Paasfees feestyd …

Paasfees feestyd …

Dit is Paasfees. Daar is orals hasies en eiers en alhoewel dit nie iets is wat ek regtig ken nie sien ek al hoe meer dat eiers weggesteek word en kinders dit moet soek. Maar hoe pas dit bymekaar in en waaroor gaan dit alles regtig? Met Paasnaweek vier ons in die Christendom twee van die grootste gebeurtenisse in die wêreld se geskiedenis. Die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.

 

Die jaar toe my seuntjie 3 geword het, het hy van die kleuterskool af teruggekom met ‘n versierde kruisie, gemaak van roomysstokkies. Vreeslik in sy skik het hy my vertel dat dit Paasfees is en dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. Ek was verstom; ek het nie gedink dat hy groot genoeg is om dit al te verstaan nie, maar dit is seker hoekom ek nie ‘n kleuterskool juffrou is nie. Hulle het sulke goeie werk gedoen by die skooltjie om die verhaal van Jesus se kruisiging aan hulle oor te dra. Ons het juis daardie aand gaste ontvang en die man was woedend; hoe durf ons nou so ‘n wrede verhaal vir ‘n 3 jarige vertel?? Wat wou hy dan hê moes ons doen, vir my kind jok en vertel hase lê kleurvolle eiers sodat kinders dit moet soek? En op hierdie manier die ware doel van Paasfees van my kind wat met so ‘n onskuldige en opregte hartjie in Jesus glo wegsteek?

Dries met kruisie Kruisie

Heel verontwaardig, maar steeds met ‘n dankbare gevoel in my hart teenoor die kleuterskool juffrou, begin ek lees oor Paasfees. En hier is ‘n paar interessante feite:

  • In die vierde en vyfde eeu het Chirstene al hoe meer die Christelike feeste met heidense feeste begin vermeng. Paasfees is byvoorbeeld vermeng met die heidense fees ter ere van die Germaanse godin van die lente, naamlike Eostre. Die woord vir Pase in Duits (Ostern) en in Engels (Easter) is afgelei van die naam van hierdie godin, wie se fees op  21 Maart plaasgevind het wanneer die dag en nag ewe lank is.
  • Die paashaas het sy oorsprong by die Duitsers gevind; hul het vertel van ‘n haas genaamd die “Osterhase” wat gekleurde eiers lê. Kinders moes dan neste vir hom bou waarin hy die eiers kan lê vir hulle om later bymekaar te maak.
  • ‘n Eier is ‘n antieke simbool wat nuwe lewe simboliseer. Sommiges beweer selfs dat dit Jesus se opstanding kan simboliseer.
  • Die versier van paaseiers dateer terug tot in die 13e eeu. Tydens die vastydperk was eiers onder andere verbode kos. Mense het dus eiers versier in die afwagtig vir die vastydperk om verby te gaan en om dit as deel van ‘n Paasmaaltyd te eet.
  • Die Jode het die maankalender gevolg en daarom was die stand van die maan bepalend vir die datum van die pasga. Israel het die pasga gevier op die veertiende en vyftiende van die maand Nisan (die huidige Maart/April), ongeag op watter dag dit geval het. Ons gebruik egter nie vandag meer die maankalender nie en daarom is die datum van paasfees elke jaar verskillend. Soos genoem is die dag en nag op 21 Maart ewe lank. Dit is ook ‘n datum redelik naby aan die Joodse maand Nisan. Paasfees val daarom op die eerste Sondag wat volg op die eerste volmaan na 21 Maart. Paasfees kan dus nooit vroeër as 22 Maart wees nie en nooit later as 25 April nie.

Nou kan ons heen en weer stry oor paaseiers en of dit reg is of nie, maar een ding bly seker; sjokolade in paaseiervorm proe maar net lekkerder as enige ander sjokolade. Ek is seker daar word ‘n ander resep daarvoor gebruik! Vir my persoonlik het paaseiers al wondere verrig. Verlede jaar het my seuntjie sy naels begin kou. Hy is ook gek oor Beacon se malvalekker paaseiers. Ek het ‘n lightbulbmoment gekry en 2 keer ‘n dag inspeksie gehou – wanneer ek vind dat sy naels nie gekou is nie kry hy ‘n paaseier andersins nie. Binne 2 weke het hy die aanwendsel afgeleer en een jaar later het hy nog steeds nie weer sy naels begin kou nie. Hierdie jaar het ek hom daarmee omgekoop om sy kamer reg te pak.

 

Het jy geweet: Die grootste paaseier wat nog ooit gemaak was, was meer as 7,5m hoog en het meer as 3500kg geweeg! Dit was van sjokolade en malvalekkers gemaak en was deur ‘n staalraam ondersteun.

 

Hierdie jaar het die kleuterskool juffrou weer ‘n ander haas uit die hoed geruk. My kinders het met groot opgewondeheid kom vertel dat Jesus vir ons opgestaan het. Die hol paaseiers wat mens kry  wys vir ons dat die graf leeg was na sy opstanding. Hoe mooi is dit nie? As ‘n mens net ‘n bietjie inisiatief het kan enige iets positief aangewend word. Die ou paaseiers is nou daar, ‘n mens kan dit net sowel gebruik.

Hol paaseier

Kom ons kyk na die feestelike deel. Die woordeboek beskryf ‘n fees (enige fees) as ‘n “plegtige viering van een of ander heuglike (nie-alledaagse) gebeurtenis.” Die idee is dus om iets wat gebeur het uit te lig sodat ons intensief daarby kan stilstaan en dit kan bedink om die waarde daarvan opnuut vir ons toe te eien. Nou as jy met my wil kom raas omdat my kind die werklikheid van Paasfees geleer word, of as ek jou wil toesnou omdat jy vir jou kinders eiers wegsteek in julle tuin wat ‘n denkbeeldige haas gelê het, staan ons mos nie stil by dit wat werklik gevier moet word nie. Ons verander Paasfees in ‘n bakleiery, ‘n tyd van onmin. Ons hardloop só oor hierdie besonderse geleentheid dat ons die diepgang mis en dat dit eintlik nie eers meer vir ons saak maak nie. Solank ek net op my eie mishoop kan koning kraai.

Paasnaweek moet ‘n feesnaweek wees, ons moenie wreedheid in die kruis sien nie, maar eerder ‘n liefdesdaad van God. Nie fout in alles sien nie, maar soos ‘n kleuterskool juffrou iets daaruit neem om ‘n blye boodskap uit te dra: “Jesus leef!” Daar moet in hierdie tydperk ‘n tintelende opgewondenheid heers oor dit wat gebeur het.

Jesus leef

Ek hoop julle staan stil en ervaar hierdie naweek die tintelende opgewondeheid oor ons redding in Christus!

 

Maak gerus kaneelrolletjies vir iets om aan te peusel. Jy hoef nou nie deur die hele elle-lange proses van deeg knie en rys en elke ding te gaan nie. Blaardeeg werk net so goed, alhoewel dit effens anders proe.

Kaneelrolletjie1 Kaneelrolletjie2

Kaneelrolletjies

1 rol (400g) blaardeeg

125ml sagte margarine

125ml strooisuiker

2 eetl kaneel.

Rol die deeg effens uit. Meng die margarine, suiker en kaneel goed en smeer op die deeg. Rol op en sny in skywe ongeveer 1 ½ cm dik. Plaas plat op ‘n gesmeerde bakplaat. As jy wil kan jy selfs hasieoortjies daarvoor maak. Maak net seker dat jy dit goed vasdruk, anders rys dit uit en lyk op die ou end na niks. Bak ongeveer 20 minute teen 180°C

Jesus eiers

Bronne:

 

2 thoughts on “Paasfees feestyd …

  1. Ek wil altyd huil as ek aan Jesus aan die kruis dink,maar wil dan dadelik ook juig oor Jesus se opstanding! Hoe wonderlik dat God ons so lief het!!
    Ons doen nie die paashaas ding nie…eet net paaseiers terwyl ons kan!! 😉

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui