Masker op!

Masker op!

Toe ek die eerste keer die fliek Taken gekyk het, het ek gedink dat dit verregaande is. Natuurlik moet dit vreeslik wees, maar sulke dinge gebeur mos nie regtig nie, of hoe?

 

Intussen het ek ‘n ma geword en kyk nou met heel ander oë na daardie fliek. Weens globalisasie is die wêreld ook ‘n veel kleiner plek as 10 jaar gelede en ons is meer bewus van mensehandel. As ‘n ma van twee pragtige kinders kan ek nie meer na ‘n publieke plek gaan sonder die vrees in my hart dat iemand my kinders gaan gaps nie. Ek loop met hierdie masker van selfvertroue rond, maar hier binne my snak ek na asem elke keer as ‘n vreemdeling naby ons kom. My ma sê altyd dat daar geen aaklige wese is soos ‘n ma nie. Dit is waar, ek is gereed om enige een wat net lyk ashof hy alternatiewe intensies naby my kind het te vermorsel! Tog loop daar soveel gawe mense verby jou, maar is hul werklik so gaaf? Of dra hul ook ‘n masker?

As ouers is dit ons plig om ons kinders veilig te hou, maar hoe doen ‘n mens dit as dinge so erg geraak het dat jou kind nou selfs uit jou hande gepluk word? Ek kan nou nie eens meer ‘n foto van my  kinders op sosiale media plaas sonder om te wonder of ek van hulle ‘n teiken maak nie. Ek hoor nou die dag iemand vra of sy dan maar ‘n foto van haar buurman se stout kind mag plaas… Maar alle grappies op ‘n stokkie, ek wens dit vir geen persoon toe nie. As my kind gesteel moet raak sal ek sowaar in ‘n inrigting beland!

 

Ons leer ons kinders om nie met vreemdelinge te praat nie, maar hoe lyk ‘n vreemdeling dan nou? Hy het nie skerp tande en deurmekaar hare nie. Nee, hy dra ‘n masker van ‘n doodnormale, selfs gawe persoon. Doen ons genoeg om ons kinders bewus te maak van vreemdelinge? En wil ons nou regtig ons kinders van kleins af leer om almal te wantrou? Kinders kan soveel mooi in die lewe sien, ‘n mens wil dit nie ontmoedig deur hul met die harde waarheid te slaan nie. In 2015 het Joey Salads ‘n sosiale eksperiment uitgevoer ter demonstrasie oor hoe maklik dit eintlik is om kinders te steel:

(Click op die foto om die video te sien )

 

Ons hier by Regtig het gaan kyk na ‘n paar dinge wat ons as ouers kan doen en ons kinders behoort te leer om hulle ten einde teen mensehandel te probeer beskerm:

 

  • Grootmense het nie kinders se hulp nodig nie. As ‘n grootmens se hond weg is of sy motor het gebreek, hoekom sal hy ‘n kind se hullp nodig hê? Hy sal nie. Hardloop weg!
  • As jou kind nie met grootmense wil praat nie, moet hom nie dwing nie. Ons leer ons kinders om nie met vreemdelinge te praat nie – dit sluit jou neefs en niggies wie jy 10 jaar laas gesien het in. Vir jou kind bly dit ‘n vreemdeling. Moet hom nie verwar nie.
  • Kry ‘n wagwoord. Leer jou kind dat niemand hom of haar by die skool of enige ander pleg mag neem as hul nie die wagwoord ken nie. Dit is dan natuurlik ‘n woord waarop jy met jou kind ooreengekom het en wat net julle geheimpie is. Niemand anders mag die woord ken nie. Hoe moeiliker die woord vir iemand anders om te identifiseer, hoe beter. Al is dit ‘n lawwe woord wat julle twee opgemaak het.
  • Wanneer jou kind in ‘n openbare plek van jou geskei word en jou nie kan kry nie, leer hom om na ‘n ander mamma te gaan om hulp. Menende ‘n vrou met kinders. Nie iemand in ‘n uniform of ‘n oom of enige iemand wat amper gaaf lyk nie. ‘n Mamma. ‘n Vrou met kinders is die mees waarskynlike persoon wat jou kind opreg sal help weens haar moederlike instinkte. ‘n Persoon agter ‘n toonbank is ook nie ‘n slegte opsie nie – hul is in die publieke oog en moet hulp verleen.
  • Kommunikasie,kommunikasie kommunikasie! Praat met jou kinders en verduidelik die gevare aan hulle – hou dit natuurlik relevant teenoor hul ouderdomsgroepe. Ek verduidelik aan my 3 en 6 jariges dat daar lelike mense is wat kindertjies steel. Hierdie mense maak kindertjies seer en laat hulle baie baie hard werk. Dan mag die kindertjies nooit ooit weer hul mamma en pappa sien nie, hul het nie speelgoed nie, daar word nooit vir hul stories gelees nie en hul mag nie TV kyk nie. Moedig hulle aan om met jou te praat oor enige iets.
  • Dit is ook belangrik dat jou kinders jou telefoon nommer en huis adres ken. As hul ‘n goeie geheue het kan jy hul sommer ‘n naasbestaande se nommer ook leer. Daar bestaan nie iets soos te veel inligting nie.
  • Maak ‘n geraas. As iemand jou na ‘n plek neem waar jy nie wil wees nie of waar jy ongemaklik voel, maak ‘n geraas. Skop, slaan, byt en skree so hard as jy kan!
  • Sosiale media is gevaarlik! Ek kan ‘n hele artikel op sy eie hieroor skryf. Dit is baie belangrik om nooit foto’s van jou kinders met hul skoolklere op sosiale media te plaas nie. Beperk foto’s van jou kinders, of verander jou privacy settings sodat net jou vriende of selfs net jy die foto’s kan sien. Moet nooit op ‘n oop profiel skryf waar jy woon of waar jou kinders skool gaan nie. Dis is skokwekkend hoe baie iemand van jou, jou kinders en jul roetine kan leer deur sosiale media!
  • Vermy liefs die winkels met jou kinders – jou aandag is afgetrek en almal weet dit. Jy moet jou handsak vashou, jou kinders dophou, onthou om die kar te sluit, kyk dat jou kind nie onder ‘n ander kar se wiel beland nie, jou inkopielysie nagaan en dan nog vir Tant Sarie groet wat van oorkant die pad af wuif.
  • Indien jy nie anders kan as om die kinders saam te neem nie, moenie jou kinders alleen laat nie! “Staan hier by die trollie, Mamma gaan net gou melk kry” is iets wat ek ook doen. Maar dit is só verkeerd! Moenie toelaat dat jou kind iewers alleen sit, staan of speel nie. Hou hom in die oog (verkieslik aan die hand) en wees bewus van alles en almal rondom julle.

 

Net omdat jy in ‘n veilige woonbuurt of op die platteland woon beteken nie jy en jou kinders is teen hierdie tipe misdade gevrywaar nie. Ek leer my kind eerder om versigtig te wees vir mense met hul maskers as wat ek eendag spyt is dat ek nie het nie.

 

Ons maak hierdie week groente met ‘n masker: ‘n sjokolade-beetkoek.

Ek was só skepties om hierdie resep te toets, maar is bly dat ek het.

Bestandele

Koek:

¾ k olie

1k bruinsuiker

4 eiers

2 eetl gouestroop

1 teel vanieljegeursel

1 ½ k bruismeel

5 eetl kakao

½ teel koeksoda

Knypie sout

5 eetl melk

1 ½ k gaar, geskilde beet, grof gerasper

Versiersel (opsioneel):

200g (1 groot pak) donker baksjokolade

2e botter, gesmelt

2e likeur van jou keuse

 

Metode

Stel oond op 180˚C

Koek:

Klits olie, suiker, eiers, stroop en vanieljegeursel saam.

Sif bruismeel, kakao, koeksoda en sout saam. Roer by eiermengsel.

Roer melk en beet by.

Skep in gesmeerde 22 cm-losboomkoekpan of in groot ringkoekpan wat met kossproei bespuit is.

Bak vir 40 minute of tot toetspen skoon uitkom.

Laat bietjie in koekpan afkoel. Keer op draadrakkie uit om heeltemal af te koel.

Versiersel:

Smelt sjokolade in dubbelkastrol of in mikrogolf teen 70% krag.

Roer botter en likeur by en smeer oor koek.

Ek geniet die koek meer sonder die versiersel, maar sif ‘n bietjie versiersuiker oor vir ‘n mooi voorkoms. My man en kinders verkies egter die opsie met sjokolade versiersel. Die beste van alles is dat hulle nie eers besef dat daar beet in is nie!

One thought on “Masker op!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui