Hoekom al die hoekoms ….

Hoekom al die hoekoms ….

“Mamma, hoekom is jy in die kombuis?”

“Want ek moet kos begin maak.”

“Hoekom moet jy kos maak”

Goeie vraag, ek wil ook weet… “Sodat ons vanaand iets het om te eet.”

“Hoekom moet ons iets eet?”

“Omdat julle honger is.”

“Hoekom is ons honger?”

“Omdat julle vanmiddag laas geëet het.”

“Hoekom het ons vanmiddag geëet?”

“Omdat, uuuhm… Omdat dit etenstyd was en julle toe ook honger was.”

“Hoekom?”

1, 2, 3, 4, 5, 6… “Omdat jou lyfie kos nodig het.”

“Hoekom het my lyfie kos nodig?”

“Om te kan oorleef.”

“Wat is oorleef?”

“Om te kan lewe.”

“O. Hoekom het my lyfie kos nodig om te kan lewe?”

“UUUURRRRGGG! Regtig?!” roep ek teen die tyd al uit.

“Hoekom sê jy UUUURRRRGGG! Regtig!?”

“Want jou frontale lob beskik nie oor die vermoëns om die konsep van ‘n pedikoop-sinoop-strottehoof-sin-sjen-taf te verwerk of begryp nie!” Ha! Ek wen!

 

Die “hoekom” fase is genoeg om enige persoon teen die mure uit te dryf!  Soms vra sy hoekom omdat sy sien dit frustreer die lewende wit waks uit my, maar ander kere kan ek agterkom dat sy oor my antwoord dink voordat sy die hoekom vra. As ek haar nie gaan antwoord nie gaan sy dalk net iemand anders vra wat haar moontlik van die wal af in die sloot in gaan help. Maar oi! Dis so ongelooflik moeilik om my koel te hou en om met antwoorde op te kom!

Ek het ons groot vriend Google geraadpleeg en op die volgende afgekom:

HOEKOM VRA SY HOEKOM?

Die volgende punte is nogal behulpsaam om jou en jou kleinding deur die eindelose hoekom fase te help:

OM MEER TE LEER

Jou kleuter wil graag so veel as moontlik aangaande sy omgewing leer. Jy kan dit aanmoedig deur die vrae te antwoord of jy kan sy nuuskierigheid  onderdruk deur haar af te jak of te ignoreer. Ek moet myself konstant daaraan herinner dat ek haar help groei. As ek haar nou ontmoedig om vrae te vra gaan sy later in haar lewe, wanneer vrae gevra moet word, nie wil vra nie.

 

OM AANDAG TE KRY

Kleuters is soveel slimmer as wat ons besef. Hulle weet baie goed dat deur hoekom te vra hul onmiddelik jou aandag kan kry. Al voel dit soms of jy haar kan verwurg is daardie “hoekom” dalk slegs ‘n pleitdooi na ‘n ekstra paar oomlike vir aandag en oogkontak.

 

OM IN BEHEER TE BLY

Kleuters hou daarvan om in beheer te wees van hul situasies – daarom word roetine ook aanbeveel deur kenners. Soms is die herhaaldelike vrae eenvoudig ‘n manier om in beheer van die gesprek te bly. Kleiner kinders se woordeskat is dalk nog beperk en geniet dit dat hul die een word bemeester het wat ‘n gesprek kan begin of aan die gang te kan hou.

 

So hoe hanteer ‘n mens dan nou hierdie fase sonder om heeltemal van jou kop af te gaan?

 

Ek kon op ‘n paar voorstelle afkom. Almal sal nie noodwendig vir jou kind werk nie, dus is dit goed om al die opsies te toets. Dit laat jou toe om meer in beheer te wees en die fase met meer geduld aan te pak.

 

MOENIE DIE VRAE IGNOREER NIE

As jy op jou foon sit en op al die regte tye “uhm” of “aaah” of “sommer” sê dan gaan die kind meer aanhou.  Ek weet, dis nie dat jy aan jou foon verslaaf is nie, maar jy probeer nou al vir 10 minute om die boodskap te lees aangaande die reëlings vir jou vriendin se opkomende baba-tee. Maar nee, die malhuis waarin jy woon is op sy dak gekeer en die  eenvoudige 10 sekonde boodskap moet oor en oor gelees word, want dit dring jou net nie binne nie. Jy kan jouself nie eers hoor dink nie. En ek het net twee kinders! Hoe doen mense dit met 4? Regtig?

 

Sit eerder die foon neer, behartig die 52 “hoekoms” en probeer dan weer jou boodskap lees.

 

DIS AANVAARBAAR OM NIE DIE ANTWOORD TE KEN NIE

Ons is net mamma’s. Nie biochemiese ingeneurs nie. Dis verbasend hoe ‘n kind dit kan aanvaar as jy antwoord met iets soos “ek is nie seker nie, kan ek uitvind en jou dan vertel?”

Ek weet ook nie hoekom katte nie van water hou nie of hoekom die elektriese klitser in so vinnig in die rondte kan draai nie. Vra my eerder hoekom ons die eiers moet klits… Probeer gerus ‘n oplossing soos “Hoekom dink JY hou katte nie van water nie” of “kom ons vind uit hoekom die klitser so kan werk.”

 

SOEK SAAM NA DIE ANTWOORD

Ek het op raad afgekom om jou kind voortdurend deur hul lewens te laat leer en dit is vir hulle om hul ouers te sien soek na antwoorde.

“Ek weet ook nie hoekom die klitser so kan werk nie, maar kom ons vind uit.” Gaan krap daardie ou uitgebrande klitser uit die garage en haal hom uitmekaar. Met vandag se tegnologie het ons die wêreld se inligting beskikbaar, soek die antwoord op – aanlyn, in ‘n boek of by die biblioteek. Dis nou  as jou dorp nog gelukkig genoeg is om een te hê.

 

Goed, die klitser voorbeeld is dalk bietjie hoërgraad vir ‘n 3-jarige, maar hier is ‘n Youtube video wat jou wys hoe om jou eie elektriese klitser te maak. Dis dalk ‘n lekker projek vir ‘n ouer kind:

https://www.youtube.com/watch?v=VtrHRqgx6Y0

ANTWOORD DIE WERKLIKE VRAAG

Dis moeiliker gesê as gedaan. Soms is daar ‘n dieperliggende vraag aangaande die situasie waarin ‘n kind homself bevind en weet hy nie noodwendig hoe om dit te vra nie. As my dogtertjie vra hoekom sy in die kar moet klim wil ek vreeslik graag antwoord “want ek sê so.” Maar moontlik wil sy eenvoudig net weet waarheen ons gaan, hoe lank ons gaan weg wees of wie almal saamgaan.

 

Dis blykbaar ook goed om net so effens bo hul vuurmaakplek te verduidelik, sodat die leerproses voortdurend is. As my kind byvoorbeeld vra hoekom party bome se blare gedurende die winter afgeval het en ander nie, kan ek iets antwoord soos “Party bome se blare bly heel jaar groen, ons noem dit immergroen bome. Ander bome se blare verander van groen na oranje, rooi, bruin of geel en val dan af. Ons noem hulle bladwisselende bome en hul blare groei weer terug in die lente.”

 

Mmmmm, ek kan sien hoe dit kan werk, maar ek kan regtig ook ‘n paar loopholes in hierdie tipe antwoord sien. Ek skraap nog die moet bymekaar om die metode toe te pas.

 

DRAAI DIE VRAAG TERUG NA HOM

Ons verbeelding is soms beperk. Deur die vraag terug te draai na die kind moedig haar dalk net aan om haar verbeelding te gebruik en hul kom soms met die oulikste antwoorde vorendag; my dogtertjie was vreeslik verontwaardig toe ek haar vra hoekom katte nie van water hou nie. “Hulle hou van water! Hulle drink dit dan!”

VERANDER DIE ONDERWERP NA JOU ANTWOORD

Dit behoort te help om haar aandag op iets anders te vestig. Dit kan verband hou met die huidige onderwerp of iets heer irrelevant wees soos “Kyk! ‘n vlieënde vark!”  Maar dink mooi oor jou woordkeuse. Vlieënde varke is dalk nie die beste idee nie, daar volg dalk net ‘n reeks vrae oor varke se vermoëns om te kan vlieg.

 

FORSEER HAAR OM DIE VOLLEDIGE VRAAG TE VRA

Ek ondervind dat dit my kinders laat dink oor wat hul vra. In stede daarvan om eenvoudig net “hoekom” te vra moet sy die vraag voltooi. Hoekom wat? “Hoekom moet ons vanaand eet?” Dit moedig die woordeskat aan en leer hul die vaardigheid van volledige vrae en antwoorde. Die bonus is ook dat as sy nie ‘n woord kan uitspreek nie sy nie die vraag vra nie. My gunsteling is ‘n opgemaakte woord soos pedikoop-sinoop-strottehoof-sin-sjen-taf. 😉

 

Om mee af te sluit het ek ‘n hele paar “ hoekom ” vrae van my eie. Maar sal by een bly. Hoekom kan my pampoenkoekies nie soos my ma s’n proe nie? Ek en my niggie het beide hierdie resep van ons ouma by ons ma’s gekry, maar kry dit doodeenvoudig net nie reg dat dit soos hulle s’n proe nie.

 

Die koekies is veronderstel om sag te wees sodat die sous intrek, maar myne bly sulke harde bolletjies. Ek plaas die resep, dalk het iemand anders meer sukses as ek.

Pampoenkoekies met Karamelsous

Koekie bestandele:

500ml gaar pampoen

50ml suiker

4 eiers, geklits

400ml meel

20ml bakpoeier

2ml sout

Olie vir diepbraai

 

Sous bestandele:

400ml suiker

100ml botter

Karamelgeursel

400ml water

400ml melk

50ml vlapoeier

 

Metode:

Meng die pampoen, suiker en eiers.

Sif die meel, bakpoeier en sout en meng met die pampoenmengsel.

Bak lepelsvol in warm olie.

Braai die suiker en botter totdat die suiker verbruin.

Voeg karamelgeursel na smaak by.

Gooi die water en melk stadig by en verhit tot kookpunt.

Maak die vlapoeier met bietjie van die melk aan en gooi by.

Kook sous tot dik.

Gooi oor warm pampoenkoekies.

 

Hiedie resep lewer sowat 60 pampoenkoekies. Wat maak ‘n mens met 60 pampoenkoekies? Verminder die sous vir soveel as wat jy dadelik nodig het. Vries die res sonder sous vir latere gebruik. Ek sou raad wou gee oor hoe om die sous dan steeds te laat intrek. Maar my sous trek nie eens in die eerste plek in nie. HOEKOM NIE???

Voetnota

Op die laaste aand voordat ek die skrywe moet instuur maak ek gou die pampoenkoekies om foto’s te kan neem. Iemand het genoem dat ek miskien die olie nie so warm moet laat word nie, dalk help dit. Ek is vasberade om suksesvolle pampoenkoekies te maak vir goeie foto’s. Die deeg is veel papper as gewoonlik, maar ek besluit daarteen om ekstra meel by te gooi vir ‘n stywer deeg soos wat ek gewoonlik sou doen. En net daar kom ek my fout agter! My deeg was nog altyd te styf! Nig, ek weet jy lees; MOENIE EKSTRA MEEL BYGOOI NIE! DIS HOEKOM DIT NIE WERK NIE!

One thought on “Hoekom al die hoekoms ….

  1. Haha … ek maak vandag weer pampoenkoekies … na ek opgegee het en dit omtrent 10jaar laas gemaak het!
    Ek wag nog vir die hoekoms, dankie vir al die inligting en raad … ek is ongeduldig en hoop ek sal kalm kan bly!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui