TROOSKOS!

TROOSKOS!

Myyyyyyyyyne!! Word daar geskree vanuit die badkamer waar my twee kinders oor ‘n tandeborsel baklei. ‘n Tandeborsel! Regtig? Hulle baklei oor net mooi alles! Dis asof die een wag om te kyk waarmee die ander een speel en dan skielik besluit dat hy ook daarmee wou speel. En moenie dink hulle kies die speelgoed waarvan daar twee in die huis is nie, o nee, hulle kies die goed waarvan daar nét een is. Ek maak dit sommer bymekaar & gaan gee vir die welsyn! Mamma se aandag mag ook nie verdeel word nie, o nee! Net nie dit nie! Hulle is gek oor kielie-tyd, maar die hemele behoed tog net dat hul nie gelyk gekielie word nie. Mý mamma mag net mý kielie!

Dis op sulke dae dat ek ‘n besonderse behoefte het om op iemand te skree weens die oopgekropte frustrasie waarvan ek ontslae moet raak.  Kan die 720 telebemarkers wat my so gereeld lasting val nie maar vandag bel nie? Ek kan alles hanteer, die wasgoed, die skottelgoed, die vuil vloere, die lego’s in die gang, om kos te maak vir die mense, die honde en die katte. Die konstante irreterende Tjiff & Tjaff se uitstappie-tyd liedjie wat in die agtergrond blêr, die kielie tyd, die gestoei oor ‘n inkleurboek en selfs die graffiti op die muur. Het ek gesê die skottelgoed? Ek moet dit weer sê, want daar is sowaar nóg! Maar om oor ‘n tandeborsel te baklei stoot my net oor die randjie.

Dit voel of ek my hare uit my kop wil trek, in ‘n klank digte kas wil inkruip en daar bly totdat al die stemme in my kop stil raak.  Is dit net mý kinders wat so baklei? Ek verstaan dat hulle deur die hele “myne” fase moet gaan om ‘n sin van besitlikheid te ontwikkel om sodoende te kan leer om te deel of so iets, maar regtig? Moet hulle so ‘n besonderse sterk sin vir besitlikheid ontwikkel? Die juffrou by die skool sê hulle baklei nie so daar nie, jok sy? Of is ek ‘n slegte ma? Of is ek net nie streng genoeg nie? Of verwag ek te veel? Of is hulle net so slim dat hulle sien hul dryf my van my kop af en probeer dit aspris doen sodat ek in ‘n staat van waansin sal gaan en hul dan skielik toelaat om alles te doen? Is dit hul bose plan?  Hul lyk verniet vir ander asof botter nie in hul mond kan smelt nie, ek sien reg deur hulle!

Lets have more kids I said

Voordat ek al my varkies verloor en myself heeltemal te jammer kry is daar net een ding om te doen: Vergeet van die alewige dieet en maak TROOSKOS!

Nou die ding van trooskos is dat jy nie ‘n magdom kos wil maak nie, in jou huidige toestand sal jy geen selfbeheersing hê nie en alles verorber. Dit moet vinnig en maklik wees, jy wil nie noodwendig hê die kinders moet weet wat jy in die mou voer nie, maar jy wil tog jou emosionele toestand onder beheer bring. Die beste ding hiervoor is beker-nageregte! Het jy dit al probeer? Hoekom nie? Jy kan dit maak terwyl jy wegkruipertjie met die kinders speel. Maak sommer klaar ‘n paar ekstras – nadat jy joune opgeëet het gaan jy goed en vrygewig genoeg voel om met die kinders te deel. Ouerskap werk immers so: ”as jy voel of jy mal word, dan doen jy dit reg.” Niks daarmee fout om dit reg te doen met ‘n bietjie trooskos daarby nie. In die vervolg koop ek eenderse tandeborsels sodat hulle nie kan agterkom as die een die ander s’n het nie.

Parenting

Ek geniet die grondboontjiebotter-sjokolade-beker-koek. Ja, dit proe so goed soos wat dit klink! Daar is nog baie resepte op kirbiecravings.com maar hierdie is my gunsteling!

grondboontjiebotter-sjokolade-beker-koek

Bestanddele

4 eetl. Meel

¼ teel. Bakpoeier

1 eetl. Suiker

¼ koppie lae vet melk. Lae vet troos niks nie. Die dieet is klaar daarmee heen; ek gebruik volroom.

3 eetl. Grondboontjiebotter. Yum.

3 eetl. Chocolate chips. Opgekapte sjokolade werk ook. Maak seker jy het ‘n ekstra handvol om te eet terwyl jy vir die mikrogolf wag.

Metode

Voeg al die bestanddele behalwe die sjokolade in ‘n mikrogolf vaste beker. Klits met ‘n vurk totdat daar geen meer meelklonte is nie.

Meng 1 eetl sjokolade in die mengsel in. Druk ‘n verdere eetlepel vol in die middel in, sodat daar ‘n gekonsentreerde klomp sjokolade in die middel is wanneer jy begin eet. Strooi die oorblywende eetlepel bo-oor.

Plaas vir 1 minuut op hoog in die mikrogolf. As die beslag nog te sag is daarna, plaas dit vir nog ongeveer 15 sekondes in die mikrogolf.

Gewone mense laat dit ‘n oomblik afkoel voordat hul dit eet. Ma’s het noodgedwonge blik-kele en kan dit dus onmiddelik eet, siende dat dit ‘n kwessie van tyd is voordat die kinders jou uitvang.  

2 thoughts on “TROOSKOS!

  1. Omw dankie Lulu nou is my dieet ook daar mee heen…. want nou wil ek ook MOS nou proe hoe proe die leke koppie dingetjie wat Lulu gemaak het

  2. Jy skryf so mooi,ek kan dit voor my oë sien afspeel,jy laat my altyd lag en ek proe daai sjokoladestorie al!! Môre koop ek sjokolade en oormore sal ek weer probeer om my soettand in toom te kry!! Kan nie wag vir jou volgende artikel nie!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui