skoene mag nie aan die voete nie. Sy stem in vir ‘n rokkie, maar nie die mooie wat ek kies nie. O nee. Sy kies die Frozen nagfrokkie. Hy is ten minste skoon en ek gee in. Sy begin darem deesdae in my hakskoene en handsakkies ook belangstel. Ongeag of dit bymekaar pas of nie.

Daar word gesê dat ‘n moeilike kleuter in ‘n maklike tiener verander. Ek hoop werklik dit is die geval!

 

Nou ja, almal is aangetrek, hare gekam (soortvan) en tande geborsel. Daar gaan ons. Ek suffer die aand deur terwyl my kinders dink hulle is in die hemel! “Gaan ons weer eerste daar wees?” en “Mamma het jy gesien Evert is ook weer hier!” is wat ek by die funksie hoor. By die kerk is dit “Agge nee! Hoekom moet ons nou al ry?” en by die werksafsluiting “Hoekom kan ons nie nou al ry nie?” Van die skoolkonsert praat ek nie eens nie! Vir weke al hoor ek elke middag hoe die dolfyne dans en hoe die seesterretjies se kostuums lyk en waar wie op die verhoog staan en hoe juffrou beduie as hierdie of daardie passie uitgevoer moet word. Ek voel al soos ‘n Mommy shark do-do-do-do-do en kan al self al die danspassies uitvoer – weet nie hoe die juffrou voel nie!

Ja, dis ‘n deurmekaar, holderstebolder, kop-onderstebo tyd van die jaar waar my eie werk staan en  ek my oor ‘n mik werk vir die plekke waar my kinders betrokke is. Maar ek doen dit met ‘n lied in my hart. Wanneer ek daar sit met my ongemaklike skoene en my seuntjie waai vir my van die verhoog af is die seer voete vergete. Wanneer ek die giggel van klein dogtertjies hoor wat speel by die kerk is dit die moeite werd om in die aaklige hitte uit te gaan en wanneer hulle met soveel trots hul werkies kom wys is al daardie werk wat stilstaan by die huis ook nie eers meer so belangrik nie. My kinders is gelukkig. Ja, ons is dalk net ‘n handjievol wat werk. Maar as ons handjie vol nie gewerk het nie sou daardie funksie nie gerealiseer het nie en sou ek nie skitterende ogies, vuil gespeelde voetjies en krom geverfde prentjies  kon sien nie.

Die Here het my in hierdie bevoorregte posisie geplaas en terwyl ek kan sál ek daardie funksie bywoon en sál ek werk waar ek kan sodat my kinders eendag kan onthou hoe hulle onder die tafels aan die slaap geraak het en hoe lekker hulle by die konsert gedans het.  Dis dalk aaklig vir my, maar dis wonderlik vir hulle!

 

As jy nou al ‘n punt bereik het waar jy moeg daarvoor is om alewig die bykosse te voorsien, maak ‘n jellie-ring. Ek kan waarborg dat niemand jou ooit weer sal vra nie:

Andersins is ‘n souttert ‘n treffer! Die kinders help al te graag om die eiers & rooiworsies op te sny terwyl ek die res voorberei:

Bestandele:

2 Dik snye brood

30 ml Botter

250ml Melk

1 Blik weense worsies

1 Blik soutvleis

3 Eiers, hard gekook

1 Middelslag ui, gerasper

1k Gerasperde kaas

Sout & peper na smaak

1 Geklitste eier

 

Metode:

Voorverhit die oond tot 180˚C.

Neem die brood, melk & botter en plaas in die mikrogolf vir ongeveer 1 minuut.

Maak goed fyn.

Sny die worsies, soutvleis en eiers in stukkies.

Gooi alles saam en meng.

Bak vir 30 – 35 minute. Indien jy vergeet het om die oond te voorverhit, bak dit net effens langer – dit sal nie uitdroog nie.

Wanneer die tert uit die oond kom sal hy nog effe papperig lyk – moenie bekommer nie! Hy set soos hy afkoel.  

 

2 thoughts on “Daardie tyd van die jaar …

  1. Jou blog is so cool ek love dit soos my seuntjie sal se .
    ek het ook ‘n blog as jy dit wil gaan uitcheck as jy my dalk paar pointers kan gee sal dit awesome wees .

    jeannette-mylife.blogspot.com/

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui