Manne en hul planne

Manne en hul planne

Kyk, mans kan mos nou vreeslik aansit. Ek is seker daarvan dat dit ingebore is. O. MY. GENADE!! Ek probeer nou maar uithou, want om eerlik te wees kan ek myself ook maar lekker jammer kry wanneer ek siek is. Dis tóg maar lekker om te weet daar is iemand wat jou sal versorg. Net jammer die arme vrou moet maar altyd die versorging doen – of sy nou self met een voet in die graf staan of nie.  Mans dink mos hulle verskuif berge as hul die geringste dingetjie in die huis doen. En jy moet hul ewig dankbaar wees daarvoor. Franse braaibrood is mos so ver soos my man se kreatiwiteit strek wanneer dit by kosmaak kom. As hy ‘n week lank verantwoordelik is vir etes, is dit wat jy sal kry. Oggend en middag. Vanaand sal hy braai. Daar sal geen bykosse wees nie en daar sal net kookvleis in die huis wees, maar braai sal hy ‘n plan maak om te braai!

Man flu

Ten spyte van my man se onvermoë in die kombuis het my skoonma wel daarin geslaag om hom ‘n paar vreeslike nuttige vaardighede te leer. Hy kan byvoorbeeld die tandepasta se proppie opdraai, die wasbak uitspoel nadat hy geskeer het, hy weet hoe ‘n wasgoedmandjie lyk én wat sy doel is en wanneer sy gunsteling werkshemp nog nie gestryk is nie sal hy nie skroom om dit self gou te doen nie. Hy help self om die kinders soggens aan te trek, al lyk hulle daarna soos jannie-gaan-weeshuis-toe.  

 

Nou, ek is seker ‘n baie onsimpatieke ma, maar ek dra slegs my toekomstige skoondogter se belange op die hart deur my bes te probeer om nie so ‘n pieperige aansit-man vir haar groot te maak nie.

 

As my kind van een of ander pyn of skeet kla, maar nie koors het nie, moet hy dit maar inhou en skool toe gaan. Jy weet, vir my skoondogter. Sy beter my eendag waardeer! As ek my 5 jarige vir elke pyn en skeet by die huis gehou het sou hy nooit by die skool gewees het nie. Die lewe van ‘n 5 jarige is mos vrééslik swaar – alles pyn mos heeltyd! O wee, as dit nie die enkel is nie, is dit die kleintoontjie of die rug of ek het al selfs gehoor dat sy hare seer is. Regtig? Hy dink seker sy ma is onnosel. Gelukkig werk Vaseline vir die meeste pyne en skete – ek dink dit gaan meer oor die aandag wat gegee word as enige iets anders.

 

Maagpyn is natuurlik een van daardie skete waarvoor Vaseline nou nie regtig werk nie. ‘n Probiflora Jnr is gewoonlik my antwoord daarvoor, dit kan tog nie skade maak nie. Gewoonlik voel hul sommer stukke beter nog voordat die ou pilletjie ingesluk is en kla dan vir weke nie weer oor ‘n maag nie. Maar hierdie laaste week was anders. My kind bly kla konstant oor maagpyn, maar ek kan net nie vasstel of dit aansit is of nie – Ek, my man, ons dogtertjie, ons buurvrou én haar kleindogter het oor die laaste twee weke verjaar, dus was daar heeltyd partytjie gehou. Daarom hou ek my die oggend maar doof, maak dit af aan al die soetgoed van die laaste tyd en stuur hom skool toe. Ek het juis daardie dag ‘n magdom werk in die dorp te doen. Teen 10h skakel die juffrou my en sê dat sy dink daar tog iets aan die gang is, want hy word nie beter nie. Ai, ek tref my reëlings en gaan haal hulle by die skool.

 

Siestog, draai uit dat hy hierdie keer regtig siek was. Hy het sommer gaan lê en ingestem om Buscopan te drink terwyl hy alte goed weet hoe sleg dit is. Dit het toe nou glad nie gewerk nie en teen Saterdag middag was ek spyt dat ek nie maar Vrydagoggend ‘n afspraak by die dokter gemaak het nie.  Ewe skielik dink ek aan my pa; hy is die meester van aansit wanneer hy siek is. Maar hy kan ook vir jou so vinnig soos een, twee, drie gesond kry met sy doepas. Telke male moes ek ‘n piering vol uitgebrande brandewyn drink vir maagpyn. Nou, ek weet nie of dit werk omdat jy bang is jy moet weer daarvan drink nie en of dit regtig werk nie. Ek weet net twee dinge: Dit wérk. Régtig. En dit is regtig ongelooflik sleg.

Brandewyn piering

Brandewyn piering brand

Ek pluk toe ‘n piering uit en kry die met moeite die goed om vlam te vat. Dit het nogal ‘n hele rukkie geneem om uit te brand en het – gelukkig vir my seuntjie – veel minder geword. Dit het mooi praat gekos, maar uiteindelik het hy dit ingesluk en binne gehou. Daarna het hy aan die slaap geraak en die volgende oggend sommer stukke beter gevoel. Hy kon my uit die bed kom jaag om vir sy pa koffie in die bed te bring vir Vadersdag – waarvoor die moedswillige man nie eens in die bed gebly het nie! Toe ons in die kamer kom met die koffie en geskenkies wat met soveel sorg by die skool gemaak was, was hy al in die stort. Ek was boos! Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag; my kind was gesond, sonder ‘n dokter en sonder ‘n berg antibiotika. Die enigste klagte wat hy gehad het was dat hy “dink die brandewyn het hom bietjie dronk gemaak.” Ai, van kleins af al vol planne!

Vadersdag gift

Vadersdag geskenk

Mans sal maar mans bly. Hul is pieperig. Ons almal is een of ander tyd pieperig. Hulle sal altyd ‘n plan hê, of ons nou daarvan hou of nie. Hierdie keer was ek dankbaar vir my pa se simpel plan wat soos ‘n bom werk!

Franse braaibrood vir pa’s wie se planne op geraak het:

Bestanddele

1 eier

2 halwe eierdoppe vol melk (ons wil hulle nou nie verwar met afmetings nie)

2 snytjies brood

2 teelepels botter (ons gebruik vet, dit maak die broodjies lekker bros)

 

Metode

Breek eier in ‘n klein mengbak, voeg melk by en klop liggies met ‘n vurk. (meng dit met die vurk)

Voeg melk by

Doop die brood in die eiermengsel totdat deurdrenk (dis totdat die brood pap is)

Doop die brood

Smeld die botter in ‘n braaipan.

Plaas brood in pan.

Braai vir ongeveer 1 minuut totdat die onderkant goudkleurig is. (Soos wanneer die braaivleis net reg lyk.)

Brood in pan

Gebruik ‘n eierspaan om die brood om te draai.

Braai vir nog ‘n minuut.

Dien onmiddelik op met stroop of heuning en kaas.

Stroop

One thought on “Manne en hul planne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui