Tel jou woorde!

Tel jou woorde!

Dit het seker so 5 of 6 jaar terug gebeur. Ek was by ‘n vriendin en ek kan nie eers onthou wat die rede was nie, maar haar seuntjie gooi die mees ondenkbare, lelikste vloermoer onder die son! Ek was absoluut uit die veld geslaan, stom! Onthou, ek het op daardie stadium nog nie kinders gehad nie en net daar dink ek die gevaarlikste ding wat ‘n mens ooit kan dink. Wat meer is, ek  het huis toe gegaan en my gedagtes omgesit in woorde toe ek vir my man durf sê: “Regtig?? My kind sal dít nóóit durf doen nie.” Ha! Het ek maar geweet wat ek vandag weet…

 

Soos die tyd verby gegaan het, het ek daardie selfde fout herhaaldelik gemaak. Toe ek uitvind ek is swanger wou ek vir die vorige millennium se ma’s wys hoe ‘n ma nou eintlik op behoort te tree. “My kind sal van kleins af geleer word om gesonde kos te eet.” “Ek sou hom doodeenvoudig net nie sy sin gegee het nie.” “My huis sal nooit so deurmekaar wees nie, die kinders sal maar net moet leer regpak.” “Ek sal my kind nooit met sulke bont klere uit die huis laat gaan nie.” “My kind sal nooit die geleentheid kry om met my foon / grimmering te speel nie.” En so hou ek aan! Dis asof ek net nie leer nie!!

 

Sedertdien het my kind sy neus vir vele kosse opgetrek – “Mamma hierdie “druiwe” is lekker, maar ek wil asb nie nog hê nie” Siestog. In my verdediging het ek hom dit nie probeer voer nie. Hy het op sy eie aangedring dat hy dit wil proe.

 

My huis het al gelyk of daar ‘n orkaan deur hom is. Ons noem haar Orkaan Alta. As dit beteken dat ons ‘n oomblik van stilte kry, laat ons haar voort speel en verwoes. Maar die stilte raak onheilspellend en voordat jy jou oë kan uitvee is daar ‘n blou kopstuk bo jou bed geteken omdat die permanente merker nie hoog genoeg gebêre was nie (want my kind sal dit mos nou nie doen nie), of jou gunsteling lipstiffie is daarmee heen. Sy pas jou trourok aan met haar pienk Nesquick handjies, neem 350 selfies of sy neem die arme honde se kos af. En solank as wat sy instem om enigsins klere aan haar lyf te trek is ek gelukkig, maak nie saak hóé bont dit is nie!

Pink handjies Alta

 

Die ergste erg wat ek oor myself uitgespreek het was die openbare vloermoer. “Kan die vrou nie haar kind beheer nie??” Regtig? Jy weet, sodra hierdie dinge dan met jou gebeur ego die goed wat jy in jou verlede gesê het hier in jou gedagtes! My kind het so ‘n lelike vloermoer by Pick n Pay se deur gegooi oor daardie simpel klein trollietjies wat hulle het. Mamma mag nie ook ‘n trollie stoot nie – alles sal in hierdie mini trollies pas. “Nee, dit sal nie. Ek het nog ‘n trollie nodig,” het ek tevergeefs probeer verduidelik. En in plaas daarvan om alles net te los en huistoe te gaan, het ek daardie dag moed vir ‘n publieke konfrontasie met my kind. Die boeke verduidelik dan so mooi hoe om hierdie tipe van ding te hanteer en ek het immers dan nou al van tevore gesê dat dit my nie sal oorkom nie. Ek het nou ‘n punt om te bewys!

Pnp trollies

 

Tydens so ‘n voorval kry jy menigte kyke. Díe van ouers wat die gevoel ken, hul oë is vol van empatie. Die neus-in-die-lug-kyk van tannies wat al vergeet het dat hul kinders óók so was, hulle het net nie winkels gehad waar hul nie hul kinders mag gevoeter het nie – hulle het net groente tuine gehad waar hul die hele ding kon ignoreer! En laastens, díe van mense wat nog nie kinders het nie; die tipe kyk wat skreeu “My kind sal dit nooit doen nie.” Wag maar, julle dag sal kom. Regtig. Ek weet, want jy het dit nou klaar gedink en nou sal jy moet voel! Gebruik eerder ‘n frase soos “’n Mens kan sien daardie ma probeer haar bes.”

 

Dieselfde fout word ook in die kombuis gemaak. “Ek sal nooit my kos laat brand nie.” Of “my kinders sal eet wat ek voorsit, anders kry hul niks.” Jy is naderhand so desperaat om iets, enige iets in die kind se lyf te kry dat jy enige iets sal probeer!

 

Die flops in ons kombuis was al aartappel gesiggies. Die resep is maklik genoeg en my eerste poging was voorwaar ‘n sukses! Toe probeer ek ‘n tweede poging aanwend om my vernuf met ander mamma’s te deel:

Flop

Die resep is eenvoudig en die mense van cookist laat dit keer op keer so maklik lyk:

Aartappel gesiggie

Laat weet my asb indien jy dit meer as eenkeer suksesvol regkry?

 

Die volgende flop was spaghetti seekatte. Weereens, die eerste keer wat ons dit probeer het was dit ‘n rasende sukses en die kinders kon nie genoeg daarvan kry nie! Die tweede keer het ek probeer om die witsous blou te kleur sodat hulle die dis meer interessant sal vind. Die idee het in my gesig ontplof! Die kinders het mooi gesit vir die foto en wou daarna niks met die kos te doen hê nie. Lekker vang slim sy baas.

Bang vir see monster See monster

 

Die les hieruit vir alle toekomstige mamma’s wat die wêreld ‘n ding of twee van moederskap wil leer is TEL JOU WOORDE, hulle kom terug na jou toe!

 

2 thoughts on “Tel jou woorde!

  1. Dis só waar!!! ‘n Mens het soveel idees oor hoe jy (dink) jy jou kinders sal grootmaak, maar dan gebeur die lewe en leer ‘n mens dat jy ook net soveel beheer kan uitoefen oor daardie bottende bloeiselknoppies wat ons kinders noem – hulle maak maar (nes ons) baiemaal net wat hulle wil… Grote taak wat ons het om hulle te probeer lei deur al die slaggate en emosies! Ek sê dankie vir ‘n vriendin wat vooraf vir my die volgende raad gegee het: “As dit by kinders kom, NEVER SAY NEVER!”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui