Kreatiewe kruie

Kreatiewe kruie

Ek is baie lief vir kruie. Veral Roosmaryn. Dit is die eerste krui wat ek ooit probeer plant het. Intussen het ek al vele ander geplant, maar nog steeds was ek nooit suksesvol met Roosmaryn nie. Ek beskik nie noodwendig oor die meeste kennis oor hoe om kruie te groei nie, maar sukkel op my eie manier aan. Hoe meer iets na onkruid neig wat my hele tuin sal oorneem, hoe meer is ek geneig om dit te wil plant. Dit beteken darem die kans dat dit sal vrek effens skraler is. Maar nou sit ek met hierdie hele tuin vol kruie; grasuie, laventel, basiliekruid, kruisement, peperment, origanum, pietersielie en nog ‘n spul ander goed wat se name ek nie eens ken nie. Hoe gebruik ek dit?

Tuin

Tot dusver was my kruie en ander eetbare blomme slegs opvoedkundig. Sien, my seuntjie is die tipe wat van 2 uur smiddae sal vra wanneer dit 5 uur is sodat hy TV kan begin kyk. Dit dryf my absoluut teen die mure uit! Hy het ‘n kamer vol speelgoed, maar vra my steeds wat hy kan doen? Regtig? Jy is 5! Jou verbeelding behoort ver ver beter as myne te wees! Dink iets uit! Daarom probeer ek baie tyd saam met hulle in die tuin deurbring. Ek kan natuurlik op en af loop en als bekyk, maar dit is vir my kinders nou glad nie so interessant nie. Daarom probeer ek voortdurend aan iets dink om hul mee besig te hou; ek is ook net bereid om soveel rondtes “wolf, wolf, hoe laat is dit?” saam met hulle te speel.

Ek het al van ‘n sensopatiese tuin gelees en dit het my baie geïnteresseer; dit is basies ‘n tuin vir elke sintuig. Dus kan jy voëltjievoerders in jou tuin sit  wat voëls lok om na te kyk. Jy kan paadjies van verskillende teksture maak; plat klip, rivierklippies, gruis en boombas met stukkies gras tussenin sodat kinders ‘n verskeidenheid teksture kan ervaar terwyl hulle daarop loop. Dit vestig ook wiskundige begrippe soos grootte, vorm, volume en hoeveelheid sonder dat jou kind eens agterkom dat hy leer.  Blomme of kruie met verskillende geure asook eetbare plante word aanbeveel. Laastens kan jy klank en beweging ook inwerk deur byvoorbeeld windklokkies iewers te hang of ‘n kinkspelbaan (hopscotch) te bou of teken. Laat jou kind sommer prentjies op ‘n stoep teken met bordkryt.

Tekstuur tuin

Prentjie

Ek is gaande oor al hierdie idees! Terwyl ek dan so op die stoep sit en na nuwe idees vir Regtig soek sal ek my kinders uitstuur om 5 blaartjies te kry wat verskillende vorms is en 5 blaartjies wat verskillend voel. Of 5 blaartjies wat verskillende kleure is – dit was nogal pret in die herfs! Om mekaar met die herfsblare te gooi was ook nogal ‘n treffer!

Ons gunsteling is egter 10 blaartjies wat eetbaar is. Daar is soveel om van te kies! Dit is vir my baie belangrik dat my kinders weet wat eetbaar is en wat nie. Nie net help dit my wanneer ek kos maak om hul uit te stuur om ‘n hand vol kruie te pluk nie, maar dit fasineer hulle en hul is so trots om vir my te kom wys wat hul gepluk het. Hul is ook so gretig om aan alles te proe!

Hul gunsteling plant is hierdie een:

Ek het nie ‘n benul wat die ding genoem word nie, maar dit het regdeur die somermaande ‘n pienk blommetjie met ‘n heerlike soet stropie gehad.

 

Omdat ek so belangstel in die eetbare blomme het ek op Pinterest begin rondsoek. En ek kom toe agter dat hierdie aaklige geel blom op my gras wat ek so met mag en mening probeer uitroei eintlik ‘n baie bruikbare krui is:

Geel kruie

Maar die speletjie en kennis sal hul net vir so lank besig hou. Die volgende stap is om dit te gebruik, ons hou van toepassing. Ek het al vir my kinders genoem dat ‘n mens tee kan trek met daglelies en hul dring daarop aan dat ons dit doen. Ek is egter nog effens skrikkerig daarvoor en gebruik dit nog net as versiering wanneer ek dit in my bulb blompot hang.

Die alledaagse kruie pluk ons wel en gebruik dit nie net vars nie, maar droog dit ook graag vir latere gebruik. Intussen het ons ook begin ander tipe goed in die huis gebruik, soos om spekboomblare in slaai te gebruik of om roosmaryn skons te bak – ek koop nogsteeds roosmaryn omdat ek dit nie aan die lewe kan hou nie.

 

My laventel het die laaste 2 jaar vreeslik mooi geword en ek hou al hoe meer van die plant. Hierdie jaar het ek besluit om nie net die blomme in ‘n bos te bind en weg te gee nie, maar om dit te probeer gebruik. Ek en die kinders het een oggend gaan sit en lang stingels afgepluik. Ons het bossies gebind en die huis vol gehang om te droog. Ons het ook sakkies volgemaak en in die kaste gehang om vismotte af te weer – die slim mense sê dit moet help. Ons sinusse was nog nooit so oop soos na daardie dag nie!

Nadat dit gedroog was, het ek dit gebottel. Maar hoe om dit te gebruik? Dit ruik verbasend sterk na Vicks en daarom is ek skrikkerig om dit in enige ding te gooi. Ek kom toe af op ‘n Lemon Lavender Meringue resep en besluit om dit te probeer. Goeie genade! Dit is nie net heerlik nie, maar eenvoudig genoeg dat die kinders lag-lag kan help met die voorbereiding.

 

Lemon Lavender Meringue

Meringue

Bestandele:

Kors:

225g koekmeel

25g versiersuiker

125g botter (margarine werk net so goed)

1 eier, geklits

 

Vulsel

4 eierwitte

200g strooisuiker

1 eetl gedroogde laventel blommetjies

 

Meringue

4 eiergele

200g strooisuiker

Sap en zest van 2 suurlemoene

1 koppie kookwater

50g mielieblom

 

Metode:

Kors

Voorverhit die oond tot 200˚C

Vryf die botter in die meel en  versiersuiker. Voeg ¾ van die eier by en hou die ander ¼ eenkant. Druk dit saam om ‘n deeg te vorm, draai toe ‘n Gladwrap en plaas in die yskas vir 30 minute.

Plaas die deeg tussen 2 velle Gladwrap en rol uit tot ‘n dun deeg.

Druk in ‘n 23cm plat tertbak en vries vir 10 minute om te verseker dat jou deeg nie krimp wanneer jy dit bak nie.

Blindbak vir 15 – 20 minute of totdat die deeg droog voel.

Verf die oorblywende ¼ eier op die deeg en bak vir nog ongeveer 2 minute. Dit verseker slegs dat die deeg nie lek nie.

Draai die oond af na 160˚C.

 

Vulsel

Klits die eiergele en strooisuiker saam.

Voeg die suurlemoensap, zest en kookwater by en plaas oor medium hitte.

Klits die mielieblom in ‘n bietjie koue water om ‘n pasta te vorm en voeg dit by die suurlemoen-mengsel.

Klits aanhoudend totdat die mengsel dik en blink is.

Giet in die kors en maak gelyk met ‘n spatel.

 

Meringue

Plaas die laventel en strooisuiker in ‘n voedselverwerker en meng behoorlik saam.

Klits die eierwitte met ‘n elektriese klister, wanneer dit begin skuim voeg die suiker bietjiesgewys by.

Hou aan klits totdat die eierwitter sagtepunt stadium bereik het. Die suiker moet ten volle opgelos wees.

Skep lepelsvol op die vulsel.

Bak vir  25 – 30 minute of totdat die meringue mooi verkleur het.

 

Dis bietjie vreemd, maar heerlik!

 

Bronne:     Victoriaspongepeasepudding.com

        Baba & Kleuter (April 2012)

One thought on “Kreatiewe kruie

  1. Jy moet Roosmaryn regkry!! Ek laat vrek vetplante en het Roosmaryn in my tuin … dit groei sommer so op sy eie! Kry ‘n plantjie, dan plant jy hom i.p.v. saadjies.
    Sulke kreatiewe idees in jou tuin, mal daar oor!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui