Stadig Mamma

Stadig Mamma

Jy weet, soms is ons lewe so ‘n gejaag na wind! Ons moet daardie deadline by die werk haal. My huis moet netjies kom, my hare moet gekleur word, die kar moet gediens word, die tuin moet versorg word.

 

Ek was so opgewonde om my kinders vir die vakansie by my ouers te gaan aflaai. Uiteindelik ‘n bietjie rus en vrede in my huis! Maar nou vang ek myself kort-kort sit en wonder wat hulle doen? Verlang hulle darem na my ook? Facebook se memories van twee en drie jaar terug toe die kinders nog so klein en opvreetbaar oulik was help nou ook nie juis nie. In my eensaamheid het ek Rebekah Knight se pragtige Engelse gedig “Slow down Mommy” in Afrikaans gaan oorskryf.

Neem die vakansie ‘n tydjie en waardeer jou kleinding. Die tyd vlieg verby en sonder dat ons dit besef jaag ons verby sulke kosbare oomblikke wat ons nooit weer sal terugkry nie.

 

Stadig Mamma

 

Stadig Mamma, daar is geen rede tot haas

Stadig Mamma, waaroor gaan al die geraas?

Stadig Mamma, maak ‘n koppie tee

Stadig Mamma, ek drink saam, net ons twee.

 

Stadig Mamma, laat ons ‘n entjie stap

Dan skop ons blare in die wind, net vir die grap!

Stadig Mamma, jy lyk vreeslik moeg

Kom lê nog bietjie by my in die oggend so vroeg.

 

Stadig Mamma, daardie skottelgoed kan wag

Stadig Mamma, laat ons bietjie koek bak, speel en lag

Stadig Mamma, ek weet jy werk jou op

maar somtyds Mamma, is dit lekker as jy net stop.

 

Sit tog ‘n oomblik by ons

en luister na ons dag

Koester die oomblik Mamma,

want ons kinderdae gaan nie op jou wag!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui