Dit het my oorgekom…

Dit het my oorgekom…

Oktober is Miskraam & Stilgeboorte Bewustheidsmaand. (Ek hoop ek het dit reg vertaal). Volgens statistiek verloor een uit elke vier mamma’s hul baba’s. Teoreties beteken dit dat elke vierde vrou wat jy raakloop haar baba verloor het. Dit is skrikwekkend! Tog hoor jy niemand daaroor praat nie, hoekom nie? Ek het besluit om die stilte te breek en my storie te vertel, want dit het mý ook oorgekom:

Ons het twee pragtige kinders, maar in my moederhart weet ek dat ek nie net bitter graag nog ‘n kind wil hê nie, maar nog een nodig het. Mense kan met sulke onnodige opmerkings kom – “kan jul dan nog een bekostig?” of “julle het dan reeds een van elk, hoekom wil jul nog hê?” of “hoe sien jy kans vir nóg een?” Maar in my hart glo ek dat die Liewe Heer sal voorsien. Daar is baie mense wat baie slegter af as ek is met ‘n string kinders en hul maak dit werk. Ek raak sommer emosioneel as ek sien hoe vinnig my kinders groot word en my hart hunker na nog ‘n ou babatjie in die huis – ten spyte daarvan dat ek soms my kinders wil verwurg is dit vir my so ongelooflik lekker om ‘n mamma te wees!

 

Na ‘n baie lang wag het dit uiteindelik gebeur! Na 2 halwe positiewe tuis swangerskap-toetse besluit ek om te gaan bloed trek, maar ek het reeds geweet – ek was swanger! Die bloedtoetse het dit bevestig en ons was in die wolke! Ons kry uiteindelik nog ‘n baba! Ek wou dit van die dakke af basuin! Ons kry nog ‘n baba! Maar ons sê eers niks nie, dis nog te vroeg. Wat as iets gebeur? Nie dat daar sal nie, ek meen, ons het al twee kinders sonder enige komplikasies. Nou dat ek terug dink wonder ek hoekom ‘n mens intensioneel besluit om wonderlike nuus weg te steek?

 

Drie dae later word ek gedurende die vroeë oggendure wakker met sooibrand en naarheid wat nie gekeer kan word nie. Ek maak die badkamer net-net en spandeer ‘n goeie tien minute op die vloer voor die toilet. Om op te gooi verlig darem die sooibrand… Ek klim terug in die bed. Die nag is koud; daar word ‘n vreeslike koue front voorspel, maar ek kry so warm dat ek nie weet hoe om te lê nie. My heupe pyn verskriklik! Regtig?? Ek is skaars 6 weke swanger en ek sit so aan? “Ruk jouself reg” dink  ek en draai om, om verder te probeer slaap. My heupe raak seerder en ek rol rond vir die eerste span terwyl die aaklige ou pyn met my regterbeen af na my knieg en voet versprei. Na omtrent 2 ure van rondrol druk ek op my buik en krul onmiddellik van pyn. Ek kan nie loop nie, ek kan nie sit nie, ek kan nie staan nie. Hier is fout – watter kant sit my blindederm nou weer? Ek maak my man wakker – ons moet hospitaal toe. Ons gaan waarskynlik daar kom en niks gaan fout wees nie, maar laat ons eerder gaan.

Dit  is ‘n 2 ½ uur rit na die hospitaal toe en ek is pynlik bewus van elke hobbel en slaggat waaroor ons ry. “Asseblief Liewe Heer, laat hierdie rit verniet wees? Laat my pyn bedaar en laat die dokter vir my lag oor die simpel wind wat vassteek?” Dankie tog die kinders kuier vir die week by my ouers. By ongevalle aangekom net voor 6 die oggend spuit hul my in vir pyn en ek maak doodseker dat hul weet ek is swanger. Die dokter aan diens wil my eintlik huistoe stuur, aangesien hy niks fout kry nie, maar besef dat ons ver gery het en probeer my tegemoet kom. Hy laat my bly totdat die dagpersoneel aan diens kom vir ‘n tweede opinie. Die volgende dokter spuit my toe weer in vir pyn aangesien die pyn nog nie bedaar het nie. Sy stuur my vir ‘n sonar en hul besluit dat ek opgeneem moet word.

 

Teen 10 uur is ek opgeneem, met vermoedelik blindederm ontsteking, maar kan niks doen voordat die ginekoloog my nie ondersoek nie. Die internis het die vermetelheid om vir die verpleegsuster aan diens te vra “vind net uit of sy werklik swanger is” Wat ‘n onsensitiewe lummel! Daardie woorde het diep gesny…

 

Laatmiddag eers kon ons die ginekoloog sien en weer is ek gekonfronteer met woorde wat die keer nóg dieper gesny het: “Dit lyk soos ‘n ektopiese swangerskap” Ek het in my lewe nog nie daarvan gehoor nie, maar het besef dat dit nie goed was nie. Later het ek gehoor dat dit in gewone taal ‘n buisswangerskap is. Ek kon die trane nie keer nie – ek het openlik gehuil en kon nie eers verder met hom praat nie. Ek het dit nie probeer terughou nie, ek het gehuil. Hulle het my in ‘n rolstoel terug gestoot na my kamer terwyl ek snik. Almal wat verby my loop het my met vreeslike jammerte aangekyk en ek kon nie minder omgee nie. Ek was nie presies seker wat op my gewag het nie, maar ek het geweet dat ek hierdie baba waarvoor ons so gebid het nie gaan hê nie. Ek het nog nooit so skaamteloos en sonder ophou gehuil nie. Die fisiese pyn was skielik vergete – my siel was geruk!

Die vrou oorkant my was opgeneem met ‘n dreigende miskraam – ek moes haar seker vreeslik ontstel het met al my snikke en voel vandag sleg daaroor, maar niemand kan jou voorberei op so iets nie. Die nagsuster het vir my ‘n slaappil gebring en my hand in stilte gehouvas. Dit het vir my meer beteken as was sy besef het.   

 

Die volgende dag is ek in vir ‘n laparoskopie. ‘n Mens moet mos sewe keer dieselfde vrae antwoord, maar die laaste vraag – Wat is die prosedure wat jy moet ondergaan? – het die verpleegster nie een keer gevra nie. Ek was so dankbaar daarvoor, weereens meer as was sy besef het. Ek het huilend op die teaterbed aan die slaap geraak.

 

Toe ek wakker word kon ek stemme hoor, “daar was ontsteking, die buis moes verwyder word” Hoe? Hoekom het ek dit nie besef nie? Nog stemme: “Toemaar Mevrou, jou lewe is nie meer in gevaar nie” Ek was geskok, omdat ek nooit besef het dat my lewe in gevaar wás nie. Hoekom het niemand dit vir my verduidelik nie? Ek kon werklik nie glo wat ek hoor nie!

 

Volgens Google is 1 uit 50 swangerskappe ‘n ektopiese swangerskap. Ek besef nou eers dat niemand daaroor praat nie omdat dit doodeenvoudig té seer is, maar hoekom is daar nie ondersteuning hiervoor nie? By die huis is ek aan Google oorgelaat – ek kon soveel ondersteuningsgroepe in Engels kry. Hoekom is daar geen Afrikaanse inligting hieroor nie? Hoekom is dit taboe? Ek wou so graag weet dat ek nie alleen is nie, dat dit al met ander ook gebeur het.

Ek het seerder gehad as wat ek al ooit gehad het. My lyf, my hart, my siel, alles was so ongelooflik seer! My hele wese wou uitskree, maar daar kon nie ‘n geluid uit my mond kom nie. Ek het nooit geweet dat daar soveel trane gestort kon word nie. Selfs nou, maande later kan ek nie ophou huil terwyl ek my storie tik nie.

Ek gee nie om wat die dokter sê nie, in my hart was daardie stukkie weefsel reeds ‘n mensie wat ek onmiddelik só lief gehad het.  Ek het gewonder hoe die Here vir my in ‘n kwessie van drie dae soveel vreugde kon gee en dan toelaat dat dit in ‘n oogwink uit my lewe geruk word en ‘n dooie kol agterlaat wat nooit weer iets sal voel nie.  Ek was nie net hartseer nie, maar kwaad ook.

 

Daar is blykbaar drie hoofoorsake van ektopiese swangerskappe: Rook, seksueel oordraagbare siektes en hormoonbehandeling. Ek is nie skuldig aan een van die drie nie. Daar is soveel vroue wat glad nie na wense optree tydens hul swangerskappe nie, wat nie eens besef hul is swanger nie en doodnormale baba’s in die lewe bring. Sonder enige komplikasies. Ek, wat so hard gebid het vir een moes hierdie aaklige pad stap. Ek voel ingedoen. Kon so iets nie een van daardie losbandige, onverantwoordelike vroue wat nie eens kinders wil hê oorgekom het nie? Hoekom ek? Wat het ek verkeerd gedoen? Volgens die die Kuber-Rosi model is daar sewe stadiums in die treurproses. Ek weet nie wie Kuber-Ross is nie, maar die vent het duidelik nog nooit self getreur nie, want sy model lyk heeltemal anders as wat ek dit ervaar:

Ek wou my kinders by my hê en my man het gereël dat hul huistoe kom. My arme 6 jarige seuntjie is so volwasse. Hy het gevra wat ek makeer en ek het aan hom verduidelik dat Liewe Jesus vir ons ‘n baba gegee het, maar dat die baba vreeslik siek geword het en vir mamma ook siek gemaak het. Die baba is ongelukkig dood, maar bly nou lekker by Liewe Jesus. Hy het so rustig gesit en nadink daaroor. Saggies het hy gevra of dit ‘n boetie of ‘n sussie was, maar voordat ek kon antwoord het hy sy skouertjies opgetrek en gesê “Ag toemaar, eendag sal ons by Liewe Jesus sien.” Hy het my ‘n  drukkie gegee en gaan speel. Dit het getroos, maar dit was o so seer. Die volgende twee weke het ek nie eens uit die bed uit opgestaan nie. Ek kon nie en ek wou nie. Wat my man en kinders geëet het en waar hul skoon klere gekry het was ek nie seker nie en ek het nie omgegee nie. In tye van nood is dit altyd ‘n goeie idee om aan te bied om ‘n maaltyd vir iemand te neem – ek vermoed dis hoe my gesin gevoed is? Dit het soveel ondersteuning gebied en my arme man se swaar las verlig.

Dis moeilik om raak te sien, maar ‘n man treur ook. Ongelukkig moes my man nie net terug werk toe gaan nie, maar skielik ook na al my take omsien en ons het nie regtig oor ons verlies gepraat nie. Later eers het ek besef dat hy probeer om nie te wys dat hy treur nie, omdat hy bang was dat hy my sou ontstel. Dit het my egter meer ontstel om te dink dat dit hom nie traak nie. Nadat ons dit uitgeklaar het kon ons saam treur – saans nadat die kinders gaan slaap het, het ons sonder woorde saggies saam gehuil oor die baba wat ons nooit sal vashou nie.

Die weke gaan verby en ewe skielik is almal rondom my swanger! Dis asof iemand my in die maag skop elke keer as hulle die nuus breek. Dis van voor af so bitter, bitter seer. Hoe kan jy ook dan nou vir jou vriendin sê dat jy nie saam met haar bly is nie? Of dat jy nie haar ooievaarstee wil bywoon nie? Of dat jy eintlik net geen mense naby jou wil hê nie? Dis nie dat jy nie iemand anders geluk gun nie, dis net so ontsaglik swaar om jou eie seer te erken en aanvaar. Soms dink jy jy is oor dit en die volgende oomblik sit jy en snik sonder waarskuwing. Baie mense het opregte pogings aangewend om my beter te laat voel, maar sonder dat hul dit eens besef het, uit onkunde, my so seer gemaak met sommige van hul woorde. Daar is goed waaroor ‘n mens mooi moet nadink voordat dit oor jou lippe gaan. Let asseblief daarop dat ek van hierdie notas gedurende ‘n tyd van baie pyn gemaak het – my emosies was rou en baie eerlik en alhoewel ek baie daaraan geskaaf het voel ek tog dat mense die volgende moet weet:

Iets eenvoudigs soos “Geniet jou dag verder” het my so omgekrap, want vir weke lank het ek niks geniet nie. Niks nie.

 

“Toemaar, jy het darem reeds twee.” Is iets was sóveel mense sê. Alhoewel dit die waarheid is, dink ek nie hul besef hoe seer dit op daardie oomblik gemaak het nie. Ek is baie lief vir my twee kinders, maar dit maak die seer nie minder nie. As een van jou vriendin se ouers afsterf gaan jy nie sê “Toemaar, jy het nog een oor nie.” Hoekom dink mense dat hierdie situasie anders is?

 

“Julle kan darem weer probeer.” So asof jy per ongeluk oor jou nuwe hondjie gery het en net ‘n nuwe een gaan kry. Een van die organe waarmee ek moes probeer is nou weg, en my hart is in 10 000 stukke, maar jy dink dit goed om so iets te sê? Dis nie wat ‘n treurende mamma op die oomblik wil hoor nie. Dieselfde geld vir “Gaan jul weer probeer?” Bly eerder net stil.

 

“Dit gebeur vir ‘n rede.” Nou dat ek geleer het om met die pyn saam te leef weet ek dit, maar dis nie iets wat ek op daardie stadium wou hoor nie. Dit het my onbekwaam as ouer laat voel, om watter ander rede sal God dan my kind wegvat?

 

Mense het soveel goed gesê wat my op daardie oomblik so ontstel het dat ek naderhand spyt was dat ek iemand vertel het! As jy nie weet wat om te sê nie, sê net dat jy jammer is. Dit is al. Verbasend het daardie drie woorde soveel meer beteken as wat ek ooit sou kon dink. Jy hoef nie meer as dit te sê nie, jy hoef nie al die antwoorde te ken nie. ‘n Eenvoudige “ek is jammer” of “ek dink aan jou” beteken so baie en as jy ook nie seker is daaroor nie, is net ‘n blommetjie of jou teenwoordigheid tydens ‘n koppie koffie & sjokolade al oor as genoeg. Sommige mense kon vertroosting bied met gawe en opregte woorde: “Ek dink gedurig aan jou en bid vir jou” en “Hoe kan ek jou ondersteun.”    

 

Ek het net weer besef dat ons altyd gaaf en bedagsaam behoort te wees; jy weet nooit waarmee die vrou langs jou worstel nie. Dink tweekeer voordat jy daardie onsensitiewe, lae grappie aanstuur. Hierdie een het besonder seer gemaak:

Ek wou vir niemand vertel van my swangerskap nie, want dis nog te vroeg. Toe iets fout gaan het ek geswyg voordat ek iemand vertel het, want hul het dan nie eens geweet dat ek swanger was nie. Maar dit is nie nodig om alleen daardeur te gaan nie. Sou ek weer geseën word met ‘n swangerskap sal ek onmiddelik my vreugde met almal deel. So ‘n vreugde moet gedeel word, sou dit op hartseer uitloop het jy soveel meer ondersteuning. Dit is belangrik om jou storie te vertel, jy hoef dit nie van die dakke af te basuin nie. Maar vertel dit, fluister dit as jy moet. Kort voor lank sal daar nog ‘n stem kom wat sê “ek ook” en nog een en voordat jy dit weet is julle ‘n hele gemeenskap wat saam kan sê “Dit het my oorgekom” en jy sal nooit weer alleen wees nie.  

Ek het nie my storie vertel sodat almal moet weet watse ongelooflike seer ek in my ronddra nie, maar om vir iemand daar buite te laat weet dat sy nie alleen is nie. Wat met jou gebeur het ís erg en dit ís traumaties en jy mag bang en kwaad en hartseer op een slag wees. Jy is nie alleen nie en jy hoef nie te wees nie. Wat die duiwel van jou weggevat het sal die Here vir jou teruggee. Ons weet nie wanneer nie en ons weet nie in watse vorm nie, maar Hy sal vertroosting bied.

 

Ek het intussen met ‘n paar mamma’s in aanraking gekom wat ook ‘n harsteer verhaal het. In plaas van ‘n resep vir kos hierdie week, het ek by hulle vir resepte vir die siel gevra. Elke mamma het iets vir my gegee wat haar deur haar moeilike tyd gehelp het:

Chantelle het haar ektopiese swangerskap verwerk deur daaroor te skryf. Sy het haar hartseer as volg saamgevat:

Al die tekens was daar, daar gaan ‘n bondeltjie vruegde kom.

Ons het verwag, met ‘n vooruitsig op jou koms.

‘n Sonarfoto wys  jy groei in Mamma se lyf,

Maar jy klou fatal aan ‘n buis.

Te vinnig, te gou voor jy my kon vertrou

Verloor ek jou in  ‘n koue hospitaalbed met smart.

Nooit kon ek jou lyfie vashou, alleen, stil moes ek rou.

Jou tydjie was kort, te kort vir Mamma se hart.

Vandag is sy die trotse mamma van drie pragtige kinders.

 

Tydens ‘n deurmekaar tyd van familienood en -tragedie ervaar Magda op 8 weke swaar bloeding en weet dat iets besig is om skeef te loop. Met ‘n siek 2 jarige op die skoot kom sy by ‘n dokter uit wat haar dan inlig dat sy ook ‘n ektopiese swangerskap het:

Hoekom ek? Sal ek nog kinders kan hê Here? Jesaja 43:5 lees “Wees nie bevrees nie, ek is by jou.”En dit het my getroos. Die Here was en is daar en het my swangerskap so beplan. Ek moes eers die verlies van ‘n ouma, die hartomlyning van ‘n pa en die verlies van ‘n vriend verwerk voordat ek dit kon sien. Veel later het ek op die volgende afgekom en dit is steeds kosbaar vir my:

Liewe Heer,

Help my om die jaar se seer en twyfel en teleurstellings in ‘n tas te pak en dit agter my te los. Gee vir ons nuwe hoop, uitdagings en Liefde om weer te kan droom.

‘n Paar maande later was sy weer swanger met nog ‘n seuntjie.

 

Zan-Mari het tydens haar eerste miskraam in die hospitaal stiltetyd gehou met die storie van Hanna:

“Dit was in 1 Sameul 1. Vers 17 en 18 was my kern versies. Dit het vir my gevoel daardie belofte wat die Here aan Hanna gegee het, het Hy daardie aand in die hospitaal aan my ook gegee. Al was die hartseer oorweldigend, was dit ‘n troos.”

Jare later is sy en haar man geseën met twee pragtige dogtertjies en tans is nog ‘n baba oppad!

 

Irene was 9 maande na haar miskraam weer swanger, maar moes op 20 weke van haar ongebore seun afskeid neem weens ‘n chromosoom afwyking. ‘n Toestand genaamd Trisomie 13. Daardie nag in die hospitaal sonder haar seuntjie, Izak, het God haar nie verlaat nie en het sy geweet dat Hy haar dra. Sy en haar man het geweet om die toekoms nie te vrees nie, want vrees kom nie van God af nie en die duiwel het geen plek in hul lewens nie. Vier jaar later is hul geseën met nog ‘n pragtige dogtertjie. Haar raad aan my was om daaroor te skryf. “Dit maak ‘n groot deel uit van die gesond word proses. Skryf jou storie neer al moet jy stoei om te kan sien deur die trane deur”

 

Sou jy graag meer van Irene se verhaal en Trisomie 13 wil weet laat asseblief kommentaar en ons publiseer ook haar storie. Sy is ‘n ongelooflike sterk vrou wat deel sal vorm van ons ondersteuningsnetwerk vir vroue wat hieroor wil praat.

Deel asseblief in ons gesprek en laat ander Afrikaanse mammas weet dat hulle nie alleen is nie en dat daar geen voorskrifte is oor hoe jy versonderstel is om te voel nie. Word deel van my gemeenskap en moet nooit skaam of skuldig voel om te sê “Dit het my ook oorgekom” nie.

4 thoughts on “Dit het my oorgekom…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui