Chillax net!

Chillax net!

Het iemand al vir jou gesê “chillax”. Regtig? Is dit nou ‘n woord? Poplap, as jy net 2 ure behoorlike slaap vir die nag ingekry het, as jou hare ook maar net-net gekam is, as jy vir die oggend voordat jy nog in die kar geklim het al deur 3 skoon uniforms was. As jy steeds ‘n snotsreep op jou skouer het, maar jy moet die klere aan hou omdat daar nie nog ‘n skoon uniform oor is nie. As jou kind heelpad speelskool toe skree omdat sy eintlik saam met haar pa wou ry en as jy haar uiteindelik tot bedaring kry skree sy omdat jy haar by die skool durf los. Jy sluk die trane terug oppad werk toe terwyl jou petrol liggie aan gaan en jy wonder of jy onthou het om die plaat af te skakel nadat jy eiers gebak het wat nie geëet is nie. Glo my, dan wil jy NIE vir my sê “chillax net” as ek jou vra om jou liaseerwerk op datum te bring nie. En dit nog voordat ek koffie gehad het. Dinge kan net lelik raak…

Maar siende dat ons 5 jaar laas op ‘n behoorlike vakansie was besluit ons tog om weg te gaan en te “chillax”. Haha, draai uit dat ‘n ma NIE ontspan tydens vakansie nie. Veral nie tydens ‘n 2 weke lange see vakansie nie.

Eerstens werk jy jou as af om jou huis skoon en netjies te kry. Want die vooruitsig om tuis te kom na ‘n vuil deurmekaar huis staan my nie aan nie. Gaan ek nou 2 weke rus om my dood te kom werk as ek terug is? Nee, dit moet mos nou anders om wees; ek moet my doodwerk om dán te gaan rus!

Dan is daar die kwessie van padkos en lekkernye om te eet gedurende die vakansie. Alhoewel dit deel is van die opwinding voor die tyd verg dit tog beplannig, werk en báie verduideliking aan die kinders hoekom al hierdie lekkernye nie nou geëet mag word nie. Op my lys was koffie & beskuit, jaffles – ek het dit ‘n week vooraf gemaak en gevries tot die dag wat ons gery het – fudge, rice krispie koekies, koffiekoekies – daar is baie tuisbaksters daar buite, ek het net nie kans gesien vir bak nie en het sommer bestel – klein tamatietjies, droëwors en cocktail worsies.

Die besluit om deur die vroeë oggendure te ry was seker die beste besluit ooit! Die kinders het die eerste 7 ure van ons 9 uur reis geslaap. En die 2 ure wat hul wakker was het soos 9 ure gevoel. “ons is nog nie daar nie” “nee,” “los jou boetie,” “los jou sussie,” “sit aan jou kant,” “moet ons julle aflaai?” “Ons draai nóú om” en uiteindelik “klim uit! Altwee van julle!” was die basiese frases wat gebruik is…

Daar gekom was die see so vreeslik oorweldigend dat nie een van die kinders naby die water wou kom nie. Ons het die eerste week by ‘n vakansieoord deurgebring. Alhoewel die weer nie ideaal was nie het ons die beste daarvan gemaak. Ons was buite seisoen daar, dus was die ander besoekers almal deel van ons demografie: Ouers met klein kindertjies. Dit was heeeeeeeerlik. Regtig. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe heerlik dit was nie. Daar was nêrens goetertjies in bikini’s wat rondgetrippel het nie. Al die mamma’s het ‘n rolletjie hier, selluliet daar of babavetjies wat nog nie afgeskud is na hul laaste baba’s nie. Al die mamma’s het rondgehol met handoeke en sonskerm en al die pappas het bont gestaan om put put saam met die kleintjies te speel of om seker te maak die armpies en tjoepies is opgeblaas en aan die lyfies voor hul in die swembad klim.

Put put

Grafies en emmertjies is uitgeruil en omgeruil, kastele omgeskop en beurte afgewag vir trampolines en swaaie.

See sant

Trane is afgevee as die branders hul omstamp en met die verbygang het jy ten minste 2 keer ‘n dag uit ‘n ander tent / woonstel of in die swembad gehoor “Moet ons huistoe gaan? Hou aan en ons pak nóú op!” Ek het so tuis gevoel! Braaivleis was op elke aand se spyskaart en almal was tevrede met basiese bykosse. Dus was die kosmaak nie die harde werk nie, maar skottelgoed was, om seker te maak dat almal se handoeke en swemklere na swemtyd opgetel en opgehang is sodat dit more weer droog is. Om vuil klere skoon te kry, sand uit te vee, orde te handhaaf en om die lekkernye te rantsoeneer was maar nog steeds ma se daaglikse taak.

Roomys gesiggie

Handjies

Die strand situasie was natuurlik ook uniek. Maar weereens was almal daar; ouers met jong kindertjies, dus het ek ons spesifieke situasie by ander ook sien afspeel. Die badkamer situasie. Boetie is al 5, toe hy kom vra om te gaan piepie sê sy pa sonder om 2 keer te dink “piepie sommer in die see.” Hy stap toe mooi netjies tot in die vlak watertjies, rol die meneer uit, mik see toe en slaan water af. Oi. Ek het nie woorde nie.

Vandaar het ons vir die volgende week aanbeweeg na Prosperita in Ballito. Ek was senuweeagtig oor die plek, omdat die foto’s op die internet so ongelooflik mooi gelyk het was ek bekommerd dat dit nie aan ons verwagtinge sou voldoen nie. Daar aangekom het die plek wel nie aan ons verwagtinge voldoen nie, maar dit ver oortref! Die eienaars het ons persoonlik verwelkom en wenke gegee oor wat in die omgewing te doene is. Die woonstel was netjies, pragtig, groot en ten volle toegerus. Dit is hier waar ons werklik kon “chillax.”

Prosperita

Ons daaglikse frases het vanaf “ons gaan sommer nou huistoe” verander na “ag asseblief moenie baklei nie, ons wil nie hier ry nie.” Met ‘n heerlike privaat swembad en lieflike braai, kon ons behoorlik ontspan.

Privaat swembad

Die toegeruste kombuis het my ook toegelaat om bietjie meer interessante bykosse saam met die daaglikse braai te maak. Eenvoudige braaibroodjies was vervang met konsertina aartappels of selfs uieringe. ‘n Mens kan darem ook nou nie by die see wees sonder om seekos te eet nie, ek het darem ook met tye af gekry terwyl ons iewers iets gaan eet het. Daar is soveel seekos plekke, iets vir elke smaak en begroting!

Seekos

Met die teruggaan slag het ons besluit om weer deur die nag te ry, dis net soveel makliker. Ek het worsbroodjies en hoender nuggets gemaak vir die pad. Met swaar harte, maar uitgeruste siele het ons ‘n lieflike plek agtergelaat. Ons het reeds begin spaar vir die volgende besoek…

Gesiggie

 

Maak nie saak waarheen jy gaan of wat jy doen hierdie vakansie nie, skop jou skoene uit en chillax! Niemand sal doodgaan as hul een ete vir hulself hoef te sorg nie en as daardie een ete dan uit gemorskos bestaan moenie jou hare uit jou kop trek nie. Jy, my mede-mamma, verdien die breuk!

Ek deel graag ‘n paar van ons lekkerny resepte:

Fudge

Fudge

Myne lyk nou glad nie so lekker soos Henriette Wessels s’n op WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK nie, maar proe steeds hemels!

Bestanddele

1 Blikkie kondensmelk

4 Koppies suiker

2 Koppies melk

2 Eetlepels stroop

2 Eetlepels botter

2 Teelepels Vanilla Essense

Metode:

Kook suiker, stroop, melk, botter en kondesmelk terwyl voortdurend geroer word.

Die fudge is reg as jy roer en die pot se boom begin raaksien en aan die kant ‘n skraapgeluid maak as jy roer.

Voeg nou die vanilla essence by en roer deur.

Gooi in vooraf bespuite pan of silikoon vormpies.

Indien jy, soos ek, te haastig was en net met ‘n pan vol toffie opeindig klits dit net en kook nog so ‘n bietjie. Jy sal wel daarby uitkom.

Dadel koekies

Rice Crispies Dadel koekies

Hou aan om joueself te vertel jy maak hierdie ene omdat die dadels daarin gesond is sodat jy kan beter voel oor daardie een ete wat net uit lekkernye bestaan.

Bestanddele:

8 ons Rice Crispies. Dis nou 226.796 gram. Ek het 220g gebruik

1 pond dadels. Regtig? Die resep kom van ‘n ou tannie af. Dankie tog vir Google! Dit is 453.592g. Ek het gereken 450g werk goed. Onthou, ‘n resep is net ‘n riglyn…

1 pond suiker

3 eiers

¼ pond botter. Dit is 113.398g.

Klapper (opsioneel)

Metode:

Roer al die bestanddele (behalwe die Rice Crispies) goed saam vir 5 minute op stoof. Haal af wanneer dit begin kook en roer die Rice Crispies vinnig in. Strooi klapper onder-in ‘n pan en druk die mengsel plat. (‘n Stamper werk maar die beste hiervoor) Plaas in yskas vir ‘n rukkie en sny in blokkies.

2 thoughts on “Chillax net!

  1. Hoekom het vakansiehuisies nie skottelgoedwassers nie??? Daar is ook mos net 4 van als,so jy was aanhoudend…ek haat skottelgoed was!!
    Uitstekende beskrywing van ook ons vakansie…jy weet net hoe om ons mammas “tuis” te laat voel!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui