Pannekoek Aandete

Pannekoek Aandete

As die VLU tannies pannekoek voor jou plaaslike Pick ‘n Pay bak dan gaan een van die volgende twee gedagtes deur elke ma se kop: “Ek moet my uit die voete maak! Die kinders gaan hul nou raaksien en ek het nie kontant by my nie, dan gaan hul aandring op pannekoek vir aandete!” of “Fantasties, ek koop sommer 3 dosyn, die kinders gaan in elkgeval daarop aandring vir aandete”. Die feit bly staan; kinders – en grootmense – is mal oor pannekoek! Maar soveel ma’s se hare staan regop as hul hoor hul moet pannekoek bak! Dis dan alewig ‘n flop?! Ek het egter die maklikste resep ooit wat so kindervriendelik is, jy sal naderhand hoop dat die kinders vir pannekoek vra. In ons huis is pannekoek bak, familietyd.

Hierdie resep maak letterlik net 7 pannekoeke, maar verdubbel en trippel maklik! Moet nooit dink jy is oulik en gooi voedselkleursel hier in nie – die deeg lyk vreeslik oulik, maar die gaar produk minder oulik. Been there, done that. Omdat dit so ‘n eenvoudige resep is, met relatiewe min afmeetwerk, kan die kinders baie maklik help.

Gebruik ‘n 1/4k maatkoppie, dan is dit maklik om vir die kinders te verduidelik dat daar 2 of 3 van die afmeting gebruik moet word vir ‘n spesifieke bestanddeel. Soos die kinders ouer word en die konsepte van halwes en kwarte begin leer is hierdie ook die ideale geleentheid om op ‘n speelse manier te leer. Omdat die eiers ook eerste ingebreek word, kan die kinders daardie vaardigheid ook oefen en jy kan die doppe maklik uithaal voordat die res van die bestanddele bygevoeg word.

Daar is baie oulike goed op die mark wat die hele geleentheid nog meer pret maak – my pan se bodem het ‘n crêpe resep op met ‘n prentjie. Die kinders glo dat die prentjie wys “Mamma maak die deeg en Pappa bak die pannekoek” En hul hou ons daarby, ons kan mos nou nie van die resep afwyk nie!

Pannekoek pan

Pannekoek
Bestanddele:
2 eiers
Knypie sout
1/2k melk
3/4k meelblom
1/2k water
1eetl olie

Metode:
Klits die eiers, sout & melk saam. As jou 2-jarige help vind sy dalk dat dit nie eers nodig is vir ‘n klitser nie – sy doen dit met die hand! Want klitsers is vir sissies… Voeg die meel bietjiesgewys by. Roer die water en olie by. Skep soplepels vol in ‘n warm pan en bak.

IMG-20170809

Die opwindende deel van pannekoek is dat jy vulsels daarvoor kan maak. Want nie almal beskou ‘n suiker en kaneel pannekoek as ‘n maaltyd nie – alhoewel dit in my huis ‘n moet is vir ten miste een! Vir vulsels kan jy gebruik net waarvan die kinders hou! Maalvleis gaargemaak volgens jou voorkeur is vullend en gekookte kondensmelk is ‘n wenner! Ek deel graag drie vulsels wat altyd ‘n treffer in my huis is:

Tuna:
1 blikkie tuna
½ ui, fyn genoeg gekap (sodat die kinders nie agterkom dis uie nie.)
1 agurkie, fyngekap (opsioneel, net omdat manlief daarvan hou)
2 lepels vol maaskaas
2 lepels vol mayonnaise
Paar druppels suurlemoensap
Pietersielie na smaak

Spinasie & Feta:
½ ui, fyngekap
125g sampioene – laat die kinders dit opsny. Dit laat hul tog vreeslik belangrik en bekwaam voel. Maak net seker hul het nie ‘n vlymskerp mes nie.
2 hande vol fyngekapte spinasieblare
1 feta ring
1 koppie Room
Aromat na smaak
Swartpeper na smaak

Metode:
Braai die uie en sampioene in ‘n bietjie botter tot sag.
Voeg die spinasieblare en braai liggies.
Voeg die room by en kook totdat dit dik raak.
Voeg die gekrummelde feta kaas en geurmiddels by.
Pasop, die vulsel kan baie vinnig te sout proe.

Melktert vulsel:
Hierdie outjie is bietjie meer moeite, maar lekkerder as wat ek verwag het (dankie Maroela Media) dit het selfs my skeptiese man oorgewen.

1 blikkie kondensmelk
3 koppies melk
¼ koppie mielieblom
2 eiers
Knypie sout
1 teelepel vanilla geursel
2 eetlepels botter
Kaneelsuiker

Metode:
Voeg die kondensmelk en twee van die drie koppies melk in ‘n kastrol
Meng die res van die melk met mielieblom en voeg by die melk in kastrol sodra melk begin warm word.
Wanneer die beslag begin dik raak voeg die eiers by.
Hou aan roer.
Voeg sout, vanilla en botter by.
Roer goed en laat bietjie staan om verder te verdik.
Skep lepelsvol van die melktertvulsel in die pannekoek en rol op.
Strooi kaneelsuiker oor.

How to roll a Spring Rolls

Vou die pannekoeke soos springrolls toe, dit mors baie minder! Hierdie pannekoeke is nie net ideaal vir aandete nie, maar ook vir more se kosblikke. As jy ‘n klomp mense oorkry sit die pannekoeke in ‘n stapel voor met elke vulsel apart in ‘n bakkie en laat elke gas sy eie pannekoek bou. Die kinders sal veral ingenome wees daarmee. Maklik en moeite-vry, met ‘n bietjie teater daarby; wie sal dit kan weerstaan?

IMG-20170810

2 thoughts on “Pannekoek Aandete

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui