Welkom in my wêreld!

Welkom in my wêreld!

Ek ontsnap van die berge wasgoed en die oorlog wat in die gang gevoer word – die kinders breek weer vandag die huis tot op sy fondament af! Suutjies trek ek die badkamer se deur toe vir ‘n kort oomblik van stilte. Dis net ‘n kwessie van tyd voordat die kinders besef dat ek my pos verlaat het…

Ek loer vining wat op Facebook aangaan en heel eerste sien ek ‘n ou varsity vriendin se dogtertjie het hierdie week een jaar oud geword en hul het vir haar ‘n partytjie gehou. “Ag moeder” dink ek, die vrou het nog altyd goeie idees gehad, kom ek gaan kyk! My kreatiwiteit op my dogtertjie se eerste verjaarsdag verlede jaar het sover soos ‘n cupcake met ‘n kers in gestrek. Dis reg ja, ‘n kers. Soos die tipe waarmee jou ouma en oupa sou opsit. Omdat ek nooit besef het dat hier nie verjaarsdag kersies in die huis is nie…

Ek maak die foto’s oop – Is dit nou die regte link? Hierdie lyk dan soos ‘n troue? Regtig? Daar is tafelversierings & koeke en cupcakes en fotograwe en tafelplasings en blomme en en en! REGTIG? Ek besef nie eers dat daar nie verjaarsdag kersies in my huis is nie en jy kry ‘n events organizer vir jou kind se eerste verjaarsdag? My versierskuiker skif en word pap en ek gooi gelatien in en flop die hele storie so ver dat my hond dit nie eers wil eet nie en hier staan so 3 laag storie te mooi vir woorde! Each to his own natuurlik, maar REGTIG? Dit lyk soos ‘n sprokies verhaal, onwerklik. Wie kry dit reg? Duidelik nie ek nie…

Volgende storie; kan nie glo ek mors my kosbare 2 minute van relatiewe stilte hierop nie! Ek voel nou sommer skaam oor my onbekwaamheid. Aaaah, iemand het ‘n link geshare van oulike kosse vir kinders. Ek sal moet kyk! Die kinders raak moeg vir visvingers en mash…

Wat is die? Dis oulik, piesangs gedip in sjokolade met so oulike gesiggie daarop geteken. Dit lyk soos ‘n pikkewyn! En plaatkoekies met aarbei skyfies wat reg rondop gepak is en ‘n gesiggie gemaak van wat lyk soos piesangs en sjokolade. Dis oulik, my kinders sal mal daaroor wees! Maar regtig? REGTIG? Wie het tyd om nou die aarbeie so te loop sny? En dan pak? En dan gesiggies op teken? Teen die tyd wat ek die tweede aarbei optel het die kinders al lankal die eerste een verorber. Ai die kinders van my (Dries 5 jaar en Alta 2 jaar) is alewig so gretig om te help in die kombuis. Ek kan al sien hoe of ek of een van hulle of al 3 van ons beseer word soos hul wil help aarbeie sny en ek probeer hul eers keer, daarna sal ek toegee en hul laat probeer. Elkeen natuurlik met sy eie snybord en mes, want anders sal hul baklei oor wie wat doen. Kort voor lank is alles taai en halfpad gehap en geproe en gelek. Aarbeie op die tafel, vloer en in hul skoene. Dis skottelgoed, wasgoed, vloere mop, hare was en en en en en REGTIG?? Wie kan dit uithou? kalmeerpilletjie drink. Wag wag nou, dis nog net ‘n gedagte, dit het nog nie gebeur nie. Wie dink sulke idiliese goed uit? Nog meer, wie doen dit regtig? Kom nou, in die regte lewe?

Mammaaaaaaa! Okay, stilte is verby. Nou weer tyd vir die regte lewe. Aandete… Kom ons probeer iets wat werk. Soos in REGTIG werk. In ‘n regte lewe, sonder dat jy met ‘n ontwikkelende hoofpyn moet vra REGTIG?

Dit is waaroor dit alles gaan. Regte goed, want so graag soos ons almal ons drome wil droom, memories op FB wil share van 10 jaar terug toe ons nog maer was en nog daar was, moet ons die realiteit in die gesig staar; die kinders moet kos kry. Regte kos. Voedsame kos. Maar ook kos wat pret is.

Ek wil jul wys hoe om dit te doen op ‘n manier wat werk . Regtig werk, want ek het dit beproef. En glo my, as ek dit kan doen, KAN jy! Soms raak ek die pad byster, maar ek bid voordurend vir moed en geduld. En op ‘n wonderbaarlike manier lyk dit of ek dit regkry. Regtig!

Stap die pad saam met my en doen en leer dinge wat regtig werk, want ons tyd is te kosbaar om oor dinge te droom wat ons weet nooit regtig gaan gebeur nie!

Dit lyk nie baie opwindend nie, maar wees kreatief! Skep dit in die bord en pak ‘n groenslaai rondom dit. Bou ‘n boom of ‘n blomtuin. Wees entoesiasties en jou kind sal outomaties ook opgewonde wees om dit te eet!

Ek sien uit om my ervarings met julle te deel!

Vanaand se aandete is Tuna gereg:

Bestanddele:

2 blikkies Tuna

1 pak Simba skyfies

2 eiers

Witsous – ek weet nie hoeveel nie. Soveel soos jy gemaak kry om oor die kos te gooi voordat die kinders al die skyfies opeet.

Gerasperde kaas

Metode:

Laat die kinders die eiers in ‘n bakkie eenkant breek – hul konsentreer nog lekker hard, so jy het vinnig tyd om die blikkies tuna oop te sny en te dreineer. Druk die skyfies fyn en meng met die tuna.

Verwyder al die doppe van die gebreekte eiers, klits liggies en meng saam met die tuna & skyfies. Meng die witsous deur en strooi die kaas bo-oor. As daar enige kaas oorgebly het. Bak teen 180 grade Celcius vir 20 minute. As jy vergeet het om die oond te voorverhit, maak dit 30 min.

Dit is ‘n baie diverse gereg, gooi by waarvoor jy lus kry of waarvan die kinders hou. Enige iets vanaf ertjies en gaar pasta tot geblikte mielies en soetrissie of slefs sampioene en uie. Die moontlikhede is eindeloos!

6 thoughts on “Welkom in my wêreld!

    1. Baie dankie vir al die positiewe terugvoer! Hou die spasie dop, hier volg nog baie staaltjies en pret resepte! Laat weet ons gerus as jul enige voirstelle het?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui