Slaaptydroetine

Slaaptydroetine

Slaaptydroetine. In ons huis is dit eet, bad en slaap. Teen 8 uur is al die kinders in die bed en aan die slaap. Regtig? REGTIG? Genade, deel asb jou geheim met my!! As ‘n mens se sukses as ouer gemeet was aan  kinders wat teen 8h in die bed is met vol magies en skoon lyfies het ek gefaal. Met ‘n onderskeiding. Dis nie dat ek dit níe probeer toepas nie, maar, ag ek weet nie. Terwyl ek afdek en die volgende dag se kosblikke voorberei stuur ek my (bekwame) man om solank vir die kinders badwater in te tap. Ek hoor ‘n geskreeu en gejuig en dit is waarop ek afkom:

 

Ja, badtyd het in speeltyd verander. Dit gaan vir omtrent ‘n halfuur aan voordat ek hul sover kry om in die bad te klim. Wat teen die tyd al so koud is dat ‘n ysbeer nie eens meer daar sal wil inklim nie. Maar ek durf ook nie ‘n druppel warm water by tap nie. O nee, net nie dit nie! Die hemele sal mos ineenstort as dit gebeur.  Dan is dit nog ‘n halfuur se gebibber en gespartel om hul uit die bad te kry, maar vir die eerste 20 minute van daardie halfuur baklei hul glad nie. Dis soos musiek in my ore so ek los hul maar. Hulle borsel sommer ook tande in die bad ook, die plek is reeds ‘n oorlogsone. Nog ‘n bietjie tandepasta daarby gaan nie ‘n verskil maak nie.

*Affiliate link – Up to 55 days interest-free credit. Only at Pick n Pay

As dit by uitklim kom draai ek hulle kammakastig nie reg toe in die handoeke nie. Dus moet pappa tot hul redding kom en hulle afdroog en aantrek – dit klink nou of ek kla, maar diep hier binne my kry ek eintlik vreeslik lekker! Laat die man sy deel doen!

Volgende is storietyd. Die twee is nou op ‘n stadium dat hul belangstellings hemelsbreed verskil. Dus moet daar nie net 2 stories gelees word nie, maar ook 2 Bybelstories en twee verskillende gebedjies opgesê word. Die logiese oplossig sou wees dat ek vir een in haar kamer lees en my man vir die ander in sy kamer. Maar weereens kan ek blykbaar nie lees nie. Pappa moet dit alles behartig – in die groot bed.

Ons het onlangs van ‘n dubbelbed na ‘n queen size opgradeer, maar ek is nou al spyt dat ons nie maar ons oë toegeknyp het en klaar na king size gegaan het nie. Dis nou goed en wel dat pappa alles moet doen, maar nou is dit ‘n gestry oor wie langs mamma lê en storie luister. Dit raak so effens knap met ons al vier in die bed. Jy moet maar om lewe en dood klou om jou plekkie te behou!

Moet ook nou nie dink dat dit die einde daarvan is nie. Net sodra almal op die bed pas en hul lê gekry het is iemand dors. Die hele dag soebat en smeek en dreig ek om water in hul lywe te kry. Maar laat slaaptyd nou sy opwagting maak. Dan is ALMAL skielik dors vir water. Ja, dis ‘n ding. Jy is dors vir oros die hele dag, maar snags is jy dors vir water.

Dan skielik is Alta nie gelukkig met haar gunsteling kombersie nie. Sy soek nou haar kolletjie kombersie. Regtig? Ek het nie eers geweet daar ís ‘n kolletjie kombersie in ons huis nie! Dan besef jy dit is daardie ene wat jy eenkeer op uitverkoping gekoop het vir ‘n toekomstige geskenk en in die kas gebêre het wat sy verlede week raakgesien het opsoek na wie-weet-wat in jou linnekas. Regtig? Nee, daar is letterlik 5 kombersies in haar kamer waarvan sy kan kies en keur. Sy kry NIE daardie kolletjie kombersie NIE!

 

Goed, sy het die wolkie-bersie as troosprys aanvaar. O wag, haar baba kry ook koud en hulle wil skielik slaapkouse aantrek. Daardies wat onder in die wasgoedmandjie lê…  Nou jeuk een se voet en die ander een het sy speelgeweer nodig. En skielik wil een weer ‘n draai loop. Hoe is dit moontlik? Hy het letterlik 2 minute terug sy blaas leeggemaak! Heeldag vra ek ook uit oor hul dag by die skool en nou skielik onhou hul van al die opwinding en wil vertel wat hul als gedoen het. Kyk, teen hierdie tyd wil ek my hare uit my kop uittrek! Die hele ding het my uitgeput, maar ek kan nie nou durf aan die slaap raak nie, want ek het eintlik nog werk wat gedoen moet word.  

 

Uiteindelik wen Klaasvakie die stryd en raak hul altwee aan die slaap. Ons glip uit en gaan sit die ketel aan. Geen mens kan nou nog funksioneer sonder koffie nie. Wyn sou ideaal gewees het, maar nie op ‘n Dinsdag aand 10h nie! Dalk 10 jaar terug… Nou is dit koffie. Wens hier was koek.  Die wonderlike ding van ons era is dat ek nie hoe lank in die kombuis hoef te staan en afsloof vir ‘n stukkie koek 10h in die nag nie. Iemand het “koppiekoeke” uitgedink! Dis so maklik en vinnig voordat die ketel nog gekook het, het ek ‘n beker koek in die hand!

As jou dag jou dryf tot ‘n stuk koek vergeet tog van die dieet, want stress maak ook vet. Ek het ‘n paar “koppiekoek” resepte probeer, maar terwille van my heupe is die volgende een seker die beste. Hy is nie so soet soos die meeste van hierdie tipe resepte nie, maar is steeds heerlik – enige tyd van die dag of nag!

Bestandele

  • 1 sachet Nescafe Gold (‘n opgehoopte teelepel Ricoffy werk net so goed)
  • 3 eetl melk
  • 4 eetl bruismeel
  • 2 eetl suiker
  • 3 eetl kookolie

Metode

Meng eers die koffie en melk sodat die koffie behoorlik oplos.

Voeg die res van die bestandele by en meng goed met ‘n vurk.

Maak seker dat daar geen klonte is nie. Die koppie moet nie meer as halfvol wees nie, anders gaan hy oorloop.

Plaas vir een minuut op hoog in die mikrogolfoond.

As hy nie gaar genoeg is na jou sin nie (ek hou daarvan as hy nog bietjie gooyey is aan die onderkant) plaas hom terug in die mikrogolf vir nog 10 sekondes.

Ontspan vir ‘n oomblik en geniet!

As jy hiervan gehou het sal jy dalk van ‘n Regtig geskenkpak hou. Bestel vandag jou koppiekoekbekers teen R95 elk. Posgeld uitgesluit.

Plaas gerus jou bestelling by colenebloem@gmail.com of regtigblog@gmail.com

One thought on “Slaaptydroetine

  1. Sjoe, dis ‘n rowwe aand vir jou! Ek is geseen met ‘n maklike kind! Eet so half 6, 6 uur, dan speel met Pappa wat intussen tuis gekom het. Bad half 7, en Pappa help ook graag. Ek droog af en smeer room, trek aan, borsel tande en gaan sê vir Pappa nag. Dan bed toe om Bybel te lees en bid. Lig af en lê so 5min by haar en dan sit ek haar in haar eie bedjie, ek loop en maak die deur toe en sy slaap binne minute…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui