Desember Drankies …

Desember Drankies …

Desember vakansies raak lank. Selfs vir die kinders… Myne het 4 slapies voor Kersfees vir my kom vra hoeveel slapies nog voor die skool begin, so in plaas daarvan dat daar ‘n advent kalender bo sy bed hang het ons een gemaak wat die slapies aftel tot wanneer die skool begin. 27 slapies.

Hoe gaan ek hul besig hou tot dan? En hoe gaan ek al my varkies op hok hou sonder om pille vir Kersfees te kry? Die hele vlak lê vol speelgoed! En my kinders is ook nou nie juis die stil en teruggetrokke tipe nie. Nee, nee. Hulle is die tipe wat my ALLES vertel. Van waar David die wortels begrawe het, tot hoe diep, tot wanneer, hoe ver uitmekaar uit en wanneer dit gereed sal wees om geoes te word. Dis soms moeilik om myself te hoor dink. Ek kan hul ook net so lank na hul ouma toe pos, sy verdien ook darem weer rus vir haar siel na so ‘n week. Maar gedurende daardie week maak ek die meeste van my vrye tyd en gaan ek behoorlik bos!

Eerste dinge eerste: Ek drink ‘n warm koppie koffie. Dit is hemels aangesien ek gewoond is om eers daarby uit te kom as dit yskoud is met ‘n vel op. Yuk.

With and without kids

Daarna begin ek met die kinders se kamers. Ou stukkende speelgoed word uitgegooi. Dit wat gered kan word probeer ek maar red. Die res moet uit. Puzzles word uitgesorteer en soort by sort gepak, elkeen in sy eie houertjie. Ou sokkies word onder die bed ontdek, speelgoed wat die huis vol is word bymekaar gehark en soort by soort weer in hul trommels gebêre – nadat die trommels natuurlik ook ‘n goeie was gekry het. Stokke en klippe en peule en wie-weet-wat-nog-alles word uitgegooi en die kamers word ‘n slag behoorlik gestofsuig sonder dat ek hoef te dreig dat ek alles wat op die grond lê gaan opsuig. Teddiebere en hul klere kan uiteindelik gewas word – dis mos ‘n sonde in my kind se oë om ‘n teddiebeer of kombersie te was. Dus moet ek dit skelm doen!

Laastens word speelgoed waarmee lanklaas gespeel is n ‘n boks gepak en bo in ‘n kas weggesteek, terwyl verlede vakansie se boks weer uit die kas gehaal word. Wanneer die kinders dan terugkom dink hulle daar is ‘n kamer vol nuwe speelgoed!😉

Vir ‘n hele week lank is al die boeke netjies op die boekrak en al die DVD’s is elkeen in hul eie kassie. Die kinders se pragtige kunswerke word netjies gebêre en die minder pragtige kunswerke verdwyn van die yskas af. En ek hoef nie te bekommer dat hierdie minder pragtige kunswerke in die asblik raakgesien sal word en sodoende hul pad sal terugvind na die yskas toe nie.

In die kombuis kan die Tupperware kas weer netjies gesorteer word en al die bakkies se deksels word gevind. Die stuk koek van 1920 wat vir Billy die teddiebeer gebêre word, word van kant gemaak en skottelgoed is minimal aangesien ek nie vir 70 kosblikke vir die volgende dag ook hoef te kook nie. Die vloere bly skoon sonder oros of yoghurt kolle met vliëe wat daarrondom drom. Die ruite is skoon en geen vetterige handjies word op die mure meer gesien nie.

Ek kan vir ‘n slag al die boodskappe op my foon lees en antwoord sonder om myself te verduidelik of afstoei omdat die kinders nog met Talking Tom wil praat nie. Daardie lank beloofde afspraak met my vriendin kan nagekom word, want ek hoef nie te jaag om die kinders op te tel of iewers af te laai nie. En ek besef dat Happy Hour se betekenis heeltemal vir my verander het. Ek beskou dit nou as ‘n middagslapie.

Saans kan ons in vrede eet en na hartelus ons eie programme kyk. Nie dat ons weet watter programme wys nie. Ons skakel outomaties oor na cartoons. Die ergste van alles is dat ons dan nie iets anders wil kyk nie, omdat ons bang is ons mis iets!!

Na ‘n week is jy flou, maar jy herken skaars jou huis! Dis ‘n droom om daar te wees! Jy is uitgerus omdat jy deurslaap en nie dieselfde skoonmaakwerk elke dag hoef te doen nie. Jy herhaal jouself nie 1000 maal nie en jy kry selfs kans vir daardie stokperdjies wat jy al amper vergeet het jy het. Jy en manlief kan ‘n normale gesprek voer en dit voel soos hemel op aarde. So net-net voordat jul in so ‘n comfort zone is dat jul besluit dis dalk tyd vir nog ‘n pienkvoetjie dan stuur ouma die woelwaters terug en skielik onthou jy waar al jou grys hare vandaan kom.

Daardie gil wat uit die deur kom en stywe omhelsing daarmee saam; “Maaaammmaaaaaaaaa!!! Ek druk jou gô uit!” die liefde wat uit daardie hele kleine lyfie straal en die opgewondenheid waarmee hulle vertel wat hulle alles by ouma en oupa gedoen het. Dit is kosbaar! ‘n Mens raak so verstrengel in jou werk – veral as jy oor die feesgety moet werk – dat jy vergeet dat dit ‘n wonderlike tyd van die jaar is. ‘n Tyd wat jy ekstra tyd moet maak om stil te sit en alles om jou te waardeer. As ons Verlosser nie gekom het nie, was alles tevergeefs. Al wil ons elke haar uit ons koppe trek, moet ons die woelwaters en hul manewales waardeer – hul is ‘n geskenk. Net soos Jesus se koms ‘n geskenk is.

Geniet die feesgety, wees dankbaar en bly nederig.

So oor Kerstyd is dit altyd lekker om iets anders as die gewone in die huis te hê om te drink. Ek maak graag gemmerbier en ystee vir daardie warm dae.

Gemmerbier

Gemmerbier

Maak 3-4 bottels

Bestanddele:

635g (750ml) suiker

15ml fyn gemmer

7g droë kitsgis

12 Sultanas

Metode:

Verhit die suiker en 2 ½ liter water in ‘n kastrol. Roer tot die suiker opgelos het en haal van die plaat af.

Voeg twee liter koue water by en roer die gemmer by.

Laat die vloeistof afkoel tot lou-warm en gooi dan 125ml daarvan in ‘n bak. Voeg die gis by en roer tot opgelos. Roer dit by die res van die vloeistof.

Gebruik ‘n tregter en gooi die vloeistof in skoon, gesteriliseerde bottels met skroefdoppies. Gooi ‘n paar sultanas in elke botter.

Draai die bottels styf toe en laat staan vir omtrent 24 uur by kamertemperatuur. Sit dan die bottels in die yskas. Wanneer die sultanas boontoe dryf is die gemmerbier reg om te drink.

Kruisement ystee

Bestanddele:

4 rooibostee sakkies

1 liter kookwater

80ml – 100ml bruinsuiker

60ml vars suurlemoensap

15ml vars gekapte kruisementblare.

Metode:

Plaas die teesakkies in ‘n groot teepot of beker en giet die kookwater oor

Versoet met die suiker na smaak en voeg suurlemoensap en kruisement by.

Laat effens afkoel, giet in ‘n plastiekbak en plaas in die vrieskas vir 2 ure. Roer die tee elke halfuur deeglik.

Skep die ystee in glase en eet met ‘n lepel maar hou ‘n strooitjie vir later as dit smelt.

One thought on “Desember Drankies …

  1. My huis gaam seker veraltyd deurmekaar bly…kon dit nog nooit oor my hart kry om my dogtertjie iewers te ‘los’ nie! So lekker om te lees dat ander mammas ook soms so voel…baie mooi beskrywing van baie mammas se daaglikse lewens!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui