Wasgoedbondeljies

Wasgoedbondeljies

‘n Vrou se plig….

Al ooit gewonder wat jou plig as vrou is? Ek sou daarvan gehou het as my plig ‘n dag in die kombuis behels het, met voete op die tafel & wyn in die hand, maar helaas… Is dit ‘n vrou se plig om die kinders groot te maak, die huis skoon te maak, haar man tevrede te hou of dit alles plus nog ‘n elle lange lys?

Daar is verskeie opinies oor wat ‘n vrou se plig is. Daar is jou man se opinie. Dit is sy opinie en jy kan dit beïnvloed, solank jy dit op so ‘n manier bewerkstellig dat hy dink dat dit sy idee was.

Dan is daar jou skoonma se opinie en afhangende van hoe haar skoonma haar hanteer het, varieer haar opinie ook oor jou. Ek weet van een spesifieke skoonma wat haar skoondogter goed laat verstaan het dat sy haar plig as vrou versuim as gevolg van ‘n eenvoudige glips; sy het nie besef dat dit Woensdag is nie en Woensdae is haar beurt om vir die manne kos in te pak lande toe. Regtig? Dis nou nie asof hulle glad nie kos gekry het nie. Dit was net nie saamgestuur nie, maar later afgelewer.

Daar is natuurlik ook die opinie van mense wat nog nooit ‘n dag in ‘n vrou se skoene deurgebring het nie. In Mei 1955 verskyn die “Good House Wife’s Guide” in die tydskrif “Housekeeping Monthly” oor hoe ‘n goeie vrou haar behoort te gedra.

Wifes guide

“Be happy to see him.” Maar natuurlik! Ek is elke aand in ekstase om hom te sien! Hy moet kom help om die klein verwoestende army in ons huis te beheer! Ek is as flou gestoei, gesoebat en gesmeek om hulle in die bad te kry.

“Children are little treasures & he would like to see them playing the part. Minimize all noise. Try to encourage the children to be quiet.” Wag, wat? Ek was dan nou net bly om hom te sien, omdat hy my kan help orde skep!

“Have dinner ready” Ek probeer. Ek probeer ook om die groendakkies in die proses te vermy.

“Your goal: Try to make sure your home is a place of peace, order & tranquillity where your husband can renew himself in body & spirit.” Waar kan die vrou so ‘n plek kry?

“Make him comfortable. Have him lean back in a comfortable chair or have him down in the bedroom.” En wat van daardie rak wat ek verlede maand al gevra het hy moet opsit?

“Don’t complain if he is late home for dinner or even if he stays out all night. Count this as a minor compared to what he might have gone through that day.” Ekskuus? Moes hy dinosaurs jag of iets? Hoekom moes ek dan aandete op ‘n spesifieke tyd gereed hê?

Die res van die lagwekkende, verregaande punte kan gesien word by https://www.littlethings.com/1950s-good-housewife-guide/

My persoonlike gevoel is dat my plig as vrou behels dat my gesin funksioneer. Eerstens moet ek myself aan Bybelse standaarde meet; ek verwys gereeld terug na Efesiërs 5. Verder is dit nie nodig vir reënboog spaghetti vir die kinders of aandete wat gereed is wanneer manlief tuiskom nie. As die kinders se magies vol is met kos wat liefdevol voorberei is, al is dit soms effens “skerp gebraai” soos my ouma altyd sou sê. As manlief graag wíl huistoe kom en nie heelnag uitbly as gevolg van sy vreeslike dag daar buite in die wilde wêreld nie, het jy jou plig as vrou nagekom.

Wasgoedbondeltjies is nie net een van daardie pligte waaroor jy jou hare uit jou kop wil trek nie. Dit is ook ‘n smaaklike maaltyd. Volgens Huisgenoot se Wenresepte “Heerlik om aan te peusel of selfs om as ligte ete voor te sit.” Ook perfek vir Woensdag se kosblikke 😉 en saam met ‘n slaai werk dit fantasties. Die kinders kan ook lag-lag help met die voorbereiding. 😊

Wasgoedbondeljies

Vulsel

12.5ml olie

1 ui, gekap

500g maalvleis

50ml tamatiepuree

Sout

Peper

Basiliekruid

Deeg

720g (6x 250ml) koekmeelblom

10ml bakpoeier

5ml sout

250g (275 ml) margarine

2 ekstra-groot eiers

150ml melk

Heel naeltjies

Olie vir diepvetbraai

Verhit die olie en soteer die ui daarin tot sag. Voeg die maalvleis bietjie vir bietjie by en braai tot gaar en effens bruin. Voeg die tamatiepuree by en geur na smaak met sout, peper en basiliekruid. Hou eenkant.

Sif die droë bestanddele saam en vryf die margarine met jou vingerpunte in tot goed gemeng. Klits die eiers effens en voeg by die mengsel. Voeg net genoeg melk by om ‘n hanteerbare deeg te maak. Rol die deeg ongeveer 3mm dik uit en sny in vierkante. (Jy kan die vierkante in die grootte van jou keuse sny – ek hou van sowat 5cm x 5cm. Nie dat ek dit al ooit gemeet het nie. Hoe grootter ek dit maak, hoe makliker flop dit.)

Vou

Skep ‘n lepel maalvleis op elke vierkant en vou die 4 punte na mekaar toe. (Ek vind persoonlik dat dit beter werk as die maalvleis al redelik afgekoel het.) Druk die ente stewig vas en steek ‘n naeltjie deur die punt. (Baie stewig, anders trek die ding oop en dan het jy net ‘n wasgoedmandjie en nie ‘n bondeltjie nie)

Verhit genoeg olie in ‘n kastrol en braai die wasgoedbondeltjies daarin tot mooi bruin aan die buitekant en totdat die deeg gaar is. Probeer verhoed dat die bondeltjies afsak tot op die bodem, want dan sal hulle brand. Dreineer op handdoekpapier.

Lewer ongeveer 24 – 30 bondeltjies.

One thought on “Wasgoedbondeljies

  1. Jy doen soveel moeite met etes,ek is seker jou man hardloop huis toe!!
    Baie interessant…ek dink ons sou in 1955 ou jong nooiens gewees het😄

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui