Tyd vir ontbyt…

Tyd vir ontbyt…

Ons is laat. Alweer. Waar is julle rugsakke? Hoekom is gister se kosblikke nog daarin? Waar is julle waterbottels? Kom nou! Sluk sluk sluk! Kom borsel tande! Nee, julle kan nie nou legkaart bou nie, ons moet ry. Waar is julle skoene? ONS MOET NÓÚ RY!!!

Klink dit bekend? Dis ons daaglikse roetine. Ek verstaan nie; dit vat ‘n kind ongeveer 45 minute om ‘n eenvoudige hemp & broek aan te trek. Los hom egter vir 45 sekondes alleen met jou foon en daar is sowat 347 selfies, 3 nuwe apps afgelaai en jou luitoon is verander. Dis verstommend. Moet ook nou nie dink dat ontbyt oorgeslaan sal word weens ‘n tekort aan tyd nie. Nee, nee. Dit is immers die belangrikste maaltyd van die dag, maak nie saak watter tyd van die dag jy dit eet nie.    

Dries selfies Alta Selfies

Ontbyt in ons huis is ook nou nog uniek aangesien nie een van ons dieselfde dis eet nie. Ek eet glad nie eier nie. Ek verkies yoghurt en vrugte. My man verkies roereiers & roosterbrood. My seuntjie verkies gebakte eier en roosterbrood. En my dogtertjie, wel, sy verkies uhm… elke oggend iets anders. Om haar aan ontbyt tafel te kry is soos om ‘n lucky packet oop te maak. Vandag soek sy eiers & papaya, more Froot Loops, die dag daarna weetbix en daarna soek sy slegs roosterbrood. Hierdie diversiteit dra nou glad nie tot goeie tydsberekening by nie. Inteendeel. Maar op ‘n manier kry jy daarrondom gewerk.

Ek het onlangs met ‘n paar oorspronklike ontbyt idees begin rondspeel. Sommige van hierdie disse behoort op ‘n af dag gemaak te word, omdat dit meer tyd neem. Ander spaar jou baie tyd siende dat jy dit vooraf kan maak (ek verkies hierdie opsie) en dan is daar ‘n paar wat eintlik geen ekstra tyd neem nie, maar die maaltyd ‘n bietjie meer opwindend maak.

1. Gekleurde gebakte eiers

Hierdie lyk veel moeiliker as wat dit werklik is. Skei die eiers – ek is verby die punt van ‘n eierskeier of met die dop of ‘n bottel sukkel. Ek breek die eier in ‘n bakkie en haal die eiergeel met die hand uit. Dis so eenvoudig! Meng ‘n druppel voedselkleusel van jou keuse by die eierwit in. Gooi dit in ‘n warm pan en sit die eiergeel bo-op. As jy van “sunny side up” hou lyk dit heel mooi. As jy van ‘n harde geel hou sal jy die eier moet omdraai en sal dit minder mooi lyk, maar steeds interessant.

Gekleurde eie

Vir n video van die eiers volg die volgende link https://youtu.be/KE84sc0-IzY

2. Soetrissie eier

Dis so eenvoudig soos sny jou groenrissie in ringe. Braai ‘n oomblik en breek ‘n eier in elke ring. Die wit sal soms effens uitloop en nie so mooi soos in die prentjie lyk nie, maar is blykbaar steeds lekker.

Soetrissie eie

3. Hasie eiers

Braai spek repies en gebruik dit vir ore, sprietuie vir snorbaarde en bloubessies vir ogies. Ek het nastergal in die tuin, dit werk net so goed. In my dogtertjie se geval verkies sy ‘n katjie – ek teken sommer die gesiggie met ‘n tandestokkie en voedselkleursel op die eier.

Hasie eier

4. Eiers in roosterbrood

Druk ‘n vormpie uit ‘n sny brood, plaas die brood in ‘n pan en breek die eier in die vorm. Weereens lyk die storie nou nie so mooi soos in die prentjie as jy hom omdraai nie, maar die kinders geniet die idee daarvan. Veral die klein vormpie wat dan nou ekstra in die bord kom. Ek is van mening dat die dis beter sal werk as jy hom in die oond gaarmaak, maar wie het nou regtig tyd daarvoor?

Brood vormpies  Eier in brood

5. Ontbyt in ‘n bun

Jy meng dit waarvoor jy alles lus het, gooi dit in ‘n bun en bak in die oond. Moet tog net nie die boonste element in die oond aan skakel as jy haastig is nie. Dit was so ‘n groot ramp dat ek nie eens ‘n foto kon neem nie. Omdat ek haastig was het ek ook net roereier gebruik; my man wat gewoonlik nooit enige fiemies het nie het gevra dat ek volgende keer kaas sal byvoeg.

Bun

6. Franse braaibrood stokkies

In plaas van gewonde franse braaibroodjies, sny jy die brood vooraf in repies. Dieselfde kos, maar met ‘n kinkel.

Franse braaibrood

7. Ontbyt gebak

Hierdie resep is groot genoeg vir die hele kontrei, verklein die dus gerus. Verhit die oond tot 180 °C. In ‘n oondvaste bak, plaas die volgende bestanddele:

  • 450g ham (nie polony nie )
  • Sowat 10 snye brood in driehoeke gesny
  • ½ t swart peper
  • 1t sout
  • 250g gerasperde kaas

 

  • Meng 1 koppie melk en 12 groot eiers. Giet oor die bestannddele in die bak. Plaas in die oond en bak ongeveer ‘n uur tot gaar.

O ja, jy moes die bak gesmeer het.

Ontbyt gebak

8. Hartjie eiers

Sny ‘n rooiworsie ongeveer ¾ van sy lengte in die helfte deur en buig agteroor om ‘n hartjie te vorm. Steek die twee punt aan mekaar vas met ‘n tandestokkie. Plaas in ‘n pan en bak die eier binne in die vorm.

Hartjie eiers

9. Spinasie & Feta happies

Hierdie werk lekker omdat jy dit vooraf kan maak. As daar nie tyd is om tuis te eet nie werk dit net so goed in die kosblik.

  • 1kg spinasie, ontstingel, gewas en grof gekap
  • Bietjie olie
  • 2 uie, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 250g sampioene, in skyfies gesny
  • 3 eiers, geklits
  • 3 skywe fetakaas, grof gekrummel
  • 250ml kaas, gerasper
  • 30ml vars, gekapte pietersielie

 

  • Stel die oond op 220°C
  • Blansjeer spinasie & dreineer.
  • Verhit olie en soteer uie en knoffel tot sag.
  • Voeg sampioene by en soteer nog bietjie.
  • Voeg spinasie by en meng deur om te verhit. Verwyder van hitte.
  • Meng die eiers, fetakaas, kaas en pietersielie.
  • Skep die spinasiemengsel in muffinpannetjies. Giet die eiermengsel bo-oor.
  • Bak sowat 15 minute.

10. Plaatkoekies

Yeay! Uiteindelik iets wat nie eier as hoofbestanddeel bevat nie! Ek verkies die resep soos voorkom in Vinnig & Maklik Resepte uit Vrouekeur 2

  • 250ml (1k) koekmeel
  • 5ml (1t) bakpoeier
  • Knypie sout
  • 15ml (1e) suiker
  • 1 eier
  • 30ml (2e) olie
  • 90ml (6e) melk
  • 60ml (4e) water

 

  • Sif meel, bakpoeier en sout saam in groot mengbak. Roer suiker by.
  • Klits eier liggies en voeg olie, melk en water by. Klits weer tot gemeng en meng by meelmengsel. Moenie te veel meng nie.
  • Spuit braaipan met kossproei en laat goed warm word.
  • Skep eetlepels vol beslag in braaipan. Bak 1 minuut, draai om en bak 1 minuut ander kant.
  • Sit voor met gouestroop, sjokoladeroomyssous, vrugte en vars, styfgeklopte room of konfyt en kaas. Ek hou daarvan om spek binne-in die deeg gaar te maak en stroop oor te gooi. Nee, ek is nie swanger nie. Probeer dit net een keer!

11. Bokspap

Dit hoef nie die gewonde ou bokspap te wees nie. As jou kind van die tekstuur sal hou kan jy ‘n gesiggie van droë vrugte op sy weetbix pak. Die hoogtepunt van weetbix vir my kinders is om die melk uit hul bordjies te drink.

One thought on “Tyd vir ontbyt…

  1. My dogtertjie gooi haar eier swart met woestersous! Jy doen soveel moeite,daai gesiggies is te dierbaar!! Jys defnitief ‘n inspirasie vir my,dankie!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui