Skape en Skuimpies

Skape en Skuimpies

Dit is daardie tyd van die jaar waaroor my kinders gek is. Dit is lamtyd vir die skape! Hulle wil tóg net te graag aan die ou goedjies vat en vryf. Natuurlik mag hulle nie, want anders gaan die ooie nie weer die lammers vat nie. Daar bly tog enkele ooie wat wel hul lammers weggooi en díe lammetjies word dan hans-lammetjies. Of sommer Hansies. As dit by name kom strek ons kreatiwiteit so ver soos…. jy het reg geraai. Hansie. Of Lammie. Dis eintlik ‘n vreeslike hartseer storie om vir die goedjies name te gee, want dis soveel swaarder om ‘n ding met ‘n naam te slag. Maar dit daar gelaat.

In my ervaring wag die ooie totdat die winter op sy koudste is voordat hul lam. Gewoonlik op die dae wat temprature nie double digits bereik nie gooi hul dan ook hul lammers weg. Dan moet jy nou daar in die bibberende, ysige koue loop staan en ‘n lawwe lam wat op en af hol en blêr asof dit nou sy pensie gaan vol maak, vang. Ons prober gewoonlik eers die ma vashou om die lam te laat drink, ter wille van daardie eerste dag of twee se bies. Dis nou nog ook ‘n gedoente om die ongewillige ooi gevang te kry en sover te kry om stil te staan, ek neem haar ook nie te veel kwalik nie. As jy nie aan jou gesuig wil hê nie is dit dit! Siestog…  Die kinders dink natuurlik dis vreeslik prêt, maar dis nie hulle wat na die tyd klitse en steekgrasse wat van die skaap se wol af kom uit almal se klere moet haal nie!

 

As sy dan steeds nie haar lam wil aanvaar nie moet ons die dingetjie leer om uit ‘n bottel te drink. Dis nou vir jou van voor af ‘n storie, want die kinders wil tog net help! Hul verstaan nie hoekom  die lammetjie nie onmiddelik na hulle toe wil kom of onmiddelik reg uit die bottel wil drink nie. As hy na 1 teug die tiet los is hulle heel tevrede. “Die lammetjie sê sy magie is vol.” Maar die dingetjie is so dun, ek verwag dat hy enige tyd gaan omval! Teen dag 3 loop dinge vlot, die lammetjie is in ekstase as hy mense sien en gryp dan sommer ‘n mens se vinger as die bottel nie vinnig genoeg naby is nie. Daarna stuur ek die kinders sommer op hul eie. Dan het ek so 10 minute se stilte – dis asof die twee van my kyk wie die meeste kan praat!  

Maar dis ook nou nie so maklik soos gooi net melk in ‘n bottel en daar gaan jy nie. Behalwe dat die melk tot die regte temperatuur verhit moet word, moet daar vir die kleiner lammetjies nog ‘n spesiale mengsel aangemaak word. Dit bevat onder andere eiergeel. Dus sit ek met genoeg eierwit om ‘n weermag te voed. Aanvanklik het ek dit sommer by die roereiers vir ontbyt gegooi, maar wie hou nou van wit roereier? Wie hou van eier? Ek is glad nie ‘n aanhanger nie!

 

Soos ek eendag deur my gunsteling resepteboek in plaas van ‘n tydskrif blaai – sê asseblief vir my daar is nog iemand wat dit doen? – kry ek ‘n resep vir skuimpies. Wel, ek het nou die spul eierwitte. Ek kan dit net sowel probeer. En dit was ‘n rasende sukses! Wie sou kon raai dat dit so maklik is?! Aanvanklik het ek dit net met die handklitser gedoen, maar as jy gelukkig genoeg is om iets soos ‘n Kenwood te hê is dit selfs nóg makliker! Die kinders is gaande daaroor en ons eksperimenteer tog te lekker! Dit gee ons almal geleentheid om behoorlik met ‘n spuitsak te leer werk en met verskillende kleure te speel.  Daar word doppies gemaak en gevul met gekookte kondensmelk, styfgeklopte room of wat ons ookal voor lus kry. Die bonus is dat ek dit kan vries tot my kind se verjaarsdag in September, want solank dit lugdig is kom dit sowaar niks oor nie! Ja, deesdae sien ek net so baie uit na lamtyd as die kinders, maar om heel ‘n ander rede!!

 

Ek deel graag die resep uit Vinnig en Maklik Resepte uit Vrouekeur 2:

 

Skuimpies (Meringues)

Bestandele

  • 2 Eierwitte
  • 1 ½ k strooisuiker (As jy nie strooisuiker in jou huis het nie is dit nie die einde van die wêreld nie. Ek het al sukses gehad met gewone suiker, jy moet hom net redelik langer klits)
  • 3 eetl kookwater
  • 2 teel witasyn
  • 1 teel vanieljegeursel
  • 2 teel bakpoeier, gesif (die kinders het my sif onderskep om wie-weet-wat mee  te maak, dus word niks gesif nie)
  • Kleursel van jou keuse (opsioneel)

 

Metode

Stel oond op 100˚C

Klits die eierwitte tot amper styf en klits strooisuiker, kookwater, witasyn en vanieljegeursel by. Hou aan klits tot dik, ongeveer 10 minute. (Byt vas, dit voel soos vir ewig!)

Sif bakpoeier bo-oor geklitste mengsel en vou in

Skep eierwitmengsel in versiersak sonder punt en spuit op bakplaat wat met bakpapier gevoer is, of skep teelepels vol op bakpapier. Indien jy gekleurde skuimpies wil hê kan jy die mengsel verdeel en kleur.  Jy kan slegs een kleur op ‘n slag skep of die kleure meng vir ‘n bont skuimpie. Die moontlikhede is eindeloos! Moet egter nie meer as 3 kleure op ‘n slag probeer nie – dit werk nie so goed uit nie.

Bak vir 60 minute. Laat afkoel in oond tot koud. (Maak nie saak hoeveel keer die kinders vra nie, moenie daardie oond oopmaak nie!! Die skuimpies sal klam en taai bly in die middel. Leer asseblief uit my fout!)

    

2 thoughts on “Skape en Skuimpies

    1. Jy maak ‘n vulsel vir die skuimpie doppies, soos wat jy ‘n meringue vulsel sou maak. Andersins maak jy brownies – daar is verskeie resepte wat net die geel gebruik.
      Of as jou dogtertjie soos myne is bak jy die geel vir haar. Sy hou in elk geval nie van die wit nie!
      Geniet dit & vra gerus as jy resepte vir die vulsel of brownie resepte benodig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui