Uit die mond van n suigeling

Uit die mond van n suigeling

Uit die mond van n suigeling….

Kinders het nou maar net die vermoëns om jou nederig te hou. Hulle is nuuskierig en verstaan nog nie die wêreld nie – hulle word geleer dat hulle nie mag jok nie, maar tog verwag ons van hulle om ‘n witleuntjie elke nou en dan te vertel ter wille van iemand se gevoelens. Maar dis nie hoe kinders werk nie – hulle sê wat hulle dink en ongelukkig is dit gewoonlik die reine waarheid op die mees ongepaste tye.

Ons kyk hierdie week na ‘n paar dinge wat ons kinders kwyt geraak het wat gemaak het dat ons net ons koppe in skaamte kon laat sak.    

Die keer toe my broer as klein seuntjie hardop in ‘n openbare plek sy vingertjie na ‘n vrou uitsteek en roep “Mamma, is dit die heks daardie?!”

 

Die keer toe ‘n vriendin se seuntjie sy ma vra of daardie vet oom ook ‘n baba gaan kry nadat sy aan hom verduidelik het dat die tannie se maag so groot is omdat daar ‘n baba in is.

Die keer toe my eie seuntjie wil weet of daar ‘n baba in my maag is nadat ek sy vraag op hoekom ek so vet is (REGTIG????) geantwoord het met “As jy baba’s kry word jy maar vet my kind” Ek het myself seker oopgemaak vir daardie vraag…

 

Wanneer jy jou kind van goed en sleg probeer leer tydens ‘n storie op TV. My 3 jarige dogtertjie wou doodeenvoudig nie aanvaar dat Mother Gothel in Tangled ‘n lelike of slegte tannie is nie, want mamma’s lyk dan so. Ek het onmiddelik in die spieël gaan kyk en was nogal verbaas:

Tydens my swangerskap het my toe tweejarige met groot entoesiasme vir almal vertel dat sy mamma soos Mr. Smee van Jake & the Neverland Pirates gelyk het weens die maag wat uitsteek.

Toe hy 4 jaar oud was het ‘n seuntjie by die kleuterskool eendag gevra wanneer hy by ons huis kan kom kuier. My seuntjie se antwoord – terwyl die kind se ma langs hom staan – was “Nee, jy mag nie by ons kom kuier nie. Jy is te stout, jy’t mos nie ore nie!” Ek wou weghardloop! Veral aangesien ek die arme kind nie eens geken het nie!

 

Daar was natuurlik ook die keer wat ek vir die verkeersbeampte vertel het ek moes vinnig ry om tuis te kom weens ‘n noodgeval. My kind het hard en duidelik gesê “Is nie! Mamma het dan gesê ons gaan Pick n Pay toe!”

Ek sidder nog vir die dag wanneer my kinders my man se werkgewer moet ontmoet…  Omdat ek nie graag die kinders na sy werk wil neem nie vertel ek vir hulle dat pappa ‘n vreeslike kwaai baas het wat kindertjies eet – natuurlik is dit nie waar nie. Die man is heel gaaf, maar my kinders sal die plek op horings neem! Ek het al van kinders gehoor wat vir hul ouers se base tydens ontmoeting  sê “My pappa sê Oom is ‘n poepol.” Ja, kinders hoor wat ons as volwassenes sê. Al dink ons nie so nie.

 

Nog ‘n gebied waar kinders pynlik eerlik is, is wanneer dit by kos kom. Tydens ‘n troue so paar jaar terug het my seuntjie aangehou dat hy van die “druiwe” op die tafel wou eet. Ek het geweet dat hy nie van die olywe sal hou nie, maar het naderhand een vir hom gegee. Met ‘n vreeslike gesig het hy dit ingesluk en gesê:”Dit was lekker, maar ek wil asseblief nie nog ene hê nie.” Ek was verbaas oor sy takt!

 

Soveel dae kom die kosblikke ook half geëet terug huistoe, want hulle eet kamtig nie worsbroodjies nie. Snaaks, hul het elkeen net die dag vantevore drie verslind. Ek het onlangs ‘n heerlike resep ontdek waaraan nie net die kinders nie, maar ook grootmense sal smul! Dit is ‘n lekkerny wat vinnig en maklik is om voor te berei plus, die kinders kan help daarmee:

Grondboontjiebotter-balletjies

Bestandele

1 koppie Grondboontjiebotter (crunchy werk die lekkerste)

6teel heuning

1/8 teel sout

3 koppies Rice Krispies

½ koppie gesmelte sjokolade

 

Metode

Smelt die grondboontjiebotter, heuning en sout oor lae hitte vir ‘n paar minute.

Voeg die Rice Krispies by en meng goed.

Skep teelepels vol hopies op ‘n bakplaat / bord met waspapier uitgevoer.

Rol die hopies in balletjies en plaas in die yskas vir 30 minute.

Gooi die gesmelte sjokolade oor die balletjies en plaas weer in die yskas vir ‘n paar minute totdat die sjokolade hard is.

Bedien.

Die mengsel kan ook in ‘n muffinpannetjie vasgedruk word, dan is die happie heelwat grootter.

3 thoughts on “Uit die mond van n suigeling

  1. Ek en ‘n vriendin was ‘n paar jaar gelede so in ‘n penarie. Ons is nou ons dorp se skou en toe was dit nog dat kinders onder 6 verniet ingaan. My dogtertjie was nog nie 6, maar my vriendin se tweeling was reeds reeds. In die motor oppad skou toe se ons aan die kinders dat hulle almal 5 is as die hek personeel vra. (jong, om ‘n paar rand te spaar, en spending money binne te kon he, het ons probeer.) Toe ons by die hek kom en die dame vra hoe oud is die kinders , antwoord ek en my vriendin ewe 5jaar oud, wel een van die tweeling se kliphard “issie ek is 6, ek is nie 5 nie” . Hoe meer ons stry met haar, hoe meer hou sy vol. Gevoel of die aarde ons kan wegsluk. Ons is in met ‘n kleuter wat baie vies is vir ons, maar het darem die skou kon geniet.

  2. Hallo! My 6 jarige seuntjie het vir my ma se vriendin gevra hoekom haar boude so groot is, dit het gevoel of die aarde my gaan insluk, maar gelukkig het sy gelag en net gese ten minste is hy eerlik

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui