‘n ma se lot

‘n ma se lot

Om ‘n ma te wees is seker gelyktydig die wonderlikste asook vreeslikste ding wat met ‘n vrou kan gebeur. Meerendeels wonderlik, maar ten minste een oomblik per dag vreeslik…

 

My kinders bring kleur, vreugde en opwinding in my lewe. Hulle laat my lag,  laat my onthou waaroor alles gaan en hul hou my op my knieë. Hulle het nie ‘n rede of selfs musiek nodig om te dans nie, hulle dans net! Hulle verwonder hulle aan klein goedjies soos skoenlappers wat ons as grootmense nie eens meer raaksien nie.

Maar ten minste een keer per dag is dit vreeslik om ‘n ma te wees; dit is gewoonlik etenstyd. My ma het eendag met uiterse frustrasie in haar stem gesê dat sy ook nou verstaan hoekom haar ma nooit kon sit en eet nie. Ek het nie verstaan hoekom sy so sou sê nie, maar hoe sou ek kon? Vandag dat ek self ‘n ma is verstaan ek maar al te goed wat sy bedoel het. ‘n Ma se take voordat sy self kan eet is mos soos volg:

 

  • Besluit wat om vir ete te maak – ten minste een persoon in die huishouding sal ontevrede wees oor jou besluit.
  • Berei die ete voor terwyl jy keer dat klein handjies op ‘n plaat of onder ‘n mes beland.
  • Weier snoepgoed vir die volle halfuur voordat kos op die tafel is – wanneer kinders kos ruik word hulle mos vreeslik honger vir snoepgoed. Hoekom??
  • Red die kinders se halfhartige poging tot ‘n gedekte tafel.
  • Roep die kinders vir ete.
  • Wanneer die kinders opdaag is jou man weg en jy roep hom vir ete.
  • Wanneer jou man opdaag is die helfte van die kinders weer weg, dus moet jy die ander kind gaan soek.
  • Gooi vir die kinders melk in.
  • Ai tog, hul wou sap gehad het.
  • Ai tog, daar stamp hul die sap om. Maak skoon.
  • Kry die sout vir iemand.
  • Bring ‘n skoon lappie vir iemand.
  • Maak die kos weer warm.
  • Sit aan vir ete.
  • Bid.
  • Staan op om vir jouself iets te drinke te kry.
  • Terwyl jy op is, kry die brood vir daardie een wat ontevrede is oor jou keuse van kos.
  • Sit aan vir ete.
  • Nee wag, kry die botter. Die ander se hande is mos rond.
  • Weier die versoeke om verskoon te word. 4 keer.
  • Sit aan vir ete.
  • Nee wag, jou vurk is weg. Gaan kry ‘n ander een.
  • Sit aan vir ete.
  • Tel tot 10 net ingeval .
  • Eet. Miskien…

 

Daar het jy dit nou! Dis maar ‘n ma se lot! ‘n Maklike dis om dalk so 2 van die stappe te verminder help altyd. Ek deel graag ‘n resep wat ek by Andriëtte Singleton gekry het vir my kombuistee in 2009.  

Kits maaltyd

1                    Ui

                      Botter

500g             Maalvleis

200g             Rys

1 Blikkie      Mielies

2                    Tamaties

1 Pakkie        Beesstertsoppoeier

 

Braai fyngesnyde ui  in botter en voeg effens gegeurde maalvleis by. Maak net effens gaan. Gooi ongekookte rys in oondskottel. Versprei maalvleis bo-op rys. Gooi moelies bo-oor. Sny tamaties en sit bo-oor mielies. Gooi pakkie soppoeier net so droog bo-op en vul bak met 2 – 4 koppies water. Sit deksel op en bak plus minus ½ uur in matige oond by 180 grade.

One thought on “‘n ma se lot

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui