Fiemies

Fiemies

Ek sit nogal met ‘n dilemma. Ek het nog altyd gedink dat ek lekker en interessante kos maak waarvan my kinders hou. Die smaak is nog altyd lekker en ek doen moeite met die opdiening van my kos. Dis nou nie Masterchef nie, maar my kinders geniet dit nog altyd en eet wat ek vir hulle opskep. Toe daal daar iets oor my huis neer en ek durf die vloekwoord nie eers hardop uitspreek nie. F-I-E-M-I-E-S.

 

Ja, my ses-jarige het ewe skielik soveel geite as dit by kos kom, dat ek nie weet watter kant toe nie! Omdat sy sussie die grond waarop hy loop aanbid, smeer die fiemies ongelukkig ook aan haar af. Voorheen was hy gek oor tamaties, maalvleis, sampioene, kapokaartappels, varkvleis, wortels, komkommer en wat nog meer! Vandag eet hy net droeë brood of skoon macaroni. Ek voel soos ‘n swaap om vir hom ‘n kosblikkie met skoon macaroni in te pak skool toe; wat dink die juffrou nie van my nie? Maar ek durf nie ‘n vleisie of ‘n sousie van ‘n aard vir hom daarby insit nie – in so ‘n geval eet hy doodeenvoudig net nie. Verder het my drie-jarige ook besluit sy eet nie gebrande goed nie. Dit sluit in broodkorsies en enige ding wat vir ons so lekker bruin randjie gebraai het. Dus moet eiers gekook word, en braaivleis se kante afgesny word. Wat het gebeur?

 

Daar was ‘n tyd in my lewe wat ek gesê het dat my kinders nie kos sal kry as hul nie eet wat ek voorsit nie. Toe verander dinge so effens en ek was tevrede daarmee dat hulle ten minste moet proe. As hul geproe het en dit is sleg hoef hul dit nie verder te eet nie – ek meen, daar is dinge waarvan ek ook nie hou nie. Deesdae maak ek seker: “So jy soek hoender nuggets met diertjie pasta  in die kolletjies bord met die maatjie vurk en pienkmelk in die blou spiderman glasie?” Goed! Diertjie pasta is te kry by Pick n Pay.

Ek kom met geen truuk weg nie – die blomkool in die kapokaartappels is ewe skielik sleg, die gerasperde wortel en murgpampoentjies in die maalvleis word gesien. En as hul sien ek kyk in die uie se rigting is dit verby! Omkopery en dreigemente werk natuurlik, maar goeiste! Dis uitputtend! Terselfde tyd is ek bang my kinders kap om weens ondervoeding…

 

Op ‘n goeie dag, wanneer die kind binne my wil uitkom, sal ek iets maak waaroor hul dol is soos ‘n kaas en worsie laaigraaf. Mits daar kaas in die huis is en na die hele episode is daar ook nie meer kaas in die huis oor nie.

Tog bly dit my verantwoordelikheid as ma om ‘n voorbeeld te stel deur ‘n verskeidenheid gesonde kosse voor te sit. Ek het al verskeie oulike wenke in Baba & Kleuter gekry, van dit het gewerk en van dit nie:

Daar word ook gesê dat as jy dieselfde kos voorsit sonder om jou kinders te dwing om dit te eet, hul dit uiteindelik sal aanvaar. Ek het dit probeer. Dit het nie gewerk nie. Wat wel lyk of dit begin werk is om hulle nie van tafel af te verskoon nie, al beweer hulle dat hul magies vol is. Terwyl ons nog eet raak hul wel verveeld en begin aan die kos rondskuif totdat hul uiteindelik ‘n happie neem. En wil jy nou meer, tot hul verbasing kom hul niks daarvan oor nie!  

 

“Sorg dat daar altyd ten minste een ding is wat jy weet hulle sál eet. Stel die voorbeeld en hul sal mettertyd wel begin proe aan kos.” Dit werk ook soms vir my kinders.  

 

“Lei hul om die bos met gesonde bestanddele in gewilde disse soos spaghetti bolognaise.” Daardie dae is verby vir my. Hul eet nou net die wurmpies. Ai.

“Moet nooit druk op jou kinders plaas deur hul te dwing, manipuleer of om te koop om iets te eet wat hul nie wil eet nie.” O gids. Maar dit werk so goed! Natuurlik is nagereg nie méér as die ete self nie – die belofte van ‘n snytjie piesangbrood of ‘n trossie druiwe laat hul met oorgawe aan die kamtige slegte kos eet!

 

Baba & Kleuter stel ook kosse voor waar jy gesonde bestanddele soos volgraan en vars vrugte kan inwerk voor. Dit sluit in tuisgebakte gesondheidsmuffins, tuisgemaakte ysies, tuisgemaakte viskoekies (ek dink hul hou van tuisgemaakte goed) Pro-Vitas en droë vrugte, franse braaibrood, vrugteslaai en jogurt. Al hierdie dinge het verlede jaar hierdie tyd soos ‘n bom gewerk. Wat intussen verander het weet ek werklik waar nie.

 

Daar is vreeslike oulike idees vir die bediening van kos vir kieskeurige eters –  Mr Food Face borde is beskikbaar vanaf R950 op wantitall:

 https://www.wantitall.co.za/homegarden/fred-mrs-food-face-kids-ceramic-dinner-plate__b003zuxpwm  Dieselfde borde is beskikbaar by clasf.co.za vanaf R49 – ek is egter net nie seker hoe betroubaar die bron is nie: https://www.clasf.co.za/food-face-plate-in-south-africa-2151860

 

Ek kan dit net nie oor my hart kry om R950 vir ‘n enkele bord te betaal nie! Dan maak ek maar eerder self ‘n plan met ‘n papierbord:

Dan kry mens ook op wantitall skinkborde wat soos ‘n bordspel lyk vanaf R805:

https://www.wantitall.co.za/homegarden/fred-dinner-winner-kids-dinner-tray-enchanted-forest__b01d1fsjxa maar weereens is ek nog nie só desperaat nie.

 

As klein dogtertjie onthou ek dat my broer ook nie wou eet nie, totdat my pa hom begin voer het. Daardie vorm van aandag werk met my drie-jarige ook.

 

‘n Spuitsak het nog altyd wondere verrig in my huis – gekleurde kapokaartappels in ‘n spuitsak en in ‘n prentjie op die bord doen tog iets vir die verbeelding.

 

Nog iets wat help is om hulle betrokke te hou by die voorbereiding (mits ek nie uie wil inwerk nie) ‘n groente- en kruietuin het my las effens verlig – vandat hulle die kos self kan pluk eet hul dit redelik. Veral wortels so vars uit die grond is ‘n treffer. Hulle eet dit sommer so rou.

Daar is te veel metodes en resepte om op te noem wat ‘n kieskeurige eter goed en gesond sal laat eet . Ek beproef alles soos wat ek daarop afkom. Een metode werk vir my kinders en die volgende vir jou kinders. Ek is nou nie ‘n kenner nie, maar ek veg elke dag die stryd teen fiemies. Soms wen ek en soms nie, maar ek hou aan probeer en probeer die kos verbeeldingryk en interessant hou. Hulle is net een keer klein en sal wel daardie fiemies ontgroei. Ek en beide my broers het. Doen daardie ekstra moeite – al is dit net een keer per week – en koester die oomblik, die vreugde op hulle gesiggies oor daardie verdekselse kaas laaigraaf. Hulle sal wel eendag terugkyk en die liefde en opwinding van hul kinderdae onthou.

 

In ‘n poging om gesonde kos in ‘n interessante vorm aan te bied probeer ek bobotie-muffins maak. Ek het agter gekom dat enige ding in ‘n muffin vorm my kinders se aandag trek:

Bobotie-muffins

Bestanddele:

1 koppie rys

1 koppie gewone jogurt

3 eierwitte

Knypie sout

½ koppie uie, baie baie fyn opgekap.

250g maalvleis

1teel kerriepoeier

Sout & peper

1 sny witbrood

250ml melk

2teel suiker

1 eetl asyn

1eetl blatjang

¼ pitlose rosyntjies (ek het dit byvoorbaat uitgelaat, siende dat ek self ook nie ‘n aanhanger van rosyne is nie)

½ kop water

2 eiers

60ml room

30g gesmelte botter

12 lourierblare

 

Metode:

Maak die rys gaar. Meng met die jogurt, eierwitte en sout. Skep lepels vol in ‘n muffin pannetjie en druk plat om ‘n doppie te vorm. Bak vir 30 minute teen 180˚C

Braai die uie tot sag. Voeg die maalvleis by en roer goed terwyl dit braai. Voeg die kerriepoeier by en geur met sout en peper na smaak.

Week die sny brood in die melk. Druk die melk uit en breek die brood in stukke op in die maalvleis.

Voeg die suiker, asyn en blatjang, rosyne en water by.

Laat prut vir 10 minute.

Skep lepelsvol in die gaar rysdoppies.

Klits die eiers, room en oorblywende melk van die geweekte brood saam. Geur na smaak met sout en peper.

Voeg die gesmelte botter by en klits goed.

Gooi die room mengsel bo-oor die maalvleis en plaas ‘n lourierblaar op elke muffin.

Bak vir 10 minute teen 180˚C

Kyk gerus na die volledige video:

https://www.facebook.com/foodiesofsa/videos/crispy-bobotie-cups/482560575489006/

One thought on “Fiemies

  1. Dankie vir die oulike idees!! Op die oomblik is hier nog nie eintlik fiemies nie… maar tyd sal leer 🤔
    Jy doen vreeslik baie moeite, ek haal my hoed af vir jou!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui