Pizza, in-eet of uiteet?….

Pizza, in-eet of uiteet?….

Dis alweer etenstyd. Alweer?! Waar is die tyd heen? Ons het dan net nou geeet, hoe kan die kinders dan weer honger wees? Ai, het ons in die dorp gebly het ek sommer pizza bestel. Maar dis nie altyd so maklik nie. En selfs al bly jy in die dorp; as jy op die 30ste van die maand nogsteeds vir jou foon sit en staar dat die kennis van betaling van jou salaris moet deurkom is kosmaak maar jou voorland…

Maar pizza is steeds nie ‘n slegte idee nie. Of jy nou in-eet of uiteet, pizza bly lekker! As jy uiteet is daar soveel opsies en elkeen het sy gunsteling. Ek gee regtig nie om waar ons pizza kry nie, ek juig net omdat ek nie kos hoef te maak nie en nóg bonus punte omdat ek nie skottelgoed hoef te was nie. Hier in my binneste doen ek ‘n “happy dance”. Ja, ek weet jy ken die gevoel; almal het sulke oomblikke al beteuel jy jouself na die beste van jou vermoëns in die publiek.

Eie pizza bou

Gewoonlik het pizza plekke ook die een of ander ding wat kinders fasineer. Domino’s het ‘n “dough show” waar jy sien hoe hul jou pizza bou. Pannarotti’s het hul wonderlike speelplekke, waar kinders hul gate uit geniet, terwyl ons as ouers met gemoedsrus en in vrede warm kos kan geniet. En dan is daar unieke klein plekkies wat hul eie flair het. Ons het onlangs by ‘n baie oulike plek op Umdloti se strand gestop, Tasca. Op die oog af lyk dit soos ‘n gewone pizza straat kafee waar jy ook kan sit. ‘n Paar stoele by tafeltjies en sambrele met golwe in die agtergrond. Tog te mooi. Maar hoe hou jy kinders tevrede op so ‘n pikante plekkie? Jy laat hulle hul eie pizza bou! Op ‘n houtbord bring die kelner vir die kinders elkeen hul eie basis met natuurlik die tamatiepasta en mozzarella kaas, plus 2 bolaag bestanddele van hul keuse. Die kinders het hul pizzas met oorgawe gebou, waarna die kelner dit kom haal en na die oond geneem het. 10 minute later kom die bord terug met hul gaar pizzas en ‘n blikkie koeldrank nog daarby ook. Dit was nou werklik ‘n wenner! Welgedaan Tasca! Gaan kyk gerus na hulle webtuiste by www.tascapizza.co.za of as jy jouself in Umdloti bevind, besoek hulle by 31 North Beach Road. Jy sal nie spyt wees nie!

Indien jy in-eet hoef jy ook nou nie te voel jy word ingedoen nie, want kom ons wees eerlik; om pizza te maak is baie minder werk as baie ander disse waarvoor die gesin kon vra! Net omdat jy nie ‘n ronde pizza pan het nie hoef jy jou nie te bekommer nie. Vierkantige pizza proe net dieselfde; in teendeel werk dit beter, want dit wat oorbly pas soveel makliker in ‘n kosblik.

Dries help

Ek het nog altyd die kinders betrek by die hele pizza makery. Terwyl ek die deeg maak kry hulle alles vir die bolaag gereed. Van worsies sny tot kaas rasper en om dit dan op die basis te pak bly vir hulle ‘n hoogtepunt. Ek het onlangs begin om vir hulle hul eie klein basisste te gee (steeds vierkantig) en elkeen kan die bolaag na willekeur pak. Vra hulle uit oor hul keuse, daar kom interessante dinge uit! Op ‘n onlangse pizzatjie het my seuntjie 4 stukkies vleis op die buitekante gepak Dit het homself, sy sussie, Mamma en Pappa verteenwoordig. In die middel van die 4 stukkies was nog ‘n stukkie gepak met kaas rondom dit. “en wie is die vleisie?” vra ek nuuskierig. “Dit is my baba boetie waarvoor ek bid” was sy antwoord. Nou ja, ek weet nie of sy pa daarvoor gaan val nie…

2017-11-26 10.45.01
Om pizza te maak hoef jy ook nie altyd hierdie of daardie bolaag te hê nie. Terwyl rooiworsies, hoender, bacon, soetrissies, uie, pynappel en sampioene die gewilde bestanddele is, hang dit maar van die tyd van die maand af wat in jou huis is. Die naweek se oorskiet braaivleis werk byvoorbeeld perfek! Ten tye van die pizza se oorsprong was dit natuurlik ‘n dis vir die armes. Dit was net as ‘n gewone platbrood geëet sonder enige iets daarop; eers veel later het die bakker Raffaele Esposito van Naples in Italië begin om bestanddele soos tamaties en kaas bo-op te sit en vandaar het die pizza ontwikkel tot die dis wat ons vandag ken.

Ek gebruik die volgende eenvoudige resep vir my basisse:

500ml koekmeel

2ml sout

5ml kitsgis – dit is so ‘n vermorsing. Wat doen mens dan nou met die res, aangesien die standaard kitsgis pakkies redelik meer as 5ml is? Ek gebruik die 7g pakkies wat ideaal is vir die broodmasjientjies. Daar is effe meer as 5ml in, maar steeds minder as in die standaard 10g pakkies. Ek gooi dan net so effe meer meel op gevoel in.

30 ml olyfolie – alhoewel ek dit ingooi voel dit nie vir my of dit iets beteken nie. Maar wie is ek om te stry?

300ml lou water – ek gebruik NOOIT al die water nie. Die storie word te pap dan is als vol deeg, siende dat die kinders geintereseerd raak in die spektakel van ‘n ma wat probeer om deeg van haar hande af te kry. Op die ou end is daar nog 2 pare klein handjies in die deeg en het ek regtig nodig om die prentjie verder te skets?

Meng al die bestanddele, rol uit tot die dikte van jou keuse. Plaas op ‘n gesmeerde pan / bord en pak jou bo-laag. Indien jy nie tamatiesmoor het nie werk tamatiesous net so goed. Bak vir 20 minute teen 180°C. As jy weereens vergeet het om die oond te voorverhit, bak dit net 10 minute langer.

As jy met jou hande in jou hare sit oor more se kosblikke (toemaar, nog net ‘n week vir hierdie jaar oor!) kan jy sirkels met ‘n glas uitdruk en gerasperde polony en kaas opsit. Die kinders en manlief geniet dit ewe veel in hul kosblikke.

Pizza gesiggies

Geniet jy en jou gesin ‘n lekker pizza? Stuur vir Regtig foto’s van julle pizza-pogings. Die foto wat die meeste deur ons lesers geniet word sal ‘n pizza-stel ter waarde van R295 wen! Sluitingsdatum is 4 Desember 2017 en die wenner sal op 9 Desember 2017 bekend gemaak word. Lekker bak & brou!

PizzaPans

One thought on “Pizza, in-eet of uiteet?….

  1. Ag daardie katjies is te kostelik,jy is so kreatief!! Ons tuisgemaakte pizza is die lekkerste,so ek stem vir pizza by die huis!!! Lag so lekker vir jou sê goed,wonderlik dat jy dit op “papier” kan vasvang!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui