Kombuis vaardighede volgens ouderdomme….

Kombuis vaardighede volgens ouderdomme….

Het jy al gewonder op watter ouderdom jou kind jou in die kombuis kan begin help? Wat is van pas en wat nie? Jy kan jou kind van kleins af bietjie vir bietjie nuwe vaardighede aanleer – dis nooit te vroeg om hulle te betrek nie. Dit is wel belangrik om hulle op so ‘n manier bekend te stel dat hul ‘n liefde vir kosmaak ontwikkel. Moenie op onmoontlike tye probeer om jou kind iets te leer nie. Jy gaan net gefrustreerd en ongeduldig raak en dit gaan jou kind afskrik. Naweke is ‘n goeie tyd wanneer almal meer ontspanne is.

‘n Mens onderskat nogal jou kind se vermoëns. Om hul in die kombuis te betrek leer hul talle vaardighede aan, plus dit kan jou lewe soveel makliker maak! Dis nie moeilik om jou kind in die kombuis te betrek nie.Identifiseer hul belangstellings, stel ‘n standaard en verwagting en hou daarby. Hulle sal vinnig agterkom wat van hulle verwag word en dit naderhand vanself doen. Haha! Nee, nie regtig nie. Jy sal hul nogsteeds konstant daaraan moet herinner, maar eventueel behoort hul darem ‘n sin van verantwoordelikheid ontwikkel en die plan mag dalk net werk. Ek hoop regtig so.

In die tussentyd het ek op ‘n oulike idee afgekom om hulle van hul take in die kombuis te herinner sodat ek myself nie daagliks hoef te herhaal nie. Maak deurtjies waar agter die taak wat verwag word uitgebeeld word. Wanneer die taak voltooi is word die deurtjie toegemaak. Gebruik dit soos ‘n beloningskaart – as alle take teen die einde van die dag verrig is kry hul ‘n beloning.

Onthou om jou kind presies te wys wat van hom verwag word. As jy nie ‘n duidelike voorbeeld stel nie sal hul nie weet wat presies van hul verwag word nie. Hul sal dit nie noodwendig die eerste keer regkry nie – ek moes al hoeveel eierdoppe uit deeg haal – maar aanhouers wen!

Ek het ‘n kaart saamgestel wat jy as ‘n riglyn kan gebruik. Onthou dat alle kinders nie op dieselfde vlak ontwikkel nie en ook nie dieselfde belangstelling het nie. Ek het ‘n vriendin met 2 seuntjies – die 3 jarige help graag in die kombuis uit en die 5 jarige se reaksie was onverwags toe hy vir sy ma sê dat die koek versiering sommer k@k werk is. Selfs al hou jou kind nie van ‘n spesifieke dis of taak nie, laat hom steeds daarmee help. Dit leer hom van toewyding en dissipline om ‘n taak te voltooi. Hoop ek. Dit leer my ook om meer geduldig te wees. 1, 2, 3, 4, 5 , 6 …….

Toepaslike take volgens ouderdomme –

Toepaslike take kaart

2-3 jaar: Dis waar my dogtertjie nou is. Sy is sooo gretig om te help! Ongelukkig kan ek haar nie altyd toelaat om te help waarmee sy wil nie. Om voor die stoof te help is eenvoudig buite die kwessie weens die feit dat hierdie ouderdomsgroep konstante toesig nodig het. Jy kyk vir een oomblik weg en daardie handjie is op die plaat. Hou by eenvoudige take soos om klein areas te vee (vir wat dit werd is) of om die eetgerei uit die skottelgoedwasser te help pak. Om botter in meel te vryf is vet pret vir die ouderdom! Wanneer jy muffins bak laat hulle die deeg in die pannetjies skep.

Meng botter met meel Eiers meng

4-5 jaar: Hierdie ouderdomsgroep se motorise vaardighede is beter ontwikkel en hulle kan beter fokus. Alhoewel diegene wat minder belangstel nog die 2 – 3 jaar ouderdomsgroep se take sal verrig sal ander weer vinniger leer. Kyk waarin hy belangstel en wat sy vermoëns is. My 5 jarige seuntjie het so daarop aangedring om ons te help vleis verwerk dat ek hom naderhand ‘n relatiewe stomp mes in die hand gestop het en repies vleis gegee het om in blokkies te sny. Tot my verbasing het hy dit so mooi gedoen sonder om ‘n enkele vinger te verloor! Hy help ook graag sagte groente soos sampioene opsny.

Vleis in blokkies sny Groente sny

6 – 7 jaar: Op hierdie ouderdom is hul fyn motoriese vaardigehede so ver ontwikkel dat hul met gemak maatlepels kan hanteer of frikkadelle kan vorm. Hulle behoort al die tafel op hul eie te kan dek of broodjies te kan smeer.

8-9 jaar: Hierdie is gewoonlik die ouderdom waaroor ouers opgewonde raak. Eerstens kan die kind begin koffie maak! Yeay! Tweedens kan hulle lees, dus kan hul eenvoudige resepte onafhanklik begin volg. Hul kan ook meer verantwoordelikheid kry deur die asblik te begin uitgooi.

10 – 11 jaar: Alhoewel jy steeds moet seker maak dat kombuisreëls gevolg word, behoort hierdie ouderdomsgroep redelik onafhanklik in die kombuis te kan funksioneer. Hul kan met maaltydbeplanning help en hul kan moeiliker vaardighede, soos om deeg te knie, aanleer.

12 jaar en ouer: Meer as ‘n dekade se opleiding moet nou begin terug betaal. Hul kan jou regtig so af en toe ‘n aand af gee en aandete behartig terwyl jy jou skoene uitskop en ‘n glasie wyn geniet!

Geniet hierdie eenvoudige resep waarmee alle ouderdomsgroepe met graagte help:

Wafels

Bestanddele:
* 2k meelblom
* 3teel bakpoeier
* ½ teel sout
* 3 eiers, geskei
* 1 ¾ k melk
* 4 eetl botter, gesmelt

Metode:
* Sif die droë bestanddele saam.
* Klits die eiergele, melk en gesmelte botter deeglik.
* Voeg die droë bestanddele by en meng tot ‘n gladde deeg.
* Klits die eierwitte tot sagtepunt stadium en vou in die deeg.
* Maak ‘n wafelpan rookwarm, gooi ‘n bietjie smeer in die pan en versprei.
* Gooi ongeveer ‘n halwe soplepel deeg in die pan, maak dig toe en bak.
* Sit voor met roomys en stroop.

Waffle

One thought on “Kombuis vaardighede volgens ouderdomme….

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui