Feestelike Vrydae!

Feestelike Vrydae!

Vrydae aande is feestyd! Ons vier die naweek, die vooruitsig van geen skool die volgende dag, laataand TV kyk en – vir ons as ouers – die vooruitsig om moontlik bietjie later as half 6 te kan slaap. Ai, dis lekker om te hoop… Maar nietemin, Vrydae aande is feestyd!

Die kinders kan tent opslaan – dit behels al my sitkamer meubels in fort posisie rondgeskuif, met ‘n laken, of twee, of drie of alles in jou kas afhangende hoe streng jy toesig hou. Natuurlik moet daar ‘n matras in die tent wees, want waar gaan ons dan slaap? Die rede waarom ek hierdie chaotiese sirkus toelaat? Omdat die kinders dan BETER SLAAP! Ja, krismisbeddens is die antwoord! Wanneer sussie wakker word hoef sy haarself nie wakker te skree uit haar kamer uit vir ons om haar te hoor nie, sy draai om, besef sy is naby ons en slaap rustig verder. Boetie is nog te klein om te moan as jy snuggle, so jy kan daardie oomblik koester. Niemand roei en stoei en klou om lewe en dood vir ‘n stukkie van julle standaard dubbelbed nie, niemand val deur die nag af of word wakker met ‘n moeë lyf nie. Almal slaap lekker, snoesig en warm! Dit is ‘n wenresep vir bietjie later as gewoonlik slaap! En met sulke sukses ruim ek met ‘n lied in my hart die volgende oggend op! Of volgende week. Ja, ‘n mens kan vir ‘n hele week in ‘n krismisbed slaap.

Vrydae aande

En natuurlik kies die kinders die TV program. Dus jou voorland Tao Tao, Paw Patrol of Jake & the Neverland pirates totdat hulle aan die slaap raak. Op hierdie stadium kan ontspan, want jy hoef hul nie bed toe te dra nie – yeay – en besluit of jy die tv wil afskakel en self ook slaap of ‘n program van jou keuse wil kyk. Dis nou as jy aan ‘n nie-annimasie program kan dink…
Vrydae aande kos is natuurlik niks anders as ‘n snack bord nie. Dit is deel van die feestelikheid omdat almal ‘n handjie kan bysit. Dit beproef natuurlik jou geduld ook, maar byt vas; jou beloning hiervoor is hoogswaarskynlik ‘n aand van deur slaap.
Die volgende verskyn gewoonlik op ons snack bord. Nou nie noodwendig alles op een slag nie…

Popcorn – in ons huis is Pappa die beste popcorn maker en dus sy verantwoordelikheid. Laat die kinders oorgooi wat hul ookal wil. Sout, Aromat of versiersuiker.

Cocktail worsies – in die oond gebak, nie gebraai nie.

Fish nuggets – hierdie werk nie so lekker om in die oond te bak nie. Dus diepbraai ek dit.

Frikkadelle – wanneer jy frikadelle vir aandete maak, maak altyd so ‘n paar kleintjies ekstra en vries vir geleenthede soos hierdie. Ek sal ‘n volgende keer meer uitbrei.

Soutkoekies met roomkaas, tamatie en ‘n vars basil blaartjie,
Wortelstokkies, appel wiggies, lemoene, druiwe – leer jou kind van kleins af om entoesiasties te wees oor vars kosse.

Southappie vulsel – Dit is ‘n mengsel van die volgende wat op soutkoekies geplaas word:
1 koppie cheddar kaas
50ml mayonnaise
25ml blatjang
25ml gerasperde ui
25ml fyn gekapte pietersielie

Kaasblokkies

Biltong

Droewors

Gekookte muis eiers – Dit is hardgekookte eiers met ‘n paar spaghetti stokkies vir snorbaarde en hammetjies vir ore. Vir die ogies dip ek ‘n spaghetti stokkie in Marmite en steek die ogies in.

Muis eiers

Diepgebraaide brie – Sny brie in kwarte. Bedek dit eers met koekmeel, daarna in geklitste eier en uiteindelik broodkrummels. Diepbraai. Dit is soveel lekkerder as wat dit klink!

Roomkaas en soet chilli sous

Ham

Spring rolls en samoosas – moet nou nie laf wees nie, ek weet nie hoe om die goed te maak nie. Ek koop dit! 😊

Nachos
Bestanddele:
1 pak Dorito’s chips
250ml Roomkaas
Tamatie paste na smaak
250ml gerasperde cheddar kaas
Guacamole (fyn avokadopeer)

Metode:
Gooi die chips in ‘n oondvaste bak.
Skep die tamatie paste bo-oor.
Skep die kaas in hompe bo-oor.
Strooi die cheddar kaas bo-oor .
Bak totdat die kaas gesmelt is.
Skep die vars guacamole bo-op en bedien.

Roosmaryn skons
Bestanddele:
2k koekmeelblom
15ml bakpoeier
2ml sout
65 ml botter
1 eier, geklits
125ml melk
5ml gedroogte roosmaryn

Metode:
Spuit ‘n bakplaat met Spray & Cook
Voorverhit die oond tot 220°C
Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter met jou vingerpunte in
Voeg die eier, melk en roosmaryn by en meng tot ‘n sagte deeg.
Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide blad en druk sirkels van omtrent 2cm dikte uit.
Bak vir ongeveer 10 minute tot goudkleurig.

IMG-20170829-WA0005_

Muffins – ek gebruik sommer die ready mix pakke!

Skop jou skoene uit, maak jou hare los, knyp jou oë toe en vergeet van die deurmekaar huis. Geniet die aand, jou kinders is net een maal klein so laat hul verbeeldings oorneem!

One thought on “Feestelike Vrydae!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui