Wat my ma my geleer het…

Wat my ma my geleer het…

Wat maak jou wie jy is? Wie het jou geleer om jou bed elke oggend op te maak (óf nie) Hoekom wil jy stuipe kry (óf nie) wanneer jou kinders se speelgoed die gang vol lê. En waarom kan jy nie rus vir jou siel kry as absoluut al die gloeilampe in jou huis nie warm white is nie (óf dan nie). Of is jy gepla oor die rante van daardie koek wat nog aan die pan se rant vassit (óf dan nou nie). Dis al hierdie klein goedjies wat ons maak wie ons is en of ons nou bewus is daarvan of nie, dit is by ons ouers aangeleer.

My ma het my byvoorbeeld geleer dat plaasjapies nie in hul slaapklere mag rondloop nie. Wanneer jy wakker word moet jy onmiddelik aantrek, jy mag nie uit jou kamer kom met jou slaapklere aan nie. Sy het my ook nie ‘n taak onafgehandel laat los nie – ek het as 5 jarige eendag besluit om my kas reg te pak, want ek sien haar regpak. Uiteraard was sy lank voor my klaar met haar taak en ek het vinnig verveeld geraak met die storie. Sy het my terug geneem kamer toe en verduidelik dat wanneer ek met iets begin ek die taak moet voltooi; met ‘n gesanik en gekners van tande het dit my die heeldag (of so het dit gevoel) geneem om al my speelgoed in die eenvoudige eendeur kassie terug te pak. Vandag is hierdie net 2 van die vele dinge wat ek by my ma geleer het, dinge wat my definieer. Ek probeer ook hierdie dinge vir my kinders oordra. Natuurlik maniere ook, maar dit voel nie aldag of ek daardie oorlog wen nie. Ek is seker enige ma verstaan die gevoel…

Nog iets wat my ma my met baie geduld geleer het was om kos te maak. Ons het almal daardie een resep wat ons by ons ma’s gekry het. Daardie eerste resep wat jy ooit gevolg het en oor en oor gemaak het totdat jy dit vervolmaak het. Vir my was daardie resep piesangbrood. Vandag is dit ook ‘n groot gunsteling in ons huis. My kinders mis nie piesangs in die supermark nie, want “wanneer kan ons weer piesangbrood bak Mamma??” Nou, ek is nie ‘n bobaas bakster nie, maar ek bak vir my gesin met liefde. Net soos wat my ma tot vandag toe vir ons met liefde bak & brou en ek pas dit ook toe op my gesin. Soos wat sy my en my broers geleer het, leer ek ook my kinders om hierdie somtyds perfekte, somtyds krom en somtyds platgevalde of half gebrande kos in liefde te ontvang en waardeer. Dit klink nou so bietjie soos ‘n feeverhaal – hul ontvang nie alles altyd in vrede en liefde nie. Soms is dit met ‘n gejuig en geskreeu, totale chaos en ‘n geforseerde “dankie”. Maar omdat ek nou terugkyk en weet dat alles van my ma af met liefde gekom het en dat ek dit so baie waardeer, hou ek vol met wat ek doen. Ek weet hul sal dit eendag baie meer waardeer as nou! Hul sal in hul harte weet hul is wie hul is te danke aan wat hul by hul ma geleer het, net soos ek vandag is. Wat het jou ma jou geleer wat jy graag aan jou kinders wil oordra?

Hierdie piesangbrood is maklik om te maak en nie net perfek vir ‘n namiddag happie nie, maar ook vir die kinders se kosblikke:
Piesangbrood
Bestandele:
½ koppie botter
1 koppie suiker
2 eiers
Vanielje geursel
2 koppie koekmeel
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel sout
1 koppie melk
3 piesangs, fyngedruk. Hoe ryper hoe beter! Wanneer die skil al so swart is, is hulle perfek!

Piesang

Metode:
1. Voorverhit die oond tot 180°C
2. Klits die suiker & botter tot romerig. My ma het nooit die geduld gehad hiervoor nie, sy het altyd die eiers en vanielje geursel ook reeds bygegooi en dan geklits. Net soos ek vandag doen.
3. Voeg die koekmeel, bakpoeier en sout by. As jy nou professionele bakster is sal jy die koekmeel eers sif, maar my ma het nooit nie en haar piesangbrood is die lekkerste wat ek nog ooit geproe het. Dus maak ek nie ekstra skottelgoed deur met ‘n sif te sukkel nie.
4. Voeg die melk by en meng. As jy nie genoeg melk in die huis het nie, gebruik ‘n ¼ koppie kookmelk – dit werk net so goed!
5. Voeg die fyngedrukte piesangs by en meng goed. As die kinders dit gemeng het, roer dit maar net eenkeer mooi deur. Hul is geneig om nie die piesangs mooi deur te meng nie.
6. Laat die kinders waspapier uitsny om in die klein broodpannetjie se bodem te sit. Dit maak die uithaalproses soveel makliker!

20170925_103641_
7. Nou volgens my ma se resep moet die storie 20 minute gebak word en ek is seker dis hoe ek dit onthou. Maar vandag bak ek dit sowat 1 uur voordat dit gereed is. Moet ook nou nie dink jy gaan hom 20 minute in die oond los, die oond dan afskakel en die broodjie binne los nie. Dit werk nie. Been there, done that. Hy word droog.
8. Laat afkoel en geniet!

Piesangbrood met botter

20170925_143217_

3 thoughts on “Wat my ma my geleer het…

  1. Dis so mooi om te lees oor die dinge wat jou ma jou geleer het!! My resep is ook my ma se piesangbrood…amper presies soos joune,net geen melk en 4-6 piesangs. Bak 1h😉

  2. Wyse woorde vir enige moeë Mamma… uithou en aanhou, want
    “Ek weet hul sal dit eendag baie meer waardeer as nou!”
    Baie oulike stuk!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui