Kosblik Tyd …

Kosblik Tyd …

Die skole het hierdie week begin en ek neurie die destydse CNA advertensie se liedjie met baie meer entoesiasme as 20 jaar terug: “Back to school, back to reality!” Ja, die kinders is terug hok toe en saam met hulle keer my varkies ook so een vir een terug na hulle hok toe. Nee, regtig, nog ‘n week langer en my arme man sou my vir goed by die groendakkies moes inboek. Gedurende die uiterse lang 6 weke wat die skole toe was moes ons konstant nuwe planne
uitdink met die kinders, omdat beide ek en my man moes werk. Dus was my kinders, ouderdomme 2 en 5 vir ‘n week by my ouers 100km ver van ons af. Dan vir die volgende week my ma by my huis en die volgende week moes die kinders maar net doodeenvoudig saamgaan werk toe. Die plek staan
darem nog in een stuk, maar ek dink almal daar is tog te bly dat die skole uiteindelik begin het!

Ek is nou moeg daarvoor om skeidsregter te speel omdat die een Dora the Explorer wil kyk en die ander een nie, omdat die een wil swem en skielik kwaad is oor die ander hom natspat, omdat die hond eerder by die een ‘n been neem as by die ander. Ek is moeg daarvoor om gedurende werksure
nie my werk gedoen te kry nie omdat ek die heeltyd moet keer vir taai hande op hierdie dokument of moet verduidelik hoekom hulle nie nóg ‘n koeldrak kan kry nie – hoekom wil hulle altyd ekstra koedrank hê as ek daar is?? My ma is moeg verduidelik hoekom Mamma en Pappa die oggend gery het voordat hul wakker geword het, sy is moeg vir my gastekamer en geniet vir ‘n slag haar eie huis. Ek is moeg daarvoor om weekliks tasse te pak, speelgoed saam te piekel en ‘n week se voorraad in my bakkie saam te ry. Ek is moeg daarvoor om tot by 3 te tel of die vraag “Wat kan ons doen?” te probeer beantwoord. Nou nie juis dat die situasie enigsins anders gaan wees tydens die skooltydperk nie…. sug.

Om alles saam te vat dink ek is ek moeg daarvoor om nie ‘n vaste roetine te hê nie. Dis nie net kinders wat roetine nodig het nie, maar volwassenes ook. Of jy dit nou wil erken of nie, ons het almal ‘n roetine en is gemaklik daarin. Die kinders is nie meer laataand moeilik terwyl ons pootuit is nie, want hulle moes vroeg opstaan vir skool en is dus ook moeg wanneer bedtyd aanbreek. Hulle is honger met etenstye, want hulle het tog te lekker gespeel by die skool en ek hoef nie alleen antwoorde uit te dink vir al 370 van hul daaglikse vrae nie!

Maar saam met die nuwe skooljaar kom dieselfde ou uitdaging: kosblikke. In ‘n onlangse artikel in die Baba & Kleuter is daar gesê dat jy van ma na meesterkok kan verander met die korrekte beplanning. My eerste reaksie was “Regtig? Ek hou nie van beplan nie!” maar soos ek reeds genoem het, het ons almal ons gemaklike roetine en is beplanning nie maar net deel daarvan nie? Behoorlike beplanning vir die week se kosblikke beteken dat jy nie teen Donderdag jou hare uit jou kop wil trek omdat jy nie weet wat om in te pak weens die tekort aan brood in jou huis nie.

Kosblikke

Jy kan nou gaan en 2 weke se kosblikke vooruit voorberei en in die yskas bêre, maar regtig? Wie het soveel kosblikke beskikbaar? En wie het soveel yskas spasie? Om dit te vries is dalk beter, want hoe gaan Sondag se kosblik teen Vrydag proe as dit net in die yskas was? Gelukkig kom daar nuwe moed
saam met die nuwe jaar en ek het ‘n paar lekker idees gekry.

Kyk net na hierdie briljante idee om mee af te skop:

‘n Deurskynende skoenorganiseerder wat in jou kombuis gehang kan word met elke dag se kosblik bykomstighede. Jy hoef nie rond te skarrel om alles gereed te kry nie en kan elke dag se kombinasie so vinnig soos een, twee, drie kies en verpak. Solank die kinders net nie die rak raaksien nie sal alles
onder beheer wees…

skoenorganiseerder

Lasagne pakkies.
Dit is dieselfde as gewonde lasagne, maar in individuele pakkies gemaak. Dit kan ook vooraf gemaak en gevries word vir daardie oggende wat jy verslaap of uit brood uit gehardloop het. Dit was meer moeite om te maak as wat ek verwag het, die moeilikste was om die gaar lasagne velle te hanteer.
Maar dit was beslis die moeite werd!

Lasagne pakkies

lasagne velle

Plaas 2 gaar lasagne velle oorkruis met witsous tussen-in. Plaas witsous en maalvleis bo-op en vou versigtig toe. Gooi witsous en kaas bo-op en bak totdat die kaas goudbruin is. ‘n Absolute wenner!

Maccoroni & kaas muffins
Maak jou gunsteling macoroni en kaas mengsel, maar in plaas daarvan dat jy dit in een groot skottel bak, skep lepelsvol in ‘n muffin pannetjie en bak. So gerieflik vir die kosblik!

macoroni en kaas

Frikkadelle – as jou frikkadelle alewig uitmekaar val soos myne omdat die kinders probeer help het, laat hulle dit grootter maak en in plaas daarvan om dit in bolletjies te rol, plaas dit in ‘n muffin pan. Dit werk soos ‘n bom!

Frikkadelle

Hotdogs – ek is geneig om te vergeet hoe ‘n staatmaker ‘n eenvoudige hotdog eintlik is.

Jaffles – Dit vries so goed & spaar soveel tyd as jy ‘n klomp op een slag kan maak en individueel in ziplock sakkies vries. Soms probeer ‘n mens die kosblik so oorkompliseer dat ‘n mens vergeet dat eenvoud werk.

Terwyl daar ook niks skort met ‘n gewone kaas of konfyt broodjie nie help dit om dinge interessant te hou. Sny die broodjie in die vorm van ‘n legkaart of sny die korsies af, plaas ‘n snytjie ham op en rol dit in gladwrap op sodat dit soos ‘n swiss roll lyk. Plaas oornag in die yskas. Die broodjie sal die spiraal vorm behou en wat eintlik ‘n doodeenvoudige toebroodjie is vang jou kind se verbeelding vas.

Broodjies

‘n Sosatiebroodjie is ook ‘n interessante variasie.

Sosatiebroodjie

Wraps of pita broodjies – Draai uit dat nie een van hierdie twee opsies gewild is by my kinders nie, ten spyte daarvan dat ek gek is daaroor. Daar is verskeie opsies vir vulsels waarvan my gunsteling hoender & mayonnaise is.

Blue ribbon het onlangs Squares uitgebring. Gerieflik, maar in my opinie duurder as wat nodig is. 2 Gewone snytjies brood doen dieselfde ding, aangesien ons reeds gerieflik gesnyde brood kry spaar
dit ‘n mens nie soveel moeite nie.

Squares

Die dae is ongelooflik warm, ek het in die verlede ‘n botteltjie water halfvol water gemaak, gevries en die oggend wanneer ek dit inpak die ander helfte opgevul met koue water in ‘n poging om heeldag koue water vir die kinders te hê. Met die hitte wat ons ervaar het ek egter hierdie jaar besluit om van Quench se flesse te kry, elke kind se naam op laat sandblast en dit eerder in te pak. Die bottel is behoorlik gemerk en die kinders het heeldag koue water.

As kind het ek altyd net ‘n eenvoudige marmite broodjie in my kosblik gekry, want dit was vir my lekker en ek het dit verkies. Maar tye het verander, beide ouers werk en kosblikke moet vir ‘n hele dag ingepak word. Vir baie kinders is net ‘n broodjie ook nie genoeg nie en moet ‘n ietsie ekstra ingepak word, selfs al is hy gelukkig genoeg om huistoe te kan gaan wanneer die skool uitkom. Dit is belangrik dat jy weet waarvan jou kind hou en wat genoeg is. Dit help nie ek pak elke dag ‘n berg kos in, maar driekwart daarvan kom terug huistoe nie. Dit help ook nie ek pak net ‘n broodjie in en my arme kind kom rasend van die honger terug huistoe nie.

Bykomstighede wat jy kan insluit is as volg:

My persoonlike lewensredder: ready mix muffins. Behalwe dat die kinders dit kan help voorberei is dit ietsie ekstra om in die kosblikke te pak vir die res van die week. Vir ‘n variasie kan jy die deeg in ‘n roomys cone sit en daarin bak.

ready mix muffins

roomys cone

Vrugte – hierdie tyd van die jaar is vrugte in oorvloed beskikbaar! Of jou kind nou appels, piesangs, druiwe, perskes, appelkose of wortelstokkies verkies, alles is vars en teen goeie gehalte beskikbaar.

Spheres – Shoprite verkoop hierdie namaaksel van Oreos teen R9.99 vir ‘n boksie met 6 pakkies koekies van 4 in. Dit is heerlik en perfek vir die kosblik!

Spheres

Sap boksies – alhoewel ek verkies om water in te pak, is hierdie ‘n lekker variasie. Econo Foods het verskeie van Rhodes se vrugtesappies beskikbaar teen R24.95 vir ‘n pak van 6. Die reeds aangemaakte Oros botteltjies werk ook goed en sou die botteltjie sy weg terug huistoe vind kan jy dit hergebruik.

Lekkers – Ek koop ‘n groot pak vol klein lekkertjies, wat natuurlik weggesteek word, en gooi twee of drie lekkers in die kosblik.

Yoghurt – baie ma’s pak graag yoghurt ook in. Ek verkies dit egter nie, omdat dit in die eerste plek te gou warm word. In die tweede plek het ek ondervind dat ongeag hoe graag die kinders yoghurt by die huis eet, hul dit nie noodwendig by die skool eet nie. Op die ou end sit die skool met ‘n yskas vol
yoghurt wat niemand wil eet nie.

Halsnoer van peuselhappies – tien uit tien vir die ma wat dit uitgedink het! Alhoewel dit tydsaam mag wees om te maak dink ek dit is ‘n briljante idee, veral vir kieskeurige eters. Die kinders kan ook help met die voorbereiding hiervan. Reig peuselhappies soos pretzels of ontbytpap aan ‘n lyntjie wat
jou kind dan soos ‘n halsnoer kan dra en aan kan peusel.

Halsnoer van peuselhappies

Popcorn – ‘n klomp kan vooraf gemaak word en in individuele pakkies opgedeel word.

Ek het ook op ‘n oulike tabel afgekom waarvolgens jy jou kinders se kosblikke kan beplan met kombinasies van graan, protein en groente/vrugte. Ek het dit aangepas volgens my eie behoeftes en voorkeure. Jy kan dieselfde doen en sodoende jou weeklikse beplanning vergemaklik.

weeklikse beplanning

Daar is honderde webtuistes wat veel meer idees het as waarvoor ek tyd of spasie het. Ek voel sommer geïnspereerd! Weet nou nie hoe lank dit sal hou nie, maar dit help om te bêre en ten minste een keer ‘n kwartaal daarna terug te verwys of om die beplanning aan te pas soos wat die seisoene en sodoende beskikbaarheid van produkte verwissel.
Geniet dit & onthou om so af en toe ‘n briefie ook in te sit wat jou kinders herinner dat die kosblik met liefde voorberei is, ten spyte daarvan dat hulle jou teen die mure uit dryf!

Kosblik briefie

Kinders reg vir skool

3 thoughts on “Kosblik Tyd …

  1. Kan net dink hoe g..v.. ek bedoel moeg, jy was na die lang vakansie!! Baie oulike idees…ek sal dit defnitief moet onthou vir die toekoms! Ek het nooit my broodjies geeet nie…hoop my dogtertjie gaan eendag my kosblikke leegmaak!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui