In die siekeboeg

In die siekeboeg

Dis sulke regte woestyn weer. Bedags kan jy sweer die hekke van die hel is net hier oorkant die bult en snags is jy bang jy word ‘n rondloper ysbeer se volgende prooi. Dis maar hoe dit gaan met die weersverandering die tyd van die jaar. Wat ook hiermee gepaard gaan is daardie lekker simpel verkoues wat jou net nie uitlos nie…

Nou ons almal weet hoe dit gaan; eers word die jongste siek en dit werk so stelselmatig op na die oudste, wat beteken dis minstens 3 weke van “Mammaaaaa, ek voel nie lekker nie.” Eers kry jy die ou bloedjies jammer, want jy kan sien hul is regtig siek. Die koors breek net nie, hul is naar, magies pyn en ogies hang sommer so. So na dag 3 of 4 kan jy sien hul begin die storie nou geniet, want dan pyn enige ding kwansuis. Ja, een van myne se hare was ook al seer. Wat hul ook nie sal uitdink vir ‘n bietjie meer moederliefde nie – tot my frustrasie met tye. Sodra die kinders dan die hele ding oorleef het word manlief siek en is dit nodig om dáároor uit te brei? Dan wens jy dat die kinders maar eerder siek gebly het.

Siek kinders

Hierdie jaar was niks anders nie, wel, soortvan. Nadat ek die kinders nie self gesond kon kry nie moes ek maar noodgedwonge dokter toe gaan. Beide het middeloor ontsteking. Ekskuus, wat? Regtig? As iemand wat nog nooit oorpyn gehad het nie is dit nou vir my ‘n vreemde ding. Siestog, ek voel skoon skuldig! Volgens die dokter is hul regtig baie siek! En ek bly dink dis net ‘n lastige verkoue. Ek skaam my dood! Maar ek hou my pose. Hul word afgeboek en ek kry 3 dae menslikheidsverlof. Ek dreig hul met hospitaal sake en maak ‘n allervreeslike storie op oor hoe aaklig mens daar behandel moet word, net om hul in die bed te hou. Hier in my binneste dink ek: “as jy gesond genoeg is om met jou boetie / sussie te baklei kan jy werklik ook nie so siek wees nie.” maar ek vat nou maar die dokter se woord daarvoor. Nou die ergste van ‘n siek kind is dat jy hom moet kry om te eet, sodat jy daardie aaklige medisyne in sy keel kan afwurg. Maar o wee, dit kos baie motivering. ‘n Mens moet ekstra kreatief wees om daardie eetlus aan te wakker. Prentjies motiveer hulle! Backactor kasies en vis en skyfies sonnetjies met feta wolkies het gelukkig die ding gedoen!

Son

Kasie

Op dag drie sweer ek hul die dood voor die oë dat hul absoluut in die bed moét bly, want die volgende dag is dit terug skool toe en ek moet terug werk toe. Tot my verbasing stem altwee in sonder om te boe of te baa. Ek kon my geluk nie glo nie, aangesien hul altwee darem al regtig baie beter lyk. Natuurlik besluit ek om saam te dut…

Twee ure later word ek wakker en voel sommer aaklig! Ek besluit dat dit my verbeelding is en meet die kinders se koors. Nee wat, hul lyk altwee goed. Maar ék voel sleg. Besonders sleg. My kop pyn, my voete voel soos naalde en spelde, ek is naar en gedisoriënteerd. Ek besluit om my eie koors te meet; 41°C Regtig?! Hoe het dit gebeur? Stelselmatig word die kinders wakker en makeer natuurlik niks meer nie! En ek voel lus om die naaste veearts te bel sodat hy my net uit my verdriet kan kom verlos!

Nog ‘n uur later sit ek self in die dokter se spreekkamer. Die diagnose? Brongitis. Sy wil my opneem, maar hoe dan nou gemaak met die kinders? My man moet werk, my ma is ver en my pa self ook siek. Siestog, ek simpatiseer met haar. Ek paai toe nou maar mooi en belowe om myself op te pas. Sy boek my vir ‘n week af . Ek weet nie mooi hoe ek dit gaan maak om na myself en die kinders te kyk nie, want as daar nou een mens is wat haarself meer jammer kry tydens siekte as enige man is dit ek. Ja, ek is nie trots daarop nie, maar dis waar. Ag ek wil net iemand hê om my op te pas. Ek pas dan almal so mooi op as hulle siek is. Gelukkig het ek ‘n wonderlike man, wat so mooi na my kyk. Dis nou wanneer hy uiteindelik tuis kom van die werk af.

Tydens die week siek onthou ek sulke stukke en stukke weer nie. Ek het meestal geslaap en wonderbaarlik het die kinders hulself besig gehou en gedra. Die een oomblik wat ek wel onthou is toe my vyfjarige seuntie agter my kom lê, my rug vryf en saggies fluister: “Toemaar Mamma, ek is nou hier.” Wat ‘n kosbare oomblik!!

One thought on “In die siekeboeg

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui