Ken jy die wet…

Ken jy die wet…

Wat die wet sê

Ek luister hierdie week na die nuus en hoor dat dit onwettig verklaar is om lyfstraf op ‘n kind toe te dien. Enigsins. Dus mag my kind nie net meer nie pakslae kry by die skool nie, maar ook nie meer by die huis nie. Regtig? Hulle dink seker daar is baie ouers met bitter baie selfbeheersing in daar buite. Dit verg alreeds genoeg selfbeheersing om hulle nie aan hul ore op te hang nie, wat nog te sê van ‘n raps op die boud? Ek meen, ‘n pakslae op sy tyd is immers soos brood en konfyt, dit is beslis nie ‘n ouvrou storie nie!

In die lig van hierdie nuus deel ek graag ‘n paar ander punte wat onwettig is:

  1. Dit is onwettig om jou kinders te vermoor. Al voel dit soms soos die enigste uitweg.
  2. Dit is onwettig om jou kinders te verkoop. Ek weet die uitsig van rus en vrede met die ekstra geldjie daarby klink aanloklik, maar mensehandel is globaal onwettig.
  3. Jy mag jou kind nie laat werk nie – ek meen nou nie hy mag nie help opruim in en om die huis of geringe takies verrig nie. Ek meen nou hulle mag nie wérk nie. Haha, so asof hul sal kan werk, hulle kan dan nie eers hul kamers vir ‘n uur aan die kant hou nie of hul borde na ete in die wasbak sit nie.
  4. Kinders het ook die reg op ‘n veilige skoon tuiste – ek hoop dit geld vir ouers ook? Lego blokkies in die gang is beslis nie veilig nie. Veral nie in die middel van die nag nie.
  5. Jy moet jou kind voer, selfs al is jy hoe raadop vir idees en regtig nie lus om kos te maak nie. Volgens die kinderregte van Suid-Afrika het kinders die reg op daardie dinge wat hul benodig om te oorleef. Kos is een van daardie dinge…

‘n Vinnige, flop-vrye resep wat die kinders nie net as ete geniet nie, maar ook in hul kosblikke is kitsvetkoek.

Bestanddele:

2 koppies Meel

2 ml Sout

15ml Bakpoeier

300ml lou melk

Olie vir diepbraai

Skep lepels vol in warm olie. Doop die lepel na elke skep in water, dit help dat die deeg nie daaraan vassit nie. Die olie moet ook nie te warm wees nie, anders gaan die vetkoek brand aan die buitekant sonder om gaar te word aan die binnekant. Wanneer jy sien dat hy so ‘n knop aan die een kant rys weet jy jou olie is te warm:

Vetkoek

Die resep lewer sowat 12 kleinerige vetkoekies. Bedien met maalvleis, kaas, stroop, konfyt, marmite of selfs net botter. Makik, vinnig en smaaklik.

Smaaklike vetkoek

3 thoughts on “Ken jy die wet…

  1. Ek het nou lekker gelag…wat wag nog alles op my??? Gelukkig het ons vir jou,so die voer is darem nie meer ‘n probleem nie😉
    Ek is mal oor jou blog,sien elkekeer uit na die volgende ene!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui